POSTED BY John Wait on 05:35 under

Kol. 1:3-14 en 21-23

Ek wil graag vanoggend  peek oor gebed, en dan meer spesifiek oor die element van voorbidding. Juis omdat ons twee weke gelede ‘n heerlike week van gebed gehad het, maar dalk so bietjie vergeet het daaarvan, of dalk bietjie lui weg steek op die gebedsaspek van ons geloofslewe.

Dit is baie belangrik om hier reeds aan die begin van die preek op te merk dat gebed opsigself, nie net tot ons eie voordeel is nie, maar dit is eerder ‘n baie kosbare manier wat God aan ons Sy kinders gegee het om ander mee te help. Dit is daarom veral nie iets wat ons durf afskeep of van wil of kan vergeet in ons geloofslewe nie.

God roep dan ook vanoggend elkeen van ons op om ‘n voorbidder  te wees. Hy verlang dat ons ‘n hart vir ander se probleme sal hê en bereid sal wees om vir hulle te bid. God wil ons Sy medewerkers maak deur voorbidding.

En juis tydens vanoggend se diens wil Hy dit op ons harte plaas om veral vir mekaar te bid. Ons  kry eintlik op ‘n baie besonderse en persoonlike manier vannoggend ‘n Goddelike opdrag om ‘n voorbidder te wees, om reeds hier in die erediens vir God al ‘n wonderlike opdrag uit te voer as teken van ons dankbaarheid teenoor Hom en Sy genadegawes aan ons.

Paulus noem hier  in Kolossense dat hy vir die gemeente voorbidding doen. In die voorbidding kom ons agter wat verder met die gelowige moet gebeur nadat hy/sy die Evangelie in geloof aangeem het. Daarmee word aangedui dat geloof in Jesus dan nie ‘n eindbestemming is nie, maar eerder die begin van ‘n lewensreis waarvan die bestemming eers by die wederkoms van Jesus bereik sal word.

Baie mense is mos ongelukkig onder die indruk dat hulle net eenvoudig die Here kan aaneem en dan rustig agteroor kan sit en wag dat die Here sekere dinge in hulle lewens sal laat gebeur. Sulke mense is ook dan meestal geneig om teleurgesteld  te wees in hulle geloofslewe, want hulle mis iets. Hulle mis die mees belangrikste groei-elemente op die lewensreis saam met Jesus.

Op hierdie lewensreis moet ‘n paar dinge in elke gelowige se lewe gebeur:

· Daar moet gedurig sprake wees van geestelike ontwikkeling van geloof, hoop en liefde. Dit is dus nie net bloot ‘n geval van dat jy alles op een slag in jou lewe sommer so uit die hemele ontvang nie, maar eerder ‘n heerlike en wonderlike groeiproses sal ondergaan.

Hierdie aspekte van geloof, hoop en liefde, moet in jou lewe groei deurdat die volgende dinge gebeur:

· Jy moet die wil van God al beter leer ken, deur die wysheid en insig van die Heilige Gees. Dit is dus nie ‘n saak net van eie inspanning nie, maar eerder van ruimte skep vir die werk van die Heilige Gees in jou lewe.

Wat die Here van jou vra, is om tyd te maak vir Hom,  en besig te wees met Sy Woord op so ‘n manier dat die Gees van God werklik met jou “op weg kan gaan”. Jy kan nie geestelik groei as jy nie doelbewus tyd vir die Here maak nie.

· ‘n Styl van lewe wat daarby pas. Die manier waarop jy elke dag leef moet ‘n weerkaatsing wees van jou geloofsverhouding met die Here. Dit moet met ander woorde getuig daarvan dat die Here in beheer is van jou lewe. Die hoop wat jy van God ontvang het, moet uitgeleef word in liefde teenoor ander in elke situasie van die lewe.

· Geduldige volharding (om aan te hou glo) onder alle omstandighede deur die krag van God. Soms draai die lewe ook sy rugkant op gelowiges, dan moet jy nogsteeds aanhou om te glo en onder beheer van God te lewe en elke lewensituasie hanteer. “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard”(Jakobus 1:2-3).

Die vraag ontstaan dan: “ Hoe moet ons dan voorbidding doen? Is daar ooit so iets soos die regte manier en wat is die vereistes daarvoor?

In die eerste plek moet voorbidding nooit gedoen word met ‘n onverskillige hart nie. 2 Korintiers 5:14 praat van dat ons moet toelaat dat die liefde wat die Heilige Gees in jou hart uitgestort het, jou dwing om vir ander by God in te tree.

Dit is dus van kardinale belang dat ons onsself sal oorgee aan die leiding van die Heilige Gees! Juis sodat ons fokus nie net op ons eie dikwels selfsugtige begeertes sal wees nie maar op dit wat God op ons harte wil plaas. Hoor eers by God waarvoor jy moet bid en laat Hom toe om jou gebede te lei. Hy weet wat die diepste nood van andere is en watter struikelblokke daar is wat mense keer om by God uit te kom. Dikwels as jy in gebed na God toe gaan en eers na Hom luister voor jy met vuur en ywer sommer net wegval, maak Hy jou bewus van iemand, jy sien dalk op hierdie oomblik iemand se gesig voor jou of ‘n naam of ‘n plek...dis hoogs waarskynlik dat dit die Here is wat so met jou praat...

Mag die Here vir ons die krag gee om self gedurig in dankbaarheid voor hom te buig oor die hoop, geloof en liefde wat Hy in jou kom vestig het.

Mag Hy ons ook help om gedurig te groei in ons verhouding met Hom en mag dit lei tot beter kennis van God se wil vir ons lewens en tot meer gehoorsaamheid aan die Here in die manier waarop ons elke dag lewe, werk en ontspan.

0 Kommentaar: so far: