POSTED BY John Wait on 07:30 under

Galasiërs 3:26-4:1-7

Het julle al ooit daaraan gedink dat julle familie is van Abraham? Jy stem dalk nie saam nie, want jou eerste reaksie is dat jy mos nie ‘n Jood is nie, jou neus is ook nie eers krom nie....Maar tog, ons is elkeen deel van sy nageslag en ons is sy erfgenaam!

“n Mens sien baie keer sulke klein advertensies in party koerante dat iewers van oorsee of die een of ander eksotiese plek soek hulle die nasate en familie van so en so. Baie keer gaan dit oor iemand wat dood is, en nou is daar ‘n erfporsie wat tussen die nasate verdeel moet word, en nou moet hierdie nasate kontak maak en bewys van afkoms lewer, sodat hulle kan erf. Daar is gewoonlik ook nog ‘n waarkuwing by wat sê dat jy so spoedig moontlik moet kontak maak aangesien daar ‘n beperkte tyd is om deel te hê aan die verdeling!

Sou dit dan nie heerlik gewees het om nou so ‘n gelukkie te kon kry nie. Dalk is die kans daar dat ek ‘n klein ou plasie kon erf met ‘n oulike ou wynkerldertjie en wingerde en die plaas grens aan die middelandse see, en..... en ...o ja die preek.....

Hier vanoggend , lees ons in die Bybel, dat ek ‘n erfgenaam is – ‘n dubbele erfgenaam – van Abraham en van Jesus Christus! My naam en jou naam staan geskrywe in Abraham en in Jesus se testament! En so is ons skatryk!

Paulus skryf hierdie brief om een ding baie duidelik te stel: “ ‘n mens word nie gered omdat jy die wet – die gebooie van God – onderhou nie, maar omdat jy in Jesus Christus glo!”

Klaarblyklik was daar in Galasië ‘n klompie Christen-Jode  wat nou vir die ander gelowiges wat nie van Joodse afkoms was nie, maar uit die heidense volkere tot geloof gekom het, geleer en gesê het dat dit nie genoeg is dat hulle net die evangelie van Jesus glo nie, maar dat hulle ook nog die wet van Moses moet onderhou om gered te word.

Hoor jy dit? Die bloed van Jesus was nie genoeg nie! – dit alleen kon hulle nie red nie- hulle moes ook nog die wet gehoorsaam – dan eers was die verlossing eg en waar! En dis juis hierteen  dat Paulus homself baie sterk uitspreek: Dis tog mos nie waar nie! Dit is ‘n vreemde, ‘n ander evangelie! Daarom is dit ‘n valse evangelie(1:9) In vers 2:15-16 stel hy dit duidelik: “Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Chrsitus te glo. Ook ons het tot die geloof in Chrsitus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.”

In 3:6 bring hy nou ook vir vader Abraham by: Selfs hy – die voorvader van alle gelowiges, het geglo en is daarom vrygespreek, nie omdat hy die wet gehou het nie(daar was nog nie eers toe ‘n wet nie, want Moses het eers 400jaar later gelewe!). Nee, hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek! En daarom is almal wat in God glo, kinders van Abraham. Meer nog: omdat die Skrif vooruit geweet het dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo, het die Skrif al lank gelede vir Abraham die goeie nuus gebring: “In jou sal die nasies gesëën word! (3:8, Gen.12:3).

Nou gaan Paulus nog verder: “God het Sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee”. Daar staan nie “nakomelinge” nie, maar “en aan jou nakomeling”, net een , en hierdie een is Christus (3:16). Ja, daar was ‘n tyd dat die wet gegeld het- dat die wet die mense as’t ware vasgevang en bewaak het en oor hulle toesig gehou het sodat hulle nie vir God verlore sou gaan nie- maar net totdat die nakomeling van Abrham- Jesus Christus- gekom het. Nou geld die wet nie meer as middel van verlossing nie- nou geld slegs die geloof in Jesus Christus! En mense wat so glo, word gered en deel in die seën wat Abraham ontvang het, sê Galasiërs.

Hoor jy dit goed? Ek en jy- wat in Jesus glo- deel nou in dieselfde seëninge as waarin Abraham gedeel het. En ons is familie van Abrham omdat ons deel gekry het aan Sy Nakomeling, Jesus Christus.

Die vraag is nou: “Wanneer het ons aan Hom – die Nakomeling Jesus Christus- deel gekry?....By ons doop! Ja, jy’t reg gehoor: By jou doop het jy deel aan Jesus Christus gekry!.....Deur ons doop

Is ons met Christus verenig(3:27)- en is ons in Sy dood en opstanding ingelyf-kry ons deel daarvan

Het ons deel van Christus geword(3:27)- Sy eiendom, is ons vir Hom gemerk

Het ons deel geword met alle ander gelowiges in Christus(3:28)

Het ons nakomelinge van Abraham en erfgename van God se beloftes geword(3:29)

Nakomelinge van Abraham? Wat maak Abraham nou hier? Wat maak hom so belangrik? Wat het die doop nou met Abrham en God se beloftes aan hom te maak? Natuurlik was Abraham vir ons die voorbeeld: “Hy het geglo, en so deel van die verlossing gekry- dit het ons mos nou al gehoor. Maar daar is meer as dit: Abraham was ook in ‘n baie spesiale verhouding met God gewees- die Bybel noem dit ‘n verbond.

Verbond kan jy ook met kontrak, ooreenkoms, verdrag vertaal, en die Bybel is vol van sulke verbonde-ooreenkomste- wat God met mense gesluit het. Die een wat God met Abraham in Genesis 12 gesluit het, staan as die Abraham-verbond of die genadeverbond bekend- en die voorvoegsel genade-dui daarop dat God van die begin af hierdie verbond bedoel het as die verbond waarin Hy alle nasies wou opneem-alle mense, sonder aansien des persoons of afkoms, wat soos Abraham in God glo.

Die doop lyf nou almal wat glo- ook ons-by hierdie genadeverbond in, ons is nou erfgename kragtens die belofte van God. God kom sê dus vanoggend vir jou en vir my, en veral ook vir ........ dat ons deel het aan hierdie kontrak- ons name staan daarin geskryf- want dis ‘n kontrak met die gelowige Abraham en (toe nog) sy ongelowige nageslag.

Ons praat in ons tyd in die kerk baie oor die viering van ons kindertyddoop- en baie van ons het die begeerte om (na al die jare?) iets te ervaar en te beleef van hierdie wonderlike ding wat kleintyd al met ons gebeur het. Ek hoor vanoggend in Galasiërs 3 dat ons elke dag ons doop kan-nee moet-vier onder andere hierdie drie dinge te doen:

Om soos Abraham in die geloof te leef en God in en vir alles te vertrou

Om as deel van Abraham se nageslag tot seën vir ander mense te wees

En om baie groot erns te maak met die eenheid tussen gelowige broers en susters en ter wille daarvan grense oor te steek....

Dis belewing...ervaring....viering!

En waarom nie? Ons het mos niks om te verloor nie! Immers het ek en jy en ook klein...... daar agter in die moederskamer baie meer as ‘n klein plasie teen die Middelandse see wat vir ons wag! Hoe sing Jan de Wet? “My huis in die hemel is al lankal klaar!

0 Kommentaar: so far: