POSTED BY John Wait on 04:44 under

Eksodus 32, Handelinge 1:12-2:13

Die mens is ‘n kudde dier, ons leef in groepsverband. Trouens ons lees al in Genesis dat die Here gesê het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. Daarom het die Here vir die man ‘n vrou gemaak, ons word in gesinsverband gebore. Ons is van die begin van ons lewe af deel van ‘n familie.

Ons is ook deel van groepe, ons is deel van die gemeente en deel van ‘n wyk. Ons het almal vriendegroepe, in werkverband is ons deel van groepe, in die skool is kinders deel van verskeie groepe en so kan ons maar aangaan...

Daar is nie twyfel dat die groepe waaraan ons behoort, ons lewens beinvleod nie. Die invloed kan of positief of negatief wees. Ons behoort aan sekere groepe sonder dat ons ‘n keuse daaroor het, en dié soort groepe het gewoonlik die minste invloed op ons. Die groepe wat die grootste invloed op ons het, is die groepe wat ons kies en waarby ons uit vrye keuse aansluit.

Waarom behoort ons aan groepe? Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie. Die eerste rede is dan ook seker om saam met ander te wees. Enige groep is beter as geen groep nie, sê party. Solank ek net êrens deel van ‘n groep kan wees.

Ansder sê weer dat mens veral sekuriteit in ‘n groep soek.. Een van die mees basiese behoeftes van die mens is mos die van sekuriteit, die mens wil mos veilig en geborge voel, en die groep verskaf baie keer hierdie sekuriteitsruimte. Netsoos dit in die diereryk so is dat daar veiligheid in getalle is. In ‘n groot groep het ‘n enkele dier ‘n baie groter kans op oorlewing as wanneer die dier alleen is.

In ‘n groep kry elkeen sy eie plekkie. Hy word die leier van die groepie of hy kry een of ander plekkie wat hom pas en hom geval. So kry hy ‘n bepaalde waarde. Dit lei daartoe dat die groep die selfbeeld van die groepslid beïnvloed. Waar dit ‘n positiewe groep is, is dit positief, maar as die groep negatief is, kan dit ernstige negatiewe gevolge hê.

In Eksodus 32 lees ons van groepsdruk. Die volk het by Sinaï aangekom. Die leier, Moses, is teen die berg op. As hy ‘n geruime tyd weg is, kom daar beroering onder die volk. Hulle voel nie meer so veilig nie. Die leier is weg, en hulle is nou in ‘n mate leierloos. Daar is ‘n vakuum wat gevul moet word. Boonop is die leier wat weg is, ook hul skakel met God. Noudat hy weg is , kom die vraag of God ook weg is. Wat kan hulle doen om minstens seker te maak dat die Here hulle ook nie verlaat nie?

Wat kan hulle doen om die teenwoordigheid van die Here te verseker? Hulle bekommernis en onsekerheid, hulle gevoel van verlies en sekuriteit noop hulle om ‘n ander oplossing te soek. Hulle dink aan die gebruike van die ander volke. Die ander volke maak beelde. Die beelde was nie afbeeldings van hoe gode gelyk het nie, maar het ‘n bepaalde eienskap van die godheid uitgebeeld. Deur die mees kenmerkende eienskap van die godheid uit te beeld, het hulle geglo dat hulle die godheid se teenwoordigheid kon vasvang. Die godheid is dan teenwoordig omdat sy eienskap daar in die beeld vasgevang is. So kon hulle verseker dat die godheid by hulle is en kon hulle hom minstens in ‘n mate manipuleer.

Dit is op grond van hierdie kennis en te wyte aan die onsekerheid en vrees, dat die Israeliete mekaar opsweep om tot aksie oor te gaan. Die groepsdruk word te sterk, en ten spyte van aanvanklike besware, doen Aäron maar wat die groep vereis, hy maak ‘n goue kalf. Die beeld van die kalf moes die eienskap van krag en mag uitbeeld, want dit was die einskap wat die volk tydens die uittog en reis tot by Sinaï die sterkste opgeval het. Die Here is die Magtige: die Een wat die magtigste leermag verslaan het, wat die see kloof en water uit ‘n rots laat stroom. Hy is die Almagtige. Daarom kies hulle om ‘n bul te maak. Hiermee wou hulle verseker dat die Here by hulle is. Hulle sou dan weer veilig voel! Hulle sekuriteitsmaatreels is in plek.

Die groepsdruk word hier as negatief geteken. Hoekom was dit verkeerd om na sekuriteit te soek? Is dit verkeerd om jou sekuriteit te soek in die teenwoordigheid van God? Is dit verkeerd om die belangrikste belydenis uit te beeld? Ja, dit was verkeerd en sondig. Want die doel was verkeerd. Dit het daarom gegaan dat hulle God wou vasvang. Hulle wou Sy teenwoordigheid af forseer. Dan is Hy mos nie die Soewereine God nie. Hy kan mos nie vasgevang word nie. Ons kan Hom mos nie manipuleer nie. Ons mag Hom mos ook nie gebruik om ons sekuriteit te waarborg nie.

Al het die groep godsdienstige doelstellings gehad, word hierdie verhaal aan ons voorgehou as voorbeeld van neagtiewe groepsdruk. Nie so nie! Kyk baie mooi na die doel van hierdie groep. Pas op om jou te skaar by ‘n groep waarvan die doelstellings mooi mag lyk, maar nie baie suiwer is nie. Natuurlik spel baie groepe nie vooraf hulle doelstellings uit nie. Dis mos g’n besigheid met visie en missie en aksieplanne nie. Maar as mens agterkom in watter rigting die groep beweeg kan mens gou uit die optrede sien of die groep opbouend of afbrekend gaan wees. Waak teen die invloed van negatiewe groepe...dit het baie negatiewe gevolge gehad vir die groep by Sinaï.

Groepe kan ‘n negatiewe of ‘n positiewe effek hê. Dit kan selfvernietigende groepe wees, of groepe wat ‘n uitkringende positiewe invloed op ander rondom hulle het. Ons weet nie altyd vooraf wat die pad van die groep gaan wees nie. As ouers moet ons baie bedag wees op die groepe waaraan ons kinders behoort, en ons moet probeer om die groepe positief te beïnvloed, en ons moet ons kinders positief lei en motiveer om deel te wees van groepe wat Bybelse beginsels uitleef. Dit kan ons natuurlik slegs doen as ons die voorbeeld stel.

Groepsdruk is ‘n realiteit....maar wat se rol speel jy binne jou groep(e).

0 Kommentaar: so far: