POSTED BY John Wait on 18:00 under

Prediker 3:9-13, 2 Tessalonisense 3:6-12

Ons almal is maar geneig partykeer om eenogig te raak. Ons kyk na dinge vanuit een perspektief. Ons dink ‘n saak het net een kant. Dis soos ek dit sien en hiermee moet almal saamstem-tipe van ding. Hoe baie verskille het nie al hieroor ontstaan nie.

Hoe baie keer was daar nie al spanning in verhoudings omdat die twee nie die ander kant van die saak kon insien of wou raaksien of selfs net erken dat daar darem ook ‘n ander kant aan die saak is nie. Laat ons dit maar erken. Ons is almal skuldig. Die lewe is nou eenmaal nie enkelvoudig nie. Kan mens jou in elkgeval ‘n eendimensionele lewe indink? Dit sou darem erg vlak en vervelig gewees het.

Dit is opvallend hoe dikwels die Bybel verskillende perspektiewe op dieselfde saak het. Lees ons nie in Genesis 1 dat die mens moet heers nie, terwyl ons direk daarna in Genesis 2 lees dat die mens ‘n huurling en arbeider is. Jesaja sê dat geloof is om te wag op die Here wat uitkoms sal bring, terwyl Jeremia die taak van die mens beklemtooon. Paulus sê deur geloof alleen en Jakobus sê die geloof sonder werke is dood. So kan ons deur die Bybel blaai en telkens word twee kante van die saak belig. Dit is daarom nie snaaks dat ons ook verskillende perspektiewe op werk in die Bybel het nie.

Die Prediker vra: “Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?” (Pred. 3:9). Hoekom werk ons? Watter voordeel is daar vir my in? Hoekom sloof ‘n mens jou af? Hoekom moet ek so hard werk? Is dit nie vrae wat ons almal al gevra het nie? Natuurlik is dit so? Ek dink nie daar is al ‘n enkele persoon wat nie al gekla het en gevra het of al my werkery die moeite werd is nie.

Ons sloof ons af. Ons word moeg. Die lewe gaan verby. Wat is die sin van ons werk? Hoe dikwels doen ons nie dieselfde ding oor en oor totdat ons kan skreeu nie. Naderhand doen ons dit meganies net om dit gedoen te kry en die tyd om te kry, maar vreugde en werksbevrediging is daar nie.

Die wyse Prediker het gesê dit lyk vir hom of die Here vir die mens werk gee om die mens besig te hou en te laat swaarkry. In ons dae sal ons seker dink aan ‘n onderwyser wat vir die kinders na die eksamen werk gee net om hulle besig te hou en te laat swaarkry. Of soos ouers wat allerhande werk uitdink vir die kinders net om hulle uit die kwaad te hou. Dalk is vrouens hierin meesters. So swoeg ons almal maar, ons kry swaar onder die werkslas en dis nie aldag so lekker nie. Ons wou mos ook al tou opgooi. Is daar iemand wat nie al gevoel het dat sy werk nie sin en betekenis het nie.... wat dalk net op die oomblik iets doen om geld te kry?

Prediker sê: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir die mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God”(Pred. 3:11-12).

Wat sê die Prediker hiermee vir ons? Dit klink my asof hy sê dat die werk nie alles in die lewe is nie. Ons moet ons prioriteite regkry. Dit help nie om net vir ons werk te leef nie. Werkolisme is nie goed nie, want die lewe moet nie net vir my om werk draai nie. My werk moet nie my hele lewe insluk nie. Dit moenie so alles omvattend wees dat ek nie meer tyd vir my gesin en my familie en my gemeenskap en vriende en veral vir myself het nie. Dan word werk in elkgeval ‘n afgod wat my gaan vernietig.

Miskien moet ons mooi hierna luister, want dit gebeur nogal baie en dikwels dat die werk mens vasvang en opslurp. Ek weet ons leef in ‘n kompeterende lewe wat groot eise stel, en ek weet mens moet jou werk oppas, maar luister mooi na wat die Bybel hier sê: Behou perspektief, wat baat al die gewerk as jou gesin daaronder ly en uitmekaarspat? Wat baat alles as jy fisies afgetakel word en emosioneel en geestelik knak? Wat help al die gewerk as jy vereensaam en alleen die laaste lewenstreë moet deurworstel?

Die Prediker sê dat om die lewe te geniet een van die gawes van God is. Werk en verdien jou brood en wyn en geniet dit! Geniet dit waarvoor jy gewerk het. Werk vir ‘n doel en geniet wat jy bereik het.

Maak tyd om die lewe te vier. Maak tyd vir jouself en jou gesin en jou familie en jou vriende en jou gemeenskap. Gun jouself die geleentheid om te ontspan en die lewe te geniet. Maar hoor baie mooi: Dis nie ‘n luukse wat jy jouself gun nie. Dis ‘n noodsaaklike! Die kern van wat die Prediker ons leer, is dat ons nie slawe moet wees van ons werk nie. Ons werk moet ons nie heeltemal insluk nie! Ons moet geballanseerd leef. Ons moet die vrug op ons arbeid geniet. Die lewe is meer as net werk!

Maar daar is egter ook nog ‘n ander kant van die saak. Voor ons hier uitgaan vanoggend en sê ons het vandag geleer dat ons nie meer hoef te werk nie, moet ons darem ook mooi luister na wat Paulus vir die Tessalonisense skryf.

Hy was nogal kwaai toe hy hierdie brief geskryf het. Hoekom was hy kwaad? Hy is kwaad omdat “ons verneem het dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei”(2 Tessalonisense 3:11).

Waarom het die mense leegelê en nie gewerk nie? Soos maar omtrent altyd die geval was, was daar nie vir almal werk nie. Sommige gebruik dit mos as verskoning om niks te doen nie. Die verskoning kom dan maklik: ek het nie werk nie. Maar intussen doen hy of sy niks om werk te kry of self werk te skep nie. Hulle sit sommer maar net terug en verwag dat werk na hulle toe moet aankom of dat iemand anders vir hulle moet help of werk soek of kry. Hulle bemoei hulle dan nog met ander se sake en beskinder ander. Hulle plaas die blaam op ander en verwyt ander. Hoe baie keer is dit nie nog die geval nie? Daar was destyds diegene wat werksku was...soos mos vandag nog.

Die luies en die slappes en die wat hulleself bejammer en nie die hand uit die mou wil steek en wil werk nie, word hier skerp aangespreek. Paulus sê sommer reguit: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie!” (2 Tess. 3:10).

Die skokkkende is dat daar mense was wat godsdienstige redes aangevoer het waarom hulle nie gewerk het nie. Hulle het gesê dat Jesus en die apostels gesê het dat Hy gou weer gaan kom. As die wederkoms dan so spoedig sal plaasvind, hoef hulle mos nie te werk nie. Hulle kan mos maar net sit en wag dat en totdat Jesus kom en dan gaan hulle hemel toe sonder dat hulle hulself doodgewerk het. Met hierdie redenasie was Paulus nie beindruk nie! Hy verwerp dit en raas met mense wat so dink...

Ons moet werk tot die dag dat Jesus weer gaan kom. Nie ‘n dag voor die tyd ophou nie. As Hy kom, moet Hy ons aan die werk vind. Bepaal jou by jou eie werk en verdien jou eie brood, is die opdrag wat Paulus hier in geen onduidelike taal nie, gee. Het ons nie met die eeuwisseling gehoor van mense wat ophou werk het en gewag het op die einde van die wêreld nie?

Paulus verwys an homself. Hy was nie lui nie. Hy het sy eie inkomste verdien deur ‘n ambag te beoefen. Hy was nie ‘n las vir ander nie en het nie op een of ander geteer nie. Hy het sterk gestaan op die feit dat ‘n mens moet werk. Dit was vir hom ononderhandelbaar. Wie nie wil werk nie, moet nie eet nie!

Staan hierdie twee standpunte teenoor mekaar? Nee, hier word net twee kante van dieselfde saak belig. Kry perspektief op jou werk. Wees geballanseerd. Jou werk mag nie alles oorheers nie....maar jy mag ook nie jou werk minag nie.

0 Kommentaar: so far: