POSTED BY John Wait on 10:58 under

Romeine 8:9-11 en Kollosense 1:24-29

‘n Mens se lewe bestaan grotendeels deur momente. Sogenaamnde “mylpale” wat jy vir die res van jou lewe aan terugdink en wat jy onthou. Dinge wat gesê is en dinge wat gedoen is tydens sekere momente van jou lewe.

Hierdie gebeurtenisse is dalk nie vir iemand anders noemenswaardig of belangrik nie, en iemand anders kan jou groot oomblik dalk afmaak as nikseggend of onbelangrik....maar dit gaan oor wat JY daarvan maak. Dit gaan oor wat vir JOU belangrik is.

Wanneer mens hierdie moment van verskillende mense vergelyk met mekaar is dit interressant hoe verskillend mense kan wees maar ook terselfdertyd hoe eenders mense kan wees, veral ten opsigte van dinge soos ervarings, verwagtinge, vrese ens. Op die ou ent moet ons mekaar eerder vra: “Wat maak jy met hierdie momente van jou, en wat het jy daaruit geleer. Het dit enige impak op jou lewe, jou toekoms?”

Ongelukkig is dit nie heeltemal so maklik nie, juis omdat ons mos nie maklik vir mekaar vertrou met ons “eie” goed nie. Ons is eintlik baie geheimsinnige wesens, ons lot hier in die Gamtoos.

Dis mos nie altyd lekker as mense van jou “goed” weet nie, en juis daaroor wil baie van ons net sekere goed maar vir onsself hou. Elkeen van ons het mos maar ons eie kwota geheime wat ons met ons saamdra...

Maar hier in Kollosense praat Paulus van geheime van God wat nou openbaar word.... Onmiddelik kan ons mos met die Here dan identifiseer, want Hy het ook Sy geheime, of hoe?

Baie geleerdes het oor die eeue heen gedink dat hierdie geheime van die Allerhoogste te make het met God se plan vir die eindtye en dat hier dan nou gepraat word van sekere planne wat dan nou openbaar gaan word.... Maar eintlik is dit baie eenvoudiger as dit, maar tog steeds kompleks.... dit gaan hier oor Jesus Christus.

Jesus is die sentrale tema hier. In Jesus het ons nou die ware karakter van God vir die eerste keer van aangesig tot aangesig gesien en in Jesus sien ons as mens nou uiteindelik wat God se plan met die mensdom is en natuurlik waarheen Hy met ons almal op pad is.

Paulus kom sê vir ons ons hier baie duidelik dat ons nou kan en verseker moet weet wat God se plan vir ons is.... Jesus, Jesus, Jesus!

In ons lewens het ons elkeen verskeie geleenthede gekry om allerhande keuses te maak. Party van ons maak goeie keuses en ander van ons maak meer as gereeld slegte keuses....maar as ons hier reg lees dan sien ons dat God deurentyd, deur ons hele lewe deur vir ons kies. Hy kies vir ons ‘n ander realiteit. Hy kies vir ons ‘n ander opsie as wat ons onsself ooit kon voorstel of kon nastreef. Sy keuse en uiteinde vir ons is niks anders as die heerlikheid self nie! Hy het ons gekies om Sy draers te wees. Hy het ons gekies om Sy woning in ons te maak. Nog lank voor ons kon kies of kon vra het God vir Jesus na ons toe gestuur....om vir ons Immanuel te wees, om vir ons letterlik God met ons te wees!

Die hele ironie is egter dat ons elkeen dit weet en dat die meeste van ons al lankal hierdie geheim van God weet....maar dis asof ons nog iets mis. Dis asof daar nog iets weg is in ons lewe. Ons lewe baie keer lewens wat eintlik wil verklaar “nog nie”, of “amper, maar nog nie stamper”. En dit is juis waar die spanning in kom, want God het ons juis só gemaak om ‘n “nog nie” lewe te ly. Spanning juis omdat ons sensitief is vir hierdie gedagte, maar dat baie van ons afgely word van die waarheid, van die heerlikheid. Spannning omdat baie van ons ongelukkig nog deur ons sondige natuur beheers word (Rom8:9).

Maar God se alternatief vir dit is dat ons deur Sy Gees beheers word! Dis ook so maklik want God se Gees is in ons! So hier verstaan ons dit hopelik nou uiteindelik: Die een keuse wat jou hele wese se welstand nou en in die toekoms bepaal is die keuse om Jesus in jou hart in te nooi.....

Wat gaan in jou hart aan vanoggend. Is dit dalk gevul met allerhande onnodige gevoellens, gevoellens van liefde of haat, van spyt of trots, van angs of vrede? Is jou hart gevul met ‘n loflied vir die Een Gees van God, vir die Seun van God, vir Immanuel?

Dis nou die tyd, twee weke voor ons baie spesiale diens net voor Goeie Vrydag die Donderdagaand, om seker te maak oor hierdie saak. Om jouself voor te berei, om jou hart oop en ontvanklik te maak vir Jesus ons Verlosser. As jy dit nie gaan doen nie, as jy nie hierdie moment gaan aagpryp nie... gaan jy niks anders hê as bloot die onrustige versekering van ‘n doodgewone luilekker langnaweek tydens Paasfees....en die jammerte is dat jy dalk weer die punt van dit alles gaan mis.....
0 Kommentaar: so far: