POSTED BY John Wait on 06:13 under

Johannes 11:45-57

Hierdie deel is seker een van die skokkendste dele in die Evangelie van Johannes. Die tragiese lê daarin dat dit van die negatiefste kenmerke van die kerk deur die eeue oopvlek. Dit ruk ‘n mens as ons onsself en ons kerk hierin raaklees. Lees ons hierdie gedeelte, dan besef ons, dit kon netsowel ons gewees het. Daar is nie eintlik ‘n wesenlike verskil tussen ons en die kerk in die tyd van Jesus nie.

Die gedeelte begin baie positief. Baie van die Jode wat na Maria gekom het en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Jesus gekom. Maar dan lees ons dat nie almal tot geloof gekom het nie. Party het dadelik na die lede van die Joodse Raad gegaan en vertel wat gebeur het. Hieruit kan ons twee dinge aflei: Dit blyk datg die Joodse Raad nie daar was nie. Die kerkleiers skitter in hulle afwesigheid. Die kerk is nie teenwoordig waar mense in smart en rou gedompel is nie. Afwesig in ‘n tyd toe Maria en Marta ondersteuning so dringend nodig gehad het. Dis tragies. Hoe dikwels gebeur dit nie vandag nog dat die kerk afwesig is waar mense ly en in smart en rou gedompel is nie. Ons wys so vinnig ons gesig. Ons is soos die lede van die Joodse Raad so besig dat ons nie tyd het om diegene in nood te wees nie.

Die wyse waarop hier ‘n teenstelling gemaak word tussen die wat tot geloof gekom het en die storiedraers, laat blyk dat die storiedraers nie tot geloof gekom het nie. Hulle het ook gehoor en gesien wat gebeur het. Ja, hulle het gesien dat ‘n man wat dood en begrawe was, uit die dood opgestaan het en uit die graf gekom het, maar dit het nie tot ‘n lewensverandering gelei nie. Hulle draf om stories aan te dra. Is dit nie wat nogsteeds gebeur nie? Mense kan nie wag om stories aan te dra nie...en dan is dit nie altyd eers die waarheid nie.

Wat dit nog meer tragies maak, is hoe die kerkleiers op die stories reageer. Die Joodse raad het ‘n spesiale sitting van die Raad belê. Dadelik. Net op grond van wat vir hulle vertel is.

 Wat word tydens hierdie spesiale vergadering bespreek? Hierdie man doen baie wondertekens...dis die kern van die bespreking. Wat het hierdie wondertekens behels? Ons het al gelees van die water wat in wyn geword het, van die genesing van siekes en blindes, van die voeding van mense, van die feit dat Jesus op die water geloop het, van ‘n dooie wat lewend geword het. Maar wat eintlik skokkend was , is die verloop van die bespreking...as hierdie man so aangaan, sal al die mense in Hom begin glo...so dit gaan nie soseer oor die wondertekens nie, maar oor Sy aanhang. Hulle(die Joodse Raad), raak bang dat hulle hul magsposisie in die samelewing gaan verloor. Jesus is besig om hulle te beroof van hulle magsposisie! Dis waaroor hulle bekommerd is.

Die Joodse Raad was eintlik dus net bekommerd oor hulle eie posisie. Hulle was al lankal gevestig, en het diep gewortelde belange in die hele samelewing, en nou is hulle invloed besig om te kwyn. Mense is nie meer tevrede om die ou geykte dinge te hoor nie. Die Joodse geloof het verstar, en vervlak tot ‘n godsdiens met ‘n klomp uiterlike gebruike. Tradisies was baie belangriker as enigiets anders, daar was nie meer ‘n gevoel van empatie of warmte teenoor mekaar nie...

En nou kom Jesus. Hy gee om vir mense. Hy reik uit en help diegene in nood. Meer nog, Hy doen wondertekens as Hy die mense te hulp kom, Hy leer die mense op ‘n nuwe manier, en gebruik nie meer die ou geykte uitdrukkings nie. Hy praat in ‘n taal wat hulle verstaan. Hy lê die Bybel op ‘n besonderse wyse uit, nie soos die Joodse Raad nie. Hy kom uit by die kern van die boodskap en verwoord dit in ‘n aktuele vorm. Nuut kom die ou, ou boodskap!

Dit kan die kerkleiding nie hanteer nie! Helaas is dit ‘n tragiese waarheid wat sedertdien nog nie veel verander het nie. Die kerk is dikwels die heel laaste instansie  wat verander, as dit hoegenaamd verander. Die kerk is soms ligjare agter die res van die gemeenskap, want gevestigde belange dra te swaar gewig. Mense wat nie presies sê soos wat die kerk dit al vir eeue sê nie, word uitgeban. Geen wonder dat ons vandag weer sit met ‘n afname in kerklike betrokkenheid nie. Kerke loop leeg, en die aanhang en aansien van kerke verdwyn.

Lees ons wat Johannes hier skryf, word dit net al erger. Die Joodse Raad, besluit dat Jesus uit die weg geruim moet word. Let op, dis nie die duiwel wat so besluit nie, nie die ongelowige wêreld nie, nie die leiers van ander godsdienste nie. Nee, hierdie besluit val op ‘n spesiale vergadering van die Joodse Raad. Die Hoofraad, of Algemene Sinode van die kerk van daardie tyd neem hierdie besluit!

Voordat ons nou terugsit en sê dat ons gelukkig nou nie meer die pad van die Joodse Raad volg nie, moet ons net ‘n bietjie weer na onsself kyk. Is daar tog nie iets van hulle in ons nie? In ons tyd hoor ons net te dikwels oordele op grond van stories. Sien ons te dikwels agter die optrede van party mense iets  van die Joodse raad deurskemer. Nee, ons wil nie vir Jesus doodmaak nie, maar maak ons nie baie keer Sy werk ongedaan nie? Ons hoor wat Hy gedoen het, ons lees wat Hy vra, maar kyk ons wat gebeur rondom ons dan sien ons maar min hiervan.

Ons is nie betrokke by die nood en lyding van mense, selfs van ons eie lidmate. Ons is vyandig teenoor diegene wat op nuwe maniere die ou, ou boodskap van Verlossing in Jesus verwoord. Ons wil dikwels niks weet van eerlike pogings om die Bybel en sy boodskap oor te dra vir die moderne mens nie. Ons spreek nie meer die nood en vrae van die mense aan vandag nie. Ons leef nie die boodskap van Christus uit nie. Dan moet ons mos elkeen erken: Dis nie die Jode wat Hom gekruisig het nie, dis nie die Roemeine wat Hom aan die kruis laat sterf het nie, dis ons....nee dis ek wat Hom gekruisig het. Elke dag word Hy gekruisig. Elke dag soek mense Sy dood. Elke keer as ons ons eie belange voorop stel en Hom nie volg nie, soek ons Hom om Hom dood te maak.

In hierdie gedeelte hou Johannes ‘n spieel vir ons voor waarin ons onsself raaksien. Laat ons nie die Jode en die Joodse Raad veroordeel nie. Kom ons sien onsself raak. Want eers as ons onsself raaksien, kan ons voor Hom neerval en pleit om Sy genade; om
0 Kommentaar: so far: