POSTED BY Steven Sass on 20:20 under


26 Augustus 2012 Patensie
Hoop, veiligheid, vreugde en liefde deur die opstanding van Jesus
1 Petrus 1:3-9
Hierdie brief is waarskynlik rondom 65nC geskryf. Dit was ‘n moeilike en ontstuimige tyd. Nero was toe keiser van die Romeinse Ryk, en dit was juis in daardie jare dat hy die Christene met alle mag en geweld vervolg het.

Die donker wolke van hierdie onderdrukking het nog swaar gehang en die vraag was wat die toekoms tog sal inhou. Soos te wagte, was daar nie baie optimisme oor die die toekoms nie.

Hierdie brief word gerig aan gelowiges in Wes-Asië en dis na hulle na wie daar in 1:1 verwys word as die vreemdelinge. Dit verwys na vreemdelingskap op twee vlakke. Op politieke vlak was hulle nie  burgers van die Romeinse Ryk nie en was dus tweedeklas burgers, mense sonder politieke mag en seggenskap. Hulle was ook op geestelike vlak vreemdelinge gewees. Hulle was as Christene nie meer deel van die kringe waaruit hulle gekom het nie, nie meer Jode of aanhangers van ander godsdienste nie. Hulle het baie swaar gekry omdat hulle vervolging van drie kante in die gesig gestaar het.

Die Romeinse owerheid was die Christene nie goedgesind nie en het hulle selfs vervolg. Godsdienstig is hulle uitgeskakel deur hulle vorige vriende en geloofsgenote. Die Jode het veral nou begin om teen die Christene op te tree. Hulle het ook baie swaar gekry in sosiale kringe want as die hoof van die huishouding nie tot bekering gekom het nie, kon hulle uit die familiekring uitgeskakel word. In daardie stadium sou so ‘n stap tot die uiterste ellende gelei het.

Die mense aan wie hierdie brief gerig is, het dit juis baie moeilik gehad. Dit was asof alles in die lewe teen hulle was. Sou ons hulle kon verkwalik as hulle moedeloos sou word? Sou ons hulle kon kwalik neem as hulle gewonder het of dit alles die moeite werd was. Ons kla so maklik. Ja, dit gaan vandag nie maklik nie. Baie van ons kry ook maar swaar. Die politieke en sosiale en ekonomiese omstandighede waarin ons onsself bevind is nie maklik nie, maar is dit so erg soos die omstandighede van hierdie mense? Ons word darem nog nie vervolg en uitgeskel vanweë ons geloof nie.

Maar kom ons gee toe: daar is baie druk op gelowiges en in die gemeenskap kan ons ook al as vreemdelinge bestempel word, mense teen wie daar gediskrimineer word. Miskien is dit daarom goed dat ons nou opnuut sal luister na hierdie brief en sy boodskap.

Die brief begin met die besinging van die lof van God! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Geen simpatie, geen klag, geen selfbejammering nie. Ten spyte van die omstandighede begin die brief met ‘n lofsang. Die lof van die Here word besing. Hoekom? In Sy groot ontferming het Hy aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus uit die dood(1:3).

Op grond van die opstanding kan die lof van God besing word. Voor Sy opstanding het alles in die skadu van die dood gestaan. Toe was die graf die eindpunt en die dood die finale. Met die opstanding van Jesus is die orde omgedraai. ‘n Geheel nuwe bedeling het aangebreek. Nou is die dood nie meer absoluut finaal nie. Met Sy opstanding het die lewe getriomfeer oor die dood.

Omdat Jesus in ons plek gesterf het, beteken Sy opstanding nie net dat Hy self nou leef nie, maar ook dat Hy die lewe skenk aan almal wat in Hom glo. God het aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus. Dit kan niemand en niks ooit van ons af wegneem nie. So seker as wat die skepping daar is, so seker is die lewe wat God aan ons gegee het. Hier word gepraat van ‘n nuwe lewe. Die ou dinge het verby gegaan.

Die nuwe lewe is anders, dit is nie tydelik of kortstondig nie, dis die hemelse ewige lewe. Dit is ‘n sinvolle, doelgerigte, vreugdevolle en God verheerlikende lewe wat geen einde ken nie!

Die opstanding van Jesus bring vir ons nuwe lewe. Daarom kan die gelowige wat in hierdie nuwe lewe staan, God loof en prys, selfs al gaan dit met jou swaar. Al blaak die hel van woede, al loop alles skeef, en al is almal teen ons, al gebeur wat ook al.

In die volgende verse word die kenmerke van die nuwe lewe belig. Hoe lyk die nuwe lewe? Waaraan word die gelowige wat die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus as geskenk van God ontvang het, geken?

Die eerste wat genoem word, is dat die nuwe lewe ‘n lewe van hoop is. “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onverderflike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. (1:3-4)”. Die lewe van die aan wie God uit Sy groot ontferming die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus Christus gee, word gekenmerk deur hoop. Dit staan teenoor die gebrek aan hoop en wanhoop wat die wêreld kenmerk. Luister ons na so baie , dan hoor ons die gebrek aan hoop. Wat hou die toekoms tog in? Waar gaan alles heen? Mense is moedeloos, en ploeter maar voort, sukkel van dag tot dag en wonder of dinge tog ooit beter sal word.

Hoe tragies dat die gebrek aan hoop selfs tot in die kerk en onder gelowiges so sterk uitstaan. Hoor wat sê Petrus: Nou het ons ‘n lewende hoop! Ons het ‘n nuwe lewe. “n Lewe van hoop. Ons kyk nie vas teen die omstandighede nie. Ons kan die oog gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Ons kan verby die aardse kyk. Ten spyte van alles wat skeef loop en al die verwerping en onderdrukking en uitskakeling en diskriminasie kan ons hoop. Deur die opstanding van Jesus is Christene hoopvolle mense.

Tweedens lees ond hier dat die nuwe lewe ‘n bewaarde lewe is. “En omdat julle glo, word julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1:5).”

Ons is veilig in God se hande. Hy bewaar en beskerm ons. Niks kan on suit Sy hand ruk nie. Paulus roep by geleentheid uit: “Ek is verseker dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie(Rom. 8: 38-39).”

Ons is veilig. God beskerm en bewaar ons. Hoe baie keer het die Here dit nie al in die Bybel beloof nie. Hy beloof nie dat dit altyd goed sal gaan met Sy kinders nie. Wat Hy wel beloof is dat Hy altyd by ons sal wees en ons sal beskerm. “As jy deur die water gaan, is Ek by jou en die vuur sal jou nie brand nie.” Vir Josua het Hy dit netso beloof. En in Daniël lees ons telkens hiervan.

Dwarsdeur die Bybel kom die boodskap: Moenie vrees nie, want God beskerm jou. Jy is veilig. Dit staan in kontras met die vrees wat so kenmerkend van ons tyd geword het. Ons mense is so bang. Kyk net hoe leef ons. Ja, die veiligheidsituasie laat veel te wense oor. Natuurlik moet ons versigtig wees. Maar angsbevange en byna neuroties van vrees, nee nooit! Dit pas die kind van God nie.

Onder alle omstandighede kan ons weet: ons word veilig bewaar deur die krag van God.

Die nuwe lewe is ‘n lewe van vreugde. Dit kom hier baie sterk na vore. “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle vir ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van jullle geloof getoets akn word (1:6).

Vreugde en blydskap is kenmerke waaraan die lewe van elkeen wat deur die ontferming van God deur die opstanding van Jesus Christus die nuwe lewe ontvang het. Straal dit daagliks uit ons lewe? Wat sien ons elke dag rondom ons? Mense loop met lang gesigte rond. Hulle is beswaard en bekommerd. Die laste van die lewe druk soms so swaar dat ons daaronder knak. Depressie word algemeen. Ons is tog so swartgallig en swaarmoedig. Dit pas die kind van God nie.

Let op, Petrus het geen illusies nie. Hy sê nie dat die gelowiges vreugdevol moet leef omdat dit so goed gaan nie. Hy sê dat ons juis te midde van swaarkry blymoedig moet wees. Daar is en sal allerlei beproewings wees. Soos die suiwerheid van goud deur vuur getoets moet word, sal die suiwerheid van ons geloof ook getoets word.

Sien die krisisse as uitdagings. Sien die teenspoed as geleenthede. Sien die haglike omstandighede as die ruimte vir die verheerliking van die Here deur selfs die donkerste nag met blydskap in te gaan.

Die vreugde wat die nuwe lewe deur die opstanding van Jesus kenmerk, vloei nie voort uit idilliese toestande nie, maar uit die gebondenheid aan God en gerigtheid op Hom.

Laastens lees ons hier dat die nuwe opstandingslewe van die gelowige gemeknmerk word deur die liefde. Die liefde vir God. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie(1:8).”

Deur Sy groot ontferming, Sy oneindige liefde, het God aan ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus. Hom het ons lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. Hom het ons lief, omdat Hy ons lewe met liefde vul. Hierdie liefde oordek ons hele lewe. Dit moet in elke woord  en daad tot uiting kom. Dit moet  uit ons hele lewe straal. Kan ander hierdie liefde in ons sien?

Deur die opstanding van Jesus het God uit liefde vir ons ‘n nuwe lewe geskenk. “n Lewe wat genkenmerk word deur hoop, veiligheid, vreugde en liefde. Is hierdie nuwe opstandingslewe elke dag in ons daaglikse lewe, onder al die moeilike omstandighede waarin on sons bevind, sigbaar?
0 Kommentaar: so far: