POSTED BY John Wait on 05:36 under

Joël 2 : 18-32

Laas Sondag het ons gehoor dat die Here vir ons as gemeente die beeld van ‘n koringaar gegee het. En dat die koringaar deel van ons visie van die jaar is.

Ons het gehoor dat ‘n koringaar sy kop laat sak as hy vrugte dra... dit is dan ook hoe ons moet wees, nederig omdat ons ook netso maar net die draers moet wees van die vrugte van God se Gees.

Netsoos wat koringare wat nie pitte dra nie (dowwe pitte), selfvoldaan hulself uitstrek ten hemele maar niks substans het om te lewer nie, en sodoende ‘n vermorsing is, moet ons ook hierteen waak om seker te maak ons is nie vol dowwe pitte nie maar wel draers van God’s vrugte.

Ons moet nederig wees, en toelaat dat God die eer kry en eerste staan in ons lewe. Ons moet uitdeel en tot seën van ander wees. Ons moet ‘n graan en drankoffer wees vir God en aan ons medemens.

In die gedeelte wat ons vanoggend gelees het kry ons ‘n pragtige belofte van die Here...En in elkeen van ons se lewens vanoggend kan ons maar openlik getuig dat hierdie belofte REEDS waar geword het, en dat dit vir elkeen van ons reeds ‘n werklikheid geword het in ons lewens.

Ons lees in vers 19 dat die Here  vir ons kom sê dat “ons SAL oorgenoeg hê....” en nou wil ek hê dat elkeen van ons mooi moet gaan nadink hieroor, want daar is regtig nie vanoggend een van ons wat nie kan erken dat ons reeds oorgenoeg het nie.

God het ons van alles kom voorsien wat ons nodig het. Ons kan mos vanoggend getuig dat ons nie kort kom nie. Ons het nou wel nie almal dieselfde hoeveelheid van alles soos lewensmiddele nie, maar die feit is ons het elkeen genoeg om ons lewensdoel na te kom....

Nou wat is ons lewensdoel nou weer?

Dis mos niks anders as om vir God te verheerlik nie. Dis mos niks anders as om koringare te wees wat vrugte dra van die Lewende Here nie. Om die Here se wil te doen...maar meer as dit om dit te geniet! Om uit ons harte uit vir God te loof en te prys, nie net in die kerk nie maar elke dag met elke fasset van ons lewens...

Maar daar is iets wat ontbreek by ons wat genoeg gekry het, en wat God voor genoeg gegee het. Ons is bang! Ons twyfel nog. Ons kruip nogsteeds weg en hoop dat ons nommer net nie geroep moet word om op te staan vir die Here nie.

In vers 21 kom sê die Here vir ons dat ons nie bang moet wees nie. Ons is nog maar net ‘n ploegland waarin die Here Sy koringsaad kom saai het. Hy het ons mos voorberei en ons lê gereed, geploeg.

Ons word verder vergelyk met vee in die veld wat nie moet bang wees nie. Vee skrik mos baiekeer vir enige klein dingetjie.... Maar dan word daar van ons in vers 23 gepraat as “inwoners van Sion! Ons is dus elkeen die “plek” waar God woon. Hy woon mos in ons, Hy is Immanuel! Ons word aangemoedig om bly te wees en te juig tot eer van die Here ons God...hoekom: Omdat Hy die reëns betyd laat kom het, omdat Hy soos wat Hy al soveel kere vantevore vir ons voorberei het om vrugte te dra!!!!

Gaan kyk maar, netsoos ek mos einde laasjaar moes gedoen het, ook in jou eie lewe, hoe Hy jou voorberei het sodat jy Sy vrugte kan dra! Ai God is GROOT!

Dan kom die mooiste van alle beloftes in vers 28 na ons toe: “Waneer dit alles gebeur het, sal Ek My Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jongmans sal visioene sien.” Met ander Woorde, God belowe dat daar groot en bonatuurlike dinge met ons en in ons lewens gaan gebeur. Dat ons kan uitsien na ‘n heeltemal anders en ongelooflik beter lewe as wat ons tot dusver aan gewoond geraak het. Daar is wonderwerke oppad!

God belowe ons dat Hy Sy Gees oor ons gaan uitstort, dat Hy by ons en in ons gaan wees. Hy brei dus vanoggend verder uit oor wat ons te wagte kan wees in ons lewens en hier in ons kerk en in ons gemeenskap. Hy kom gee vir ons ‘n toekomsvisie, Hy kom herhinder ons dat Hy ons al lank genoeg voorberei het....

Maar Hy gaan alweer daai een stappie verder, deur vir ons ook veral te kom sê dat ons nie bang hoef te wees nie. Ons moet net wees wat hy wil hê ons moet wees. Ons moet besef dat God oneindiglik groter as ons en ons eie dinge is.

Hy kom gee opnuut vir ons die beeld van die koring aar en gee vir ons ‘n tweeledige opdrag: Word nederig en buig voor My, een natuurlik: Dra vrugte! Reageer nou op hierdie oomblik opnuut op laas Sondag se uitnodiging : “Kom met julle hele hart terug na My toe!”

0 Kommentaar: so far: