POSTED BY John Wait on 09:51 under

Eksodus 20

Die tien gebooie is nie iets wat deur God daar gestel is om ons aan bande te lê, en te verhoed dat ons die lewe geniet nie, nee dit is baie meer as net dit, dit is eintlik lewenswoorde.

Dit is die woorde van  die God wat ons in die Bybel leer ken as die God wat vir ons omgee. Dit is die goedbedoelde woorde van die God wat vir ons wil help om te ontdek waaroor die lewe eintlik gaan.

Bo elkeen van die afsonderlike gebooie moes die Israeliete elke keer hoor: Ek is die God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het. So is die God met wie hulle te doen het. Hy is die God wat hulle in hulle nood ontmoet het.

Sy eerste gebod klink dan so: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Waar die Israeliete na hulle woestynjare sou kom, sou hulle met die afgode van die heidene te doen kry. Hulle sou agterkom dat elke volk sy eie god gehad het.

Gewoonlik het hulle beelde van die gode gemaak. Die moes hulle dan ronddra en neersit waar hulle hulle wou hê. Met die eerste gebod wou die Here Sy volk help om skerp te wees. Om die gode te sien vir wat hulle is: net dooie en nuttelose goed wat deur mense gemaak is, hulle was nikswerdgode, gode wat mense op geen manier kon help nie.

Daarteenoor was die God van Israel se geloofwaardigheid bo alle verdenking, enigeen kon in Sy voetspore in hulle geskiedenis nagaan. Hy het hulle geroep in Egipte gehoor. Hy het daarop gereageer, en Hy het hulle self daaruit gelei. Deur die woorde van die wet wou Hy hulle help om ‘n goeie toekoms vir hulle te skep.

Daarom hierdie eerste lewenswoord: Jy mag naas My geen annder gode hê nie. Die Psalmdigter sou dit ‘n bietjie later anders verwoord in Psalm 121: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

In die nuwe testament leer Jesus Sy dissipels om te bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie(Mat. 5:6). Die mens wat uit genade ontdek het, wie God is, weet dat Hy enig en uniek is, daar is nie ‘n ander God soos Hy nie....

Maar tog dwaal ons darem so maklik partykeer. Van altyd af was dit maar so. Ons lees die geskiedenis van die Israeliete en ons sien  hulle foute, en partykeer skud ons ons koppe, en vra hoe kon hulle so dom wees? Hulle was tog nie blind nie. Hulle moes mos kon sien hoe die Here hulle gelei het, en toe die geslag wat dit eerstehands beleef het, nie meer daar was nie? Wel, die meeste  van hulle was tog nie doof nie, maar hoe kon hulle vir die leuen val dat daar ander gode is? Hoe kon hulle partykeer meedoen aan die afgode diens van die nasies rondom hulle?

Die vraag is eintlik of ons anders is? Of ons nie ook ewe maklik ander gode ‘n staanplek in ons lewens gee nie. Natuurlik baie meer gesofistikeerd as die mense van die outyd, want ons sal mos nie maklik ‘n beeld nadertrek waarvoor ons kan buig of bid nie.

Ons mense dans nou wel nie letterlik om ‘n goue kalf nie, maar dat die goue kalf in ander gestaltes voor kom, kan ons nie ontken nie. Netso is dit ewe duidelik dat daar nie ‘n tekort aan aanbidders is nie. Wat die afgodediens is waaraan ons as modern mense fluks deelneem, kan ons maar elkeen self besluit.

Die Heidelbergse Kategismus Sondag 34 vraag 95 sê oor afgodery dat dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in Sy Woord geopenbaar het, of naas Hom enige iets anders uit te dink waarop jy jou vertroue stel.

So gestel laat dit ons soveel beter besef hoe groot die moontlikheid van afgodediens is. Hoeveel goed of sake is daar nie waarin ons ons vertroue kan stel nie?

Elke dag bring die media nuwe produkte onder ons aandag. Daar is altyd nog weer eits wat beter is en waarsonder ons moet glo as ons nie klaar kan kom nie. Soms voel dit asof ons deur die lewe opgeslurp word. Dis asof ons nie van dag tot dag leef nie, maar sukkel om te oorleef.

Ons het slawe van die moderne lewenswyse geword, ons sukkel met ons prioriteite. Ons passie sit baie keer in die verkeerde plekke. God is partykeer bitter laag op ons lewensagenda. Ander gode neem Sy plek in ons lewens in.

Ons ken mos Jesus se woorde toe Hy oor die bekommernisse van die lewe gepraat het: “Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie dinge as ‘n bonus byvoeg(Matteus 6:33). Dis heel anders as die moderne lewe wat ons wil laat glo dat alles net om onsself gaan. MY behoeftes, my wens, my drome...

God wil ons help om nie selfsugtige mense te wees nie, nie net ter wille van onsself te lewe nie, maar om eerdernsaam met Hom rondom ons te kyk. Om deur Hom geinspireer te word om te glo dat ons kan verander. Te glo dat mense rondom ons kan verander....
0 Kommentaar: so far: