POSTED BY John Wait on 07:39 under

Nehemia 5:14-19

Hoe dikwels hoor ons nie klagtes oor swak leierskap nie. Ons hoor van leiers wat hulle skuldig maak aan omkopery. So baie leiers dien net hulle eie belange. Mense jaag leierskapsposisies na ter wille van die eer daaraan verbonde en die voordele wat hulle daarui kan kry. Ons het so ‘n dringende behoefte aan onbaatsugtige en onselfsugtige leiers. Dit geld op alle vlakke van die lewe. In Nehemia 5 vind ons baie belangrike beginsels ten opsigte van leierskap wat vir ons aktueel is. Dit is ‘n spiel waarin elkeen van ons na onsself moet kyk.

In die boek Nehemia, word ‘n aantal belangrike dinge oor hom as leiers gesê. Ons lees dat hy ‘n diep gelowige man was. Ons lees telkens dat hy gebid het en die Here geraadpleeg het. Hy was diep afhanklik van die Here.

Hy was ‘n leiers wat diep geraak is deur die omstandighede van sy landsgenote en geloofsgenote. Ons lees in die vorige hoofstuk dat hy mense wat finansieel swaar gekry het gehelp het (Neh 5:8). Hy het byvoorbeeld van sy medegelowiges wat hulself as slawe moes verkoop aan heidene, losgekoop sonder dat hulle daarna enige verpligting teenoor hom gehad het.

Hy was ‘n beredenernde man. Hy het eers baie goed oor ‘n saak gedink, en dan gedoen. Hy was nie juis ‘n man van baie woorde nie, maar wanneer hy gepraat het, kon mens na hom geluister het. Hy het ook nie baie daarvan gehou om baie vergaderings te belê nie, maar telkens waneer dit nodig was, het hy die leiers en die volk byeengeroep, dank on daar geluister word na wat hy sê, en al het hy nie van vergaderings gehou nie, tree hy openlik en deursigtig op en raadpleeg en ken ander voor hy besluite neem en rigting aanwys.

Hy was ‘n leier wat deur sy voorbeeld gelei het. Hy was persoonlik aktief betrokke... hy het nie net gesit en orders uitdeel nie.

In Nehemia 5:14-19 word ‘n ander baie belangrike aspek van sy leierskap belig. Hier lees ons dat van die dag af dat hy aangestel is as goewerneur hy nooit aanspraak  gemaak het op sy goewerneurstoelae nie. Hy het nooit die salaris waarop hy geregtig was, geëis nie, en hy het minstens 12 jaar sonder ‘n salaries gewerk. Hy het selfs  nie vir sy medeamptenare salris geëis nie. Hy maak nie aanspraak op dit wat hom en sy amptenare regtens toekom nie. Wat meer is, Nehemia onderhou die amptenary uit sy eie sak. Honderd en vyftig man van die Judeërs en die amptenare en boonop die mense wat van die heidennasies rondom hulle na hom toe gekom het, het aan sy tafel geëet (Neh 5:17). Daar is elke dag ‘n bees, ses slagskape en ‘n groot klomp voëls voorberei. Daarbenewens moes brood en wyn ook voorsien word. Dink gou bietjie wat dit hom oor die 12 jaar moes gekos het. Meer as vierduisend beeste en ses en twintig duisend skape! En dis maar net die vleisrekening. Hoe onbaatsugtig, versorgend en opofferend was sy optrede nie! As daar nou ooit ‘n leier was wat ‘n voorbeeld gestel het, was dit Nehemia!

Ons lees ook dat Nehemia nie baas gespeel het oor sy onderdane en geloofsgenote nie. Trouens ons lees dat hy ‘n baie nederige person was, en het nooit geroem op wat hy gedoen het nie...

Maar waarom het Nehemia nie op die goewerneurstoelae aanspraak gemaak nie? In vers 18 lees ons: “Nogtans het ek nie die goewerneurstoelae geëis nie, want die werk was alreeds ‘n swaar las op hierdie volk”. Hy het empatie gehad met die volk.  En dit is wat mens dwardeur die boek opmerk...hy besef dat hulle swaarkry, en hulle swaarkry raak hom.

Maar dit was egter nie net om humanitêre redes dat Nehemia nie aanspraak gemaak het op sy salaris nie. In vers 15 lees ons: “Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God”. Hy het nie aanspraak gemaak op die toelae nie, en nie oor hulle baas gespeel nie, uit eerbied vir God. Wat hy vir sy mense doen, doen hy uit eerbied vir God. Die Here het hom geroep en hy staan in die diens van God, en hy dien die Here deur sy medemens te dien.

Dit gaan by Nehemia, dus nie om ‘n ereposisie nie. Dit gaan nie om selfgesentreerdheid nie. Dit gaan nie daarom dat hy ‘n hoë posisie van eer en erkenning wil beklee nie, maar dat hy sy talente, tyd en geld, deur diens aan ander, wy aan die diens aan die Here. Is dit nie ‘n praktiese voorbeeld van  wat Jesus by herhaling gesê het nie? Wie die grootste wil wees, moet ander dien en ‘n dienaar word. Wie homself verhoog sal verneder word. Wie himself verneder sal verhoog word. Is die voorbeeld van Christus, wat Homself volledig gegee het in diensbaarheid aan die sondige wêreld, nie alreeds hier sigbaar nie? Daarom kan die hoofstuk afsluit met die gebed van Nehemia dat die Here sal onthou wat hy gedoen het en sy beloning later mag ontvang. Nie hier en nou nie, maar hierna.

Nehemia 5:14-19 is ‘n spiel waarin ons na onsself moet kyk. Hoe lyk ons? Leef ons soos Nehemia, ons geloof prakties uit?  Soek ons ons eie belange? Jaag ons persoonlike gewin na? Gaan dit vir ons om die posisie wat ons beklee en die geld wat ons maak? Of is ons diensbaar en nederig? Raak die swaarkry van ander ons tot so ‘n mate dat ons bereid is om onbaatsugtige diens te lewer en ander te help?Leef ons na die voorbeeld van Nehemia, en meer nog, na die voorbeeld van Jesus?

0 Kommentaar: so far: