POSTED BY John Wait on 05:54 under

Johannes 14:7-8 en Genesis 1:26

Hoe lyk God? Is dit nie ‘n vraag wat ons almal al gevra het nie? Miskien is ons versigtig om dit in woorde uit te druk, maar dit is iets waaroor ons al baie gedink en gewonder het. Kinders vra dit soms. Dit is natuurlik. Ons dink mos almal by wyse van beelde en ons beelde is gebasseer op ons waarnemings.

Nou is dit so dat ons goed weet dat ons nie beelde van God behoort te maak nie. Ons sê dan ook so maklik dat ons nie beelde maak nie, want niemand hou tog ‘n beeld van God in sy/haar huis aan nie. Tog het ons maar almal so ‘n beeldjie in ons kop. Ons dink oor God en het ons idée oor wie God is.

Deur die eeue heen wou mense so graag weet hoe God lyk. In Johannes 14:8 lees ons dan ook dat Filippus sê: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”. Selfs die dissipels wou weet hoe die Vader lyk. En dit nie aan die begin nie, nie toe Jesus hulle geroep het en hulle die pad saam net Hom begin loop het nie, maar eers na bykans 3 jaar. Toe Jesus al 3 jaar met hulle gepraat en hulle geleer het. Hierdie woorde kom voor in Jesus se afskeidswoorde aan Sy dissipels. Al wat hulle wil hê, sê Filippus, is om die Vader te sien.

Jesus antwoord Filippus: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader.” Hiermee beklemtoon Jesus die wesenseenheid tussen Hom en die Vader.

In Sy antwoord gaan Jesus dan voort deur te verwys na Sy woorde en Sy werke. Die klem val dis nie op die fisiese nie, maar op die Persoon van Jesus  en die Persoon van die Vader. Wie na Jesus luister, hoor die woorde van die Vader. Wie na die werke van Jesus kyk, sien ook die werke van die Vader. Hiermee beklemtoon Jesus waarom dit eintlik gaan en behoort te gaan: nie die fisiese voorkoms nie, maar die woorde en die dade.

Hoe dikwels het Jesus nie met die dissipels gepraat nie. Wat het Hy hulle nie alles geleer nie? Het die skares nie na Jesus gestroom om na Hom te luister nie? Was die mense nie verbaas oor Sy woorde nie? Van jongs af het Hy die mense, selfs die Skrifgeleerdes, verbaas met Sy woorde: Sy kennis en insig; Sy nuwe sienings en interpretasies.... die besondere wyse waarop Hy gepraat het. Jesus wyk af van die gewone van Sy tyd. Hy bied nie lang en ingewikkelde beredenerings en kom nie tot ‘n nuwe klomp bepalings nie. Met verhale onderrig Hy, met liefde praat Hy. Met deernis reik Hy uit na ander. Hy is nie skerp veroordelend nie, maar liefdevol, nadertrekkend. Hy bring nie boodskappe van veroordeling, hou Hom nie heeltyd besig om te sê hoe sleg die mens is en hoe verskriklik die hel en die oordeel wat wag, is nie. Hy praat van die koninkryk van God wat naby is, van die ewige lewe wat hulle nou reeds kan beërf. In liefde vergewe Hy. Hy bring die boodskap dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy Sy Seun gestuur het sodat elkeen wat glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Inderdaad praat Jesus soos ‘n Vader: Met erns en insig, met deernis in liefde. Soos die Vader, praat Jesus. In Sy woorde hoor ons die stem van die Vader: die woorde wat Ek met julle praat, praat ek nie uit my eie nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly (Joh 8:10). Hoor ons God nog elke dag praat?

Jesus gaan voort deur daarop te wys dat die dissipels God sien in Sy werke. Uit die dade van Jesus leer ons God ken. Kyk na My werke en julle sien wie God is, het Jesus gesê. Nou begryp ons hoekom Johannes soveel klem gelê het op die werke van Jesus.

Nou wat het Jesus gedoen? Hy verander water in wyn, Hy het siekes gesond gemaak, Hy reik ‘n helpende hand uit  na diegene in nood, Hy slaan Sy arms om die skouers van die wat verwerp en verag is, Hy bied ‘n skouer vir die wat treur, Hy rig dooies op, Hy voed die hongeriges...so kan ons aangaan. Hy het gekom om te dien en Sy lewe te gee as die losprys vir ons.

So het Jesus vir ons kom wys wie God is. In Hom kon almal God sien. So lyk God en so tree Hy op.

Maar sou ons kon vra: Wat van vandag?

In Genesis 1 lees ons dat God die mens geskep het na Sy beeld. Die woord wat hier gebruik word is (shelem) wat skaduwee beteken. As God die mens maak, dan maak Hy nie die mens om soos Hy te lyk nie, die mens is nie ‘n afbeelding van God nie, maar eerder ‘n skadubeeld. Daar is twee aspekte van belang: “n skaduwee kan nie alleen staan nie, en ‘n skaduwee vestig die aandag op die een wie se skaduwee op die grond val.

Om mens te wees, beteken dan om aan God self gebonde te wees. Soos die skaduwee nie aleen kan staan nie, en ons skaduwee onlosmaaklik aan ons gebonde is, is ons gebonde aan God. Ons kan nie sonder God leef nie, en sonder God kan ons nie mens wees nie, en om mens te wees behels dat ons die aandag moet vestig op God. As ons ‘n skaduwee sien, kyk ons onwillkeurig op om te sien wie aan die kom is. So moet ons ook ander laat opkyk na God. Ander moet bewus wees van die teenwoordigheid van God as hulle ons sien en hoor.

Dit is wat Jesus hier sê. In ons woorde moet ander ook die woorde van God hoor. In ons werke moet ander die werke van God sien. Ons, die skaduwees van God, is mos in Christus aan God gebonde. In Jesus het ons weer die skaduwees van God geword, die afskynsels van God op aarde.

Met die koms van Jesus na die aarde het God hande en voete en ore en oë gehad; Hy het hier geloop en gepraat en gewerk. God het mens geword. Maar nou is God nie meer so hier nie. Maar God is nog hier. Ons moenie ver na Hom gaan soek nie. Hy is hier teenwoordig in en deur Sy kinders. Nou het Hy weer hande en voete en ore en oë. Nou lag en huil, en praat en werk Hy nogsteeds hier op aarde; in en deur Sy kinders. Ons is Sy afskynsels.

Waar is God? Kyk rondom jou. Hy is hier. In ons woorde moet ander die stem van God hoor. In ons werke moet ander die dade van God sien.

Die tweede gebod sê dat ons nie beelde van God maak en dit aanbid nie. Genesis 1 en Johannes 14 roep ons op om beelde van God te wees; om vir almal te wys hoe God lyk, hoe God praat en hoe God werk...
0 Kommentaar: so far: