POSTED BY John Wait on 06:07 under

Filippense 2:1-11

Die brief aan die Filippense is ‘n merkwaardige brief. Dit is ‘n brief van Paulus aan ‘n gemeente met wie hy ‘n besonder goeie en lang verhouding gehad het. Paulus het hierdie gemeente gestig tydens sy tweede sendingreis. Dit was die eerste gemeente in Europa, en hierdie brief is so tien jaar na die stigting van die gemeente geskryf.

 Tussen Paulus en die gemeente was daar nog altyd ‘n hartlike verhouding, en as hy hierdie brief skryf, is Paulus nog in huisarres in Rome. Die gemeente het hom nie vergeet nie en stuur Epafraditos na Rome met ‘n bydrae vir Paulus se onderhoud.

Paulus skryf dan hierdie brief om die gemeente te bedank vir hulle ondersteuning. Hy stuur die brief saam met Epafraditos. Die brief weerspieel die diepe dankbaarheid van Paulus teenoor die gemeente in Filippi. Wat veral merkwaardig is, is dat dit ‘n brief is waarin blydskap baie sterk an vore kom. Nie minder as veertien keer kom die woord blydskap in hierdie kort briefie voor nie.

Soos ‘n goue draad loop die tema van dankbaarheid en blydskap deur die brief, al sit Paulus in huisarres in Rome, kan dit nie sy blydskap demp nie. Sy blydskap word nie deur omstandighede bepaal nie, maar is ‘n innerlikke blydskap op grond van sy lewende verhouding met die lewende Here. Geen omstandigheid kan dit van hom ontneem nie. Hy roep die gemeente dan by herhaling op om bly te wees in die Here.

Paulus roep die gemeente op om eensgesind en nederig te wees en noem 4 redes waarom. Dit is (1) die troos in Christus (2) die aansporing deur die liefde(3)die gemeenskap deur die Gees (4)en die innige meegevoel en meelewing. Op grond hiervan vra Paulus dat die gemeente sy blydskap volkome sal maak deur eensgesindheid. Hy pleit verder dat hulle niks uit selfsug of eersug sal doen nie, maar dat elkeen in nederigheid die ander hoër sal ag as homself. Hiermee raak hy twee kardinale sake aan waaraan Christene uitgeken behoort te word. Dit is twee aspekte waarin Christene anders is as ander.

Nederigheid kom mos nie algemeen voor onder mense nie. Trouens, dit staan gewoonlik maar op die agtergrond. Ons wil almal mos graag belangrik wees. Ons wil mos voor in die tou staan. Ons wil geag word. Ja dit is presies so, en dit self ook so onder Christene, selfs van die begin af, selfs van die dissipels se tye af. Maar dit hoort nie so nie! Inteendeel, in die koninkryk van God word die orde mos omgedraai en is die grootste die een wat die ander dien. Die dienaar is koning en die koning is dienaar!

Paulus onderstreep sy beroep op nederigheid deur ‘n ou kerklied aan te haal. In hierdie lied word oor Jesus en wat Hy gedoen het, gesing. Palus sê dat die gesindheid wat in Christus was, ook in ons moet wees. Wat behels dit?

Jesus was in die gestalte van God. Hy was op gelyke voet met God, een met God, Hy was immers self God. Maar Hy het  nie sy bestaan op Godgelyke wyse beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie. Hy was nie so gesteld op Sy posisie en status dat Hy ten alle koste daaraan wou vashou nie. Dis mos eerder iets wat ons doen, maar Jesus tree anders op.

Hy het Homself verneder deur mens, en boonop nog ‘n dienskneg te word. Dis al self ‘n wonder wat niemand kan verstaan of begryp nie. Hoe kan God mens word? Hoe kan die ewige gebore word as ‘n doodgewone baba? Dit is ‘n misterie waarvoor ons maar net kan stil word...

Dit word nog dieper. As mens het Jesus Homself nog verder verneder deur gehoorsaam  te wees, tot in die dood.... As vervloekte en veragte sou Hy sterf. Bespot deur almal. In die steek gelaat deur Sy vriende. Van God en mens verlate. Die lang en wrede kruisdood sou Hy sterf. Dit was die dieptepunt van Sy vernedering.

God het Hom juis omdat Hy bereid was om Homself so te verneder en so ‘n groot prys te betaal, tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke ander naam is. God het Hom verhoog. Hy het Hom die hoogste eer gegee wat God kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie. Niemand het meer mag as Hy nie. Niemand is so verhewe as Hy nie.

So sing die vroeë gemeente met vreugde. So kan ons vandag sing. Jesus het die hoogste prys betaal toe Hy Homself tot in die diepste moontlike plek verneder het in volkome  gehoorsaamheid aan God die Vader en gedring deur Sy onbegryplike groot liefde vir die mense. Hy het nie net die hoogste prys betaal nie. God het Hom uit die dood uit opgewek! Hy het opgestaan. Hy leef! Hy het oorwin oor graf en dood en hel. God het Hom verhef bo dit alles. Nou sal amal voor Hom buig en bely dat  Jesus Christus die Here is.

Nou moet ons vergeet, dat Paulus hier ook die gelowiges oproep om dieselfde gesindheid as Jesus te openbaar; om soos Jesus te leef. Dit sal ons niks baat as ons vandag net maar in verwondering kyk na die vernedering en verhoging van Jesus nie. Hierdie gesindheid wat in Christus was, moet ook in julle wees. Dit is die oproep en opdrag.

Die pad wat Jesus geloop het, moet ons ook loop. Soos Hy moet ons ook bereid wees om alles prys te gee om ander te dien. Dit geld vir elke gelowige en op alle lewensterreine. In die huis moet ons onsself prysgee en dien. By ons werk, tussen ons vriende...noem maar op. Die vraag is of hierdie gesindheid wat in Christus was, ook in ons waargeneem kan word.

Hoe gaan dit in ons gesinne en ons families? Is ons juis daar bereid om die minste te wees, om die ander te dien? Ons wil ons maar nogsteeds net die belangrikste wees? Ag on sander hoër as onsself? Of word ons optrede eerder gekenmerk deur selfsug of eersug?

 Dink ons net aan ons eie belange, of dra ons die belange van ander op die hart? Is ons een in liefde, een van hart, een in strewe? Ons behoort elke dag ons eie lewe en die van ons gesin en familie aan hierdie  duidelike norme te toets en te vra of die gesindheid van Jesus ook in ons is.

Dit is slegs as ons die gesindheid van Jesus reflekteer en leef soos Hy geleef het, dat God ons sal verhoog en ons deel sal kan hê aan die ewige fees by Hom. Dan sal ons oorwinning na vernedering smaak...
0 Kommentaar: so far: