POSTED BY John Wait on 10:31 under

Deuteronomium 16:13-15 en Johannes 7:2, 10-15

Ons is nou eenmaal geneig om stroef en formeel te wil wees. So asof dit van ons verwag word. So asof blydkap en vreugde verkeerd en sonde is. As mense bietjie vrolik is, word hulle skeef aangekyk. Die arme jongmense word baie keer gekritiseer omdat hulle so met oorgawe vrolik kan feesvier. Waar kom dit vandaan? Ek is nie heeltemal seker dit staanin die Bybel nie.

In Spreuke 15:5 lees ons immers: “Dit gaan altyd sleg met die bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees”. Blaai maar bietjie deur die Bybel en kyk hoe dikwels daar van blydskap gepraat word. Paulus gee selfs die direkte opdrag: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal, wees bly!” (Fil. 4:4). Ons mag nie maar net bly wees nie, ons moet bly wees! Die lewe behoort vir elke gelowige ‘n vreugdefees te wees. Ons kan maar met volle oorgawe vrolik feesvier.

Die Huttefees is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n vrolike fees. Al die feeste waarvan ons in die Bybel lees, en ook ons kerklike feeste, Kersfees ingesluit, was feeste wat deur ander mense voor hulle al gevier is, en deur die gelowiges oorgeneem is en van ‘n nuwe inhoud voorsien is.

Die feeste is meestal aan natuurgebeure gekoppel en spesifiek aan die landboukalender. So was die Paasfees die fees van die eerstelinge van die oes  wat aan die begin van die graanoes gevier is. Die Fees van die Weke of Pinksterfees was die fees van die volheid van die oes wat aan die einde van die graanoessiklus gevier is. Die Huttefees is by die ander volke gekoppel aan die oes van die druiwe en die maak van wyn.

In Deuteronomium 16:13 lees ons: “Jy moet die Huttefees sewe dae alnk vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het”.

Die Huttefees val saam met die maak van wyn. Dit was destyds ‘n baie groot geleentheid. Daar was mos die gebruik dat nuwe wyn nie in ou sakke gegooi mag word nie en dat ou wyn en nuwe wyn nie gemeng mag word nie. Die ou wyn moes eers opgedrink word voor die nuwe wyn gemaak word. Dit was moontlik om die rede dat die manne dan in hutte buite die stede gebly het. As hulle dan te veel gedrink het, was dit darem buite die huis en stad waar dit gebeur het en hulle dalkies hande uitgeruk het.

In ‘n ou Rabynse geskrif lees ons dat die priesters die volk moes voorgaan totdat hulle nie meer die onderskeid kon tref tussen hulle regter en hulle linkerhand nie en hulle nie geweet het of hulle sit of staan of lê nie! Maar onthou dit staan nie in die Bybel nie! Ons moenie die Rabbyne letterlik opneem en navolg nie!

Dis ook nie net die mans wat tydens die fees handuit geruk het nie. Ons lees in Rigters 21 dat die ongetroude meisies in die wingerde gaan dans het tydens die fees. Dan het die mans wat vrouens gesoek het, sommer daar vir hulle vrouens gevang!

Dit het tydens die Huttefees by die ander volke maar wild gegaan. By Israel nie veel beter nie! Beteken dit dat ons sodanige optrede vandag kan goedpraat of dat ons selfs die fees moet herinstel en letterlik doen wat daar destyds gedoen is? Ek dink nie so nie. Aan die ander kant moet ons ook nie so verskriklik strak en styf wees nie.

Daar is wel tye en geleenthede dat gelowiges vrolik kan feesvier. In die Ou-Testamentiese tyd was die Paasfees ‘n somber fees gewees. Die fees van die weke was weer ‘n blyer fees, die Huttefees en later ook die Purimfees was vrolike en selfs uitbundige feeste.

In Deuteronomium 16:14 lees ons: “Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en jou dogters , jou slawe en slavinne...” Dit is ‘n duidelike opdrag. Vier fees met oorgawe. Wees bly. Geniet die fees. Dit is opvallend insluitende opdrag. Die hele gemeenskap moet by die vreugdefees betrek word. Dis nie net ‘n tyd van vreugde by die mans nie, maar ook vir die kinders, en die slawe, die kerkleiers, die Leviete, die dominees! En die minder bevoorregtes en die wat swaar gekry het. Almal moet betrek word. Almal moet saam bly wees. Ongeag jou sosiale status. Ongeag van wie  jy is. Almal moet bly wees en in die vreugdefees deel.

Dit is iets wat ons miskien ‘n bietjie ernsitiger moet opneem. Wees bly. Vier met oorgawe fees. Sluit almal hierby in. Laat die hele gemeenskap deel in die tyd van blydskap.

Dit is helaas egter ook ‘n feit, dat as so baie vrolik en bly is, die eensaamheid so swaar druk op ander. Dit is die tyd waarin so baie selfmoord pleeg omdat die swaarheid van die eie situasie so erg is as ander vrolik en bly is. Laat ons nie selfsugtig wees in ons vreugde nie. Laat almal bly wees. Jy moet bly wees en almal rondom jou ook saam met jou.

Blydskap het ‘n grond. Anders is dit nie regtig gegronde blydkap nie. So is ouers bly as hulle hulle kinders sien na ‘n lang afwesigheid. Of geliefdes wat bymekaar uitkom. Of as iets goeds gebeur.

Die rede vir die eintlike blydskap word in Deuteronomium 16:15 genoem: “Omdat die Here jou God jou met ‘n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het”.

Dit is so dat die mens genieg is om terug te kyk. Dan kan ons vaskyk teen die swaar en net die negatiewe dinge onthou. Of ons kan verby die teesnpoed kyk en die genadehand van die Here raaksien. Miskien was dit nie ‘n rekord oes nie. Miskien nie die beste jaar ooit nie. Maar ons leef nog. Ons kan ons seëninge nie tel nie want daar is bloot eenvooudig te veel. Hoe baie het ons nie om voor dankbaar te wees nie. Die Here onse God het ons geseën. Hy het ons onderskraag. Hy het wat ons aangepak het, voorspoedig gemaak. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Daarom kan ons en moet ons bly wees. Ons kan jubel en juig, en ons kan sing en dans want die Here was vir ons goed. En daarom moet ons ook bly wees.

In Johannes 7 lees ons dat Jesus se boers Hom aangemoedig het om na die Huttefees toe te gaan en daar met die mense te praat. Jesus gaan toe na die Huttefees toe, en Hy praat daar met baie mense. Hulle is verstom oor Sy kennis en die insig wat Hy openbaar. Daar begin hulle aan Sy lippe te hang. So word die Huttefees die geleentheid toe mense begin kennis neem het van Jesus. In die vrolike fees tree Jesus na vore met die blye boodskap wat die wêreld ooit gehoor het: dat Hy gekom het om ons almal werklik vry te maak.

Is dit nie die diepste grond van ons blydskap wat elke dag gevier moet word nie. Miskien kan ons dan die woorde van Spreuke 15:5 bietjie aanpas: die gelowige mens se hele lewe is ‘n fees!
0 Kommentaar: so far: