POSTED BY John Wait on 07:14 under

Jeremia 32:1-15

In Jeremia 32:1-15 tref ons die verhaal van ‘n grondtransaksie wat Jeremia aangegaan het met sy familie wat in die omstreke van die dorp Anatot gevestig was. Die verhaal lui dat die profeet Jeremia hom in die stadium van sy lewe in aanhouding bevind het in Jerusalem.

In Jeremia 37 en 38 word vertel dat die profeet gearresteer is weens verdenking van hoogverraad omdat hy kwansuis sou na die Babiloniers sou wou oorloop. Hiervoor is hy deur ‘n amptenaar van koning Sedekia gevangene geneem en in die staatssekretaris Jonatan se huis, wat intussen in ‘n tronk omskep is, opgesluit.

Na ‘n gesprek tussen Sedekia en Jeremia is die profeet begenadig en kon hy voortaan in die binneplaas van die paleiswag onder toesig bly. Jeremia het hier kontak met die volk gehad en het voortgegaan om te sê dat die stad in die hande van die Galdeers(Bailoniers) sou val.

Weer het die amptenare ingegryp en Jeremia beskuldig dat hy die volk moedeloos maak. Op hulle aandrang en met toestemming van die koning is die profeet toe in ‘n modderput laat afsak. ‘n Sekere Ebed-Melek het egter die profeet se saak by die koning bepleit en hy is weer toegelaat om in die binneplaas van die paleiswag te bly. Dit is hier waar ons hom nou aantref in die verhaal van die grondtransaksie.

Jeremia het ‘n boodskap van die Here ontvang waarin hy meegedeel is dat sy oom Sallum se seun na hom tou sou kom met ‘n aaanbod om familiegrond te bekom deur sy lossingsreg uit te oefen om die grond te koop.

Lossingsregwaarvan ons ook lees in Levitikus 25:25-31, en Rut4:1-4 het behels dat sou ‘n familielid om finansiële of een of ander rede nie meer sy grond kan behou nie, die naaste lid van die familie sy reg om lossing kon uitoefen deur die grond te koop om dit sodoende in besit van die breër familie te bly behou. Sou die naaste lid van die familie egter nie sy verpligting kan of wil nakom nie, sou die reg op lossing oorgaan op die naasvolgende familielid.

 Hierdie hele gebruik moet gesien word teen die agtergrond van die belangrike tradisie dat die land wat die volk van Israel besit het, ‘n gawe was wat die Here aan hulle gegee het toe hy hulle die beloofde land laat beërwe het.

Toe die broerskind genaamd Genamel dan by die paleis aankom met die aanbod van die grond, het Jeremia geweet dat die woord wat hy ontvang het, van die Here af gekom het. En nou word ons vertel dat die profeet besluit het om die transaksie te sluit met sy neef deur die grond te koop. Hy het twee honderd gram silwer afgeweeg, ‘n kontrak opgestel met ‘n seël daarop en hy het getuies laat teken om die transaksie  wettig te maak.

Daarna het hy die getekende koopkontrak met ‘n seël daarop sowel as ‘n afskrif daarvan sonder ‘n seël, voor die oë van die getuies in die binneplaas, aan Baruk gegee. Sy opdrag aan hom was dat hy die tersprake dokumente moes plaas in ‘n kleipot waar hulle lank onbederf kon bly. Hy sluit die verhaal met die woorde: “Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word” (Jer. 32:15).

Die hoofkarakter van die verhaal is die profeet Jeremia wat in die betrokke verhaal die persoon is wat die daad van grondkoop uitvoer. Van hom weet ons uit die lees van die boek redelik baie, maar die belangrikste is die feit dat hy deur die Here geroep was om ‘n mondstuk vir die volk te wees. Daarom word in die verhaal ook beklemtoon dat hy woorde van die Here sou ontvang het. Dit is juis vanweë die feit dat hy oordeel oor die regering uitgespreek het, dat hy hom in aanhouding bevind het. Hy het naamlik aan Sedekia gesê dat hy nie aan die hande van die vyand van die volk sou ontsnap nie, maar dat hy saam met ander volksgenote in ballingskap weggevoer sou word. Boonop sou die Babiloniërs die stad inneem en verwoes. Hierdie skerp woorde was die rede vir die profeet se ongewildheid in sy landstreek. In ons verhaal lê die klem egter nie op sy woorde nie, maar op sy optrede. Hy is die profeet wat ook doen wat die Here hom sê om te doen.

Die verhaal speel af in die paleis in Jerusalem en wel in die binneplaas van die paleiswag. Volgens hoofstuk 32:1-2 was Jerusalem in die stadium onder beleg van die Babiloniërs, rondom die jaar 586 voor Christus.

 Hoewel Jeremia hom hier in die paleis in aanhouding bevind het, kon hy redelik vrylik rondbeweeg soos blyk uit die feit dat hy in aanraking gekom het met die Jode (32:12) en met die volk gesels het (38:1).

Dit is tog interessant dat hoewel die stad onder beleg was, dit wil voorkom of die noordelike grens nie in die stadium totaal ontoeganklik was nie. Juis in die tyd het Genamel vanuit Anatot gekom om met Jeremia te kom onderhandel oor sy oom se grond. Hoe Genamel die beleërde stad kon binne kom is nie duidelik nie. Maar vir die doeleindes van die verhaal was dit egter belangrik dat laasgenoemde moontlik was.

Wat wil die verhaal komunikeer? Die verteller van die verhaal wil eerstens vir die hoorder en later vir die lesers iets vertel van die profeet Jeremia en tweedens iets oor die volk, die land en hulle toekoms.

Niks in die verhaal moet as toevallig gesien word nie. Nie die plek waar die gebeure afspeel nie, ook nie die keuse van karakters nie. Dit was vir die hoorders en vir die latere tradisies wat te doene sou kry met Jeremia se verkonindiging, belangrik om hom te sien  as die profeet wat van die Here gehoor het, maar ook die een wat gedoen het wat die Here hom bevel het.

 Hy was ‘n man wat in ‘n besonderse verhouding met die Here gestaan het en dus moes sy woorde en dade gesag afdwing. Die geskiedenis sou bewys  dat hy ‘n ware profeet van die Here was. In die lig hiervan moet dan gekyk word na die grondtransaksie wat Jeremia aangegaan het.

Die feit dat die profeet hom in aanhouding bevind in die paleis is belangrik vir die beklemtoning van die persoonlike vryheid wat Jeremia ondervind het, maar ook vir die vreemdheid van sy optrede deur grond te koop in sy besonderse omstandighede.

Die beklemtoning van sy omtandighede asook die uitsigloosheid van die stad en die land se toekoms maak sy optrede iets opmerkliks en buitengewoon. Jeremia verkondig dat die stad verwoes gaan word  en dat wegvoering in ballingskap vir die koning en volk voorlê en hyself is ‘n onvry mens, maar nogtans koop hy grond. Vreemde optrede sou ons sê. Ek kan jou verseker dat die amptenare van die koning dit netso vreemd gevind het en by hulle die vermoede moes laat ontstaan het dat Jeremia met die vyand saamsweer.

By die uitsigloosheid van omstandighede is daar nog ‘n eienaardigheid wat opval en vermelding verdien. Tydens die regeringskap van Sedekia was Jeremia nie meer ‘n jongman nie en volgens die woord wat hy van die Here ontvang het, sou die volk vir sewentig jaar hulle in ballingskap bevind voordat hulle sou terugkeer na hule eie land. Sonder om te probeer spekuleer oor hoe oud die profeet sou wees na die sewentig jaar(in die omgewing van 120jaar), is dit onwaarskynlik dat hy nog sou leef om die terugkeer te sien realiseer.

Die profeet gaan dus ‘n transaksie aan sonder dat hy self enige voordeel daaruit sou kon put. Dit moet vir ons ‘n duidelike aanduiding wees dat die verhaal iets besonders wil kommunikeer, anders is die profeet se optrede totaal sinloos.

Die verteller van die verhaal wil aan die hoorders of lesers kommunikeer dat Jeremia se grondtransaksie iets te sê het oor die toekoms van die volk en die land. Jeremia se optrede simboliseer iets oor die toekoms van Juda.

Ons weet dat simbole daartoe bydra om ons uitsig op sake te verbreed, ons verbeelding te stimuleer en om ons verstaan van sake te verdiep. Jeremia wou deur sy optrede , te midde van sy eie onvryheid, die volk en die koning se wanhoop in die toekoms aantoon dat hy geloof in die Here en daarom in die toekoms het. Hy wou deur koop van die grond, wat na ‘n sinlose transaksie lyk, aan die volk van Juda sê hy glo wat God sê naamlik: “Daar sal weer huis en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.”

Jeremia se daad is niks anders as ‘n belegging in die toekoms van sy volk nie. Hy wil sê: “Kyk verder as julle huidige uitsigloosheid en sien die toekoms raak wat die Here vir julle moontlik sal maak.”

Jeremia se simboliese daad wys heen na dit wat verder lê as hulle huidige, en open so ‘n blik op die toekoms. Die verhaal van die grondtransaksie simboliseer  hoop in die toekoms van sy volk en sy land. Die Here, die Almagtige sal die onmoontlike in ‘n moontlikheid verander.

Dit is ‘n besonderse verhaal met ‘n besonderse betekenis: Daar is hoop in die toekoms van God se volk. Hierdie verhaal vertel van die betrokkenheid van die profeet as verteenwoordiger van die Here, by die nood van sy volk. In ‘n tyd van nood verseker hy hulle dat die Here hulle nie aan hulle lot sou oorlaat nie, maar dat daar hoop is in die toekoms.

As ons werklik glo dat die Here Sy hand in ons lewens en geskiedenis het, dan moet ons Hom vertrou wat ook ons toekoms in Sy hand het. Sonder hoop kan geen mens voortbestaan nie. Die verwagting dat iets beters voorlê, motiveer ons om in beweging te kom en te werk in die bereiking daarvan.

Soos wat die profeet deur middel van sy simboliese handeling ‘n konkrete heenwysing vir sy volk wou gee as bewys van sy geloof in die Here van die toekoms, so moet ons ook waarde heg aan die konkrete simbole wat deel uitmaak van ons geloofwêreld. Miskien
0 Kommentaar: so far: