POSTED BY John Wait on 07:56 under

Joël 2 :12-17

Die woorde van hierdie gedeelte is ‘n uiters persoonlike uitnodiging van die Lewene Here aan elkeen van ons.

Hy nooi jou vanoggend persoonlik uit om ‘n verandering te ondergaan... Hy wil hê dat jy en ek onmiddelik moet reageer op Sy versoek: “Kom met julle hele hart terug na My toe!”.

Die Here het Sy Woord na my toe laat kom in Desember verlede jaar. En Hy het dit op ‘n ongelooflike persoonlike manier aan my openbaar. Vooraf het Hy deur verskeie mense met my gepraat en my voorberei deurdat daar ‘n paar mense met my persoonlik kom praat het oor dinge wat hulle pla met my bediening en ook dinge wat daar kort in ons kerk.

Natuurlik was dit ‘n pynlike ervaring want my onmiddelik reaksie was om dit “persoonlik” op te vat en die vraag te vra: “Is dit hoe mense my (bedienning) beleef? Is daar regtig fout met my?” (Ek dink mos pratykeer ek is foutloos en sonder enige foute of tekortkominge....dink jy nie ook soms so nie?). Dit alles het my taamlik weerloos gelaat, en half ontbloot laat voel. Gestroop van my selfverskering....(die  hoë dink wat ek van myself gehad het).

Maar wat dit veral ook laat doen het is dat daar toe ‘n leemte was wat deur God self gevul kon word.

Ek het Desembermaand met ‘n vriend van my gesels en een dag terwyl ons geswem het, het hy met my van sy bekering laasjaar vertel en getuig van hoe werklik die Here vir hom eweskielik geword het. Hy het gepraat van kerke wat hy besoek het en van wonderwerke wat hy beleef het. Hy het my ook vertel van sy droom om nog ‘n kerk in Amerika te wil gaan besoek waar daar sommige Sondae ‘n wolk (glory-cloud) binne-in die kerk opkom terwyl die mense die Here aanbid  en dat dit dan spontaan begin reen binne in die kerk!!!

Terwyl ons so praat van hierdie groot dinge wat die Here op ander plekke in die wêreld laat gebeur en hoekom dit ontbreek by ons, begin die Here ons gesprek ook lei na mense, en ook veral Christene wat soms dink dat hulle beter is as ander en wat hoogmoedig is...

My vriend gee my toe die beeld van ‘n koringaar wat se kop sak as hy ryp is. D.w.s as die koringaar vrugte dra dan sak sy kop, die aar is dus “nederig” want hy dra maar net die vrugte van die plant.... ‘n Koringaar wat nie pitte het nie, strek trots na die hemele en is niks anders as ‘n vals koringplant nie, die boere praat mos van “dowwe pitte”. En ek moes myself die vraag afvra hoe dit dan is met my? Is ek soos die koringaar vol ryp pitte/vrugte of is ek vals en vol dowwe pitte. En is dit dalk die rede hoekom ek/ ons die wonderdade en groot dinge van die Here tussen ons miskyk? Waar is ons “glory-cloud”.

Dis iets wat ons nie net van onsself elkeen behoort te vra nie, maar ook van al die voorbeelde wat ons rondom ons het van dowwe pitte en vals vrugte. Dis baie belangrik dat ons na hierdie dinge moet kyk, want so baie van ons mense word juis gelei en ,mislei om juis mense te volg wat vals is. Met die tyd word al hierdie dinge egter ontbloot, maar kom ons baie keer eers baie laat ons foute agter.

Party mense kan mos vreeslik oortuigend wees en klink, met die gevolg dat ons hul sienswyses op-eet as die waarheid. Ons hoor mos skere mense het genoeg gehad van babakos en soek eerder vaste kos....maar die vraag is waarmee eet hulle hulself dan so vol? Veral as ons sien hulle lewens lyk maar na ‘n tyd soos dowwe koringpitte.

Vanoggend se gedeelte praat van dat ons heelhartiglik moet terugkeer nie die Here. Met alles wat ons is. Hy soek nie net ‘n uiterlike vertoon nie (vers13) “Skeur julle harte nie julle klere nie”.  Vir te veel keer het ons dalk in die verlede al gereageer op die oproep van die Here deur maar net aan die buitekant te wys dat ons Hom liefhet.

Wanneer ons nie heeltemal uitverkoop is aan Hom nie, en wanneer ons nie heeltemal oorgegee is aan Hom nie,  is ons geloof niks anders as uiterlike vertoon nie. So ‘n uiterlike vertoon van geloof se uit-einde is maar altyd  dieselfde, want na ‘n verloop van tyd word die waarheid van die toestand van jou hart maar weer altyd ontbloot deur dit wat jy doen en ander mense kan sien.... Dit vergelyk goed met die teleurstelling van ‘n boer waneer hy homself voorberei het vir ‘n groot oes maar agterkom sy lande is vol dowwe pitte. Hoe dink jy is die Here se reaksie op die vrugte van jou lewe en geloof in Hom? Het Hy by jou enigiets om te oes?

Vers 16 se oproep om die volk op te roep en te reinig gaan juis oor die volgende paar weke gebeur in ons gemeente.... waar daar heelparty geleenthede geskep gaan word waar ons opnuut kan terugkeer na ons Hemelse Vader toe.... gebruik die geleentheid hierdie keer om te verseker dat dit wat mense van jou buitekant sien ook dit is wat aan die binnekant van jou lyf aan die gang is....

Vanoggend se oproep is gebasseer op die laaste deel van vers 14 ....” sodat daar weer graan en drankoffers sal wees...” Kom ons offer onsself hierdie jaar aan die Here in ons gemeente. Kom ons gee meer van onsself. Kom ons raak betrokke, kom ons wees deel van God se plan vir ons Sy kinders hier in Gamtoosvallei-oos....

Ek wil kortliks vertel van my Kersdiens-ervaring op Betties Baai..... Ons het geweet dat die kerk baie vol gaan wees en dat ons baie vroeg kerk toe sal moet gaan om ‘n lekker sitplek vir ons te versker. Ek het vir ‘n slag dus ook soos julle in die kerk self gesit en rondom my gekyk na die mense. Wat my veral bygeval het is die mense se reaksie as daar iemand is wat laat ingekom het en wat ‘n sitplek gesoek het.

Mense het mekaar doelbewus geignoreer net sodat hulle nie hoef op te skuif en plek te maak vir ander nie. Hulle sal alles in die boek probeer om mense dus mis te kyk net om die verleentheid te spaar.... Hier sit ons in die kerk en wag op ‘n boodskap van die geboorte van die Here Jesus maar daar is mense tussen ons wat nie eers kans sien om plek te maak vir iemand anders in die kerk nie....

Ek gebruik juis hierdie beeld vanoggend want ek wil nie hê dat iemand vanoggend ook hierdie truuks moet uithaal om weg te skram van die “ongemaklikheid” van God se roepstem wat vir jou persoonlik kom vra “Kom terug na My toe!”
0 Kommentaar: so far: