POSTED BY John Wait on 07:19 under

Eksodus 20:7

Wie van ons wil nie dat ons naam hoog gehou word nie? Dis eintlik ‘n dom vraag, want dis so voor die handliggend en logies dat almal wil dat ons name hoog gehou sal word. Dit geld nie net ons eie name nie, maar ook ons familienaam, die naam van ons skool of werk of instansie. Dit is dan ook so dat ons kinders dit inskerp: hou die naam hoog!

Dit is eintlik waaroor dit ook in die derde gebod gaan: hou die naam van die Here hoog.

In Hebreeus word iets dikwels in die negatiewe vorm uitgedruk om die positiewe te beklemtoon. Gebruik die naam van die Here reg! Ons moet ook onthou dat ons ook hierdie gebod moet lees in die lig van die opskrif. Omdat die Here ons God is wat ons verlos het, daarom sal ons nie Sy Naam misbruik nie. As ons Sy Naam misbruik, gee ons te kenne dat die Here nie ons God is wat ons verlos het nie. Die wyse waarop ons Sy Naam gebruik, is dus ‘n weerspieëling van ons verhouding met die Here.

Ten einde te kan vra wat dit beteken om die Naam van die Here nie te misbruik nie, is dit nodig dat ons sal let op die belangrikheid van ‘n “naam” en die betekenis van die woord “misbruik”.

‘n Naam is baie belangrik. Iemand het al gesê dat jou naam jou kosbaarste besitting is. Ons ken iemand aan sy naam. As ons die naam van ‘n persoon hoor, dan roep dit bepaalde assosiasies by ons op. Ons het ‘n prentjie van iemand wat soos ‘n foto ons te binne skiet as ons net sy naam hoor. Ons reageer dan dadelik of positief of negatief as ons iemand se naam hoor. Dink maar net aan hoe mooi die naam van ‘n geliefde klink of hoe vreesaanjaend dit klink om die naam van ‘n skuldeiser of vyand te hoor. Aan jou naam word jy geken!

In die Ou-Testament was ‘n naam net so, indien nie belangriker nie. Dit geld nie net vir mense nie, maar ook vir die Here. In die Ou-Testament het ons heelwat name vir die Here. So word na Hom verwys as God, Here(Meester, in Hebreeus Adonai), die God van die Vaders, die Here van die Leërskare, en talle meer. Hierdie name is eintlik benaminge want dit dui die verhouding tot die Here aan.

Die naam van die Here is in Hebreeus Jahweh. Nou is dit so dat ons nie hierdie naam met presiesheid kan ontleed nie. Wat wel seker is, is dat dit verband hou met die woordstam HJH wat beteken om te wees. Die Here is dus die Lewende. Dit is dan juis opvallend dat elke keer as daar oor die Here en van die Here gepraat word, hierdie aspek na vore kom: die Here leef! Hy is.

Hoe weet ons dat Hy leef? Ons weet dat iemand leef as ‘n persoon praat en dinge doen. Die Here is die sprekende en die Handelende. Hy praat en doen. Blaai maar deur die bladsye van die Bybel en jy sal dit op elke bladsy aantref: Mense getuig dat die Here met hulle gepraat en dat Hy dinge gedoen het. Hy is die Lewende.

As die gelowiges in die Ou-Testamentiese tyd dan die naam van die Here gehoor het, het hulle geweet dat daar van die Lewende Here gepraat word. Die Here wat wonders gedoen het, die Here wat telkens van hulle gepraat het.

Die naam van ‘n person roep nie net bepaalde assosiasies op nie, maar as ons iemand se naam ken, staan ons in ‘n bepaalde verhouding tot daardie persoon. Ons staan nie in ‘n direkte verhouding  met mense van wie ons die name nie ken nie. Ons ken die gesig, maar weet dan nie eintlik veel meer van daardie persoon nie. Ken ons egter sy naam, dan is daar ‘n bepaalde verhouding. Om met die Here in verhouding te staan, is dit dan nodig dat ons Sy Naam ken.

Daarom het Hy Hom by Sy Naam bekend gestel. Moses het dan ook gevra na die Naam van die Here voordat hy na Egipte toe gegaan het. Jesus het Hom by Sy Naam aan Sy dissipels bekend gestel. Ons ken die naam van die Here. As Sy kinders staan ons in ‘n kind-Vader verhouding tot Hom omdat ons Sy Naam ken.

Daar is egter ook ‘n gevaar daaraan verbonde as iemand jou naam ken, want hulle gebruik jou naam. Ons kinders ken dit mos goed. Omdat julle ouers julle naam ken, kan hulle julle by die naam roep. Nou dit kan positief wees, of negatief, want soms gaan daar so ‘n rilling teen jou ruggraat af as jou pa dalk met ‘n kwaai stem jou op jou naam roep – veral as jy weet dat jy kwaad gedoen het. As ‘n geliefde jou naam sag en teer gebruik, word mens sommer warm....

Daar is min dinge wat mens so kwaad maak as wanneer iemand jou naam gebruik sonder jou medewete en goedkeuring. Nog meer as dit so gebruik word om voordeel vir die ander persoon te kry ten koste van jouself. Miskien maak dit mens nog meer ongelukkiger as iemand jou naam deur die modder sleep....

Dit is dan ook waaroor dit in hierdie gebod gaan. Dit gaan oor die manier waarop ons die Naam van die Here gebruik. Die Jode het hierdie gebod gelees asof dit beteken het dat mens glad nie die Naam van die Here mag gebruik nie. Tot vandag toe nog spreek hulle dan nie die Naam van Jahweh uit nie. Hulle gebruik liewers die woord Adonai.

Ons moet hierdie gebod nie lees asof dit net maar beteken dat die naam van die Here nie as vloekwoord gebruik mag word nie. Natuurlik is dit totaal verkeerd. Dit mag nie, dis ondekbaar, maar dit gaan om veel meer.

In die Hebreeus staan daar letterlik dat jy nie die Naam van die Here  vir ‘n nietige doel mag gebruik nie. Dit beteken dat mens nie sommer die Naam van die Here mag gebruik vir eie persoonlike doeleindes nie, onder die dekmantel van godsdiens en die Naam van die Here is afskuwelike dinge al gedoen. Moenie onder die dekmantel van geloof en die naam van die Here dinge doen wat nie in ooreenstemming is met die Woord van God nie. Dan misbruik jy die Naam van die Here. Hoe vol is die geskiedenis nie van sulke voorbeelde nie. Ook die geskiedenis van die Christendom is vol hiervan. Mens wil vra of die tragiese  verdeeldheid van die Christendom nie ook ‘n vorm van die misbruik van die Naam van die Here is nie.

So baie mense beroem hulle daarop dat hulle Chrsitene is, maar as mens kyk na hulle besighede, dan sidder ‘n mens. As ons onsself Christene noem, dan moet ons immers leef soos Christene. Wie dit nie doen nie, doen die naam van die Here oneer aan. Lees mens die koerante en kyk jy na wat in ons samelewing aangaan, dan sidder ‘n mens by die misbruik van die Naam van die Here.

Ons sou dit ook anders kon stel: alles wat ons doen of sê wat die naam van die Here oneer aandoen, is ‘n oortreding van hierdie gebod. Kom ons stel dit so: alles wat ek doen of sê waarvan daar nie gesê kan word dat dit is soos wat Christus dit sou doen nie, is misbruik van Sy Naam. Noem ons onsself Christene, dan moet ons immers leef soos wat Hy geleef het of vandag sou leef.

Hierdie gebod wil beklemtoon dat ons wat deur die Here verlos is, wat in ‘n nou verhouding met Hom leef, Sy beeld- en naamdraers is. Wat ons doen, moet ons namens Hom doen. Doen ons in Sy Naam. As Sy Naam en Sy eer nie oor alles wat ons doen, geskryf staan nie, doen ons Sy Naam oneer aan.

0 Kommentaar: so far: