POSTED BY John Wait on 18:04 under
Eksodus 15:22-16:7

Wie van ons het nie bekommernis nie? Wie van ons kan in alle eerlikheid sê: Daar is absoluut niks waaroor ek my nie bekommer nie? Het bekommernis nie ‘n inherente deel van ons lewenswyse geword nie?

Miskien bekommer jy jou oor jou gesondheid, jou huwelikslewe, jou kinders, jou finansiële toestand, jou werk of dalk jou plaas, of besigheid? Miskien oor jou geestelike lewe of die kerk? Miskien oor ons land of ons toekoms?

Bekommernis, het die Spreukerdigter gesê: is die einde van vreugde(Spreuke 14:13), elders sê Spreuke: “Bekommernis in die hart van die mens druk dit neer”(Spreuke 12:25). As ons rondom ons kyk dan sien en ervaar ons so min vreugde en blydskap. Mense loop in die strate, met kommer wat uit die stroewe gesigte en tam houdings blyk. Baie van ons mense is so teeneergedruk, platgedruk deur bekommernis.

Iemand het eenkeer so raak gesê: “Bekommernis bedek nie net die blink van ons vreugde nie; dit roes ons lewe langsamerhand dwarsdeur.Daar is slegs een middel om die blink ongeskonde te bly bewaar, en dit is om dit elke more met geloof en lewensblyheid te vryf.”

Bekommernis kan baie negatiewe gevolge hê. Daar is daagliks honderd en een dinge wat jou heeltemal tereg besorg, maar as jy jou net laat gaan, sal hulle jou gou onderkry en sal jy van die een depressie na die ander beweeg. Sodoende groei daar ‘n atmosfeer van onbehaaglikheid in en rondom jou. Dan stort jy nie alleen jouself in die ongeluk nie, maar ook jou gesinslede, jou familie, jou vriende en almal wat bekommerd is oor jou. Bekommernis is die grootste moordenaar van  die liefde. Dit laat jou voel soos wanneer ‘n drenkeling aan jou vasklou. Jy wil hom graag help, maar jy weet hy gaan jou verwurg in sy paniek.

Bekommernis kan tot depressie aanleiding gee. Dokters en sielkundiges se spreekkamers sit vol mense wat so volhard het in hulle bekommernis dat hulle in een of ander vorm van depressie verval het.

Dui bekommernis nie dalk ook op ‘n gebrek aan geloof en geloofsvertroue nie? Iemand het eenmaal gesê: “Bekommernis is om ‘n las te dra wat God ons nooit opgelê het nie.”

Natuurlik is dit so dat diep gelowiges ook met groot bekommernisse rondloop en dat ons geloof ons nie vrywaar van bekommernis nie. Inteendeel, gelowiges kan ook depressief word. Dink maar net aan Elia wat die woestyn in geloop het, onder ‘n boom loop lê het en gewens het hy kan sterf omdat alles om hom donker geword het en hy het nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Die vraag is net: hoe hanteer ons ons bekommernisse?

In Eksodus 15 en 16 lees ons van ‘n depressiewe volk van die Here. Dit gaan hier oor die bekommernis van die Israeliete en hulle hantering van hulle bekommernisse. Kom ons kyk daarna, want dalk gee dit vir ons riglyne, dalk leer ons hoe ons nie ons bekommernisse behoort te hanteer nie.

As die Here hulle verlos en hulle deur die see lei en hulle vyande vernietig, sing hulle van blydskap. Maar die oomblik as hulle swaarkry, as hulle sonder kos of water is, dan verdwyn die vreugde. Dan word die bekommernis oor wat hulle sal eet en drink allesoorheersend. Danbekommer hulle hulle en sê: “Wat moet ons eet en drink?”

Die oomblik as hulle hulle begin bekommer, begin hulle verwyt. Hulle verwyt hulle leiers as hulle sê: “Julle het ons in die woestyn uitgelei om hierdie hele vergdadering van honger te laat sterwe”(Eks. 16:3). Hulle bekommernis lei niet net daartoe dat hulle vertroue in hulle leiers verloor nie, maar dat hulle ook hulle vertroue op die Here verloor. Hulle verwyt die Here. Hulle verwyt Hom omdat Hy hulle uit Egipte verlos het. Hulle bekommernis verdryf hulle geloof in die Here; hulle vertroue in die Here; hulle liefde vir die Here. So breek hulle kommer heeltemal af.

Maar nog meer. Hulle bekommernis lei daartoe dat hulle alleen na die verlede hunker. Hulle verlang terug na die vleispotte van Egipte. Maar was die verlede so wonderlik as wat hulle nou in ‘n toestand van depressie maak? Nee. Hulle idealiseer die verlede. Hulle siening van die verblyf in Egipte is nie waar nie, want toe hulle in Egipte was, het hulle geroep om uit Egipte verlos te word...

Hulle bekommernis lei daartoe dat hulle nie meer wil leef nie. So word hulle tipies depressiewe mense wat net moeg is vir die lewe, wat nie die mooie te midde van moeilike omstandigehede raaksien nie....

Die arme Israeliete! Hoe kon hulle tog so dwaas gewees het? Hoe kon hulle tog so bekommerd, so depressief geword het? Dit dan pas nadat hulle die grootste verlossingsdade van die Here aanskou en beleef het.

Miskien het hulle gedink as die Here ons verlos het, sal alles seepglad verloop. Dan sal daar geen probleme meer wees nie. Toe moes hulle op die harde manier ontdek: die pad van die verloste loop ook deur die dorre woestyn van swaarkry en lyding...

Hier in die woestyn het hulle bekommerd geword. Maar hier kon hulle ook leer wat Petrus later vir die gelowiges wat diep gely het, skryf: Werp al julle bekommernis op Hom wat sorg vir julle. Dit was nie nodig dat hulle bekommerd en selfs depressief geraak het nie. Die Here het voorsien. By Mara het Hy die bitter water soet gemaak. Hy het hulle gelei na Elim waar twaalf fonteine was. Hy het water uit die rots laat borrel. Die Here het hulle gevoed met manna en kwartels. Hulle bekommernis was vergeefs...want hulle het geleer, dat dit niks baat om jou te bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet en wat julle sal drink nie.(Matt.)

Wees nie bekommerd, of besorgd, of depressief nie. Glo net. Die Here is jou God wat jou verlos het. Jou lewe is in Sy hande, Hy sorg vir jou, Hy dra jou...

Mag ek weer vra: “Is jy bekommerd? Druk die kommer van die lewe jou plat sodat jy mismoedig en pessimisties voel? Sodat jy wil uitroep: “Ek kan nie meer nie?”

Ons leef in ‘n kommervolle wêreld. Is ons deel daarvan? Ons wat onlangs nog gejuig het oor die verlossing van die Here, ons wat gehoop het: nadat die Here ons vrygemaak het, sal hierdie swart kommerwolk verdwyn.

Nou lê alles soos ‘n berg voor ons. Bekommer ons ‘n geliefde wat siek is; oor ons huwelik; oor ons kinders; oor ons werk;oor ons finansies. Dit voel asof ons niks daaraan kan doen nie, ons word depressief. Die bekommernis verdryf alle vreugde en maak ons lam en passief, en dan begin die verwyte teenoor ander, dan begin ons mos die fout by ander soek. Miskien sê ons: dit is die Here se skuld dat alles so gebeur... dan verloor ons perspektief en hunker ons ook na ‘n verlede wat ons geïdealiseer het maar wat eintlik nooit so bestaan het nie. Dan sien ons nie meer kans vir die hede of die toekoms nie.

Miskien sê ons ook... ek wens ek was eerder dood. Ag as die Here my maar net wil kom vat.

Nee, ons mag nie. Ons behoort nooit ons bekommernisse so te hanteer nie. Eintlik het Israel op die wyse glad nie hulle bekommernisse hanteer nie. Verwyte, veridealisering van die verlede en verlies van perspektief, wanhoop en die wens om te sterf, is tog nie positiewe hanteringsmeganismes nie. Dit lei tot niks, behalwe om dinge verder te vertroebel en te verduister...

Die Israeliete moes leer dat God ‘n plan met hulle gehad het. Hy was met hulle op pad van die land van onderdrukking na ‘n eie land waar hulle vry kon wees. Isarel moes leer dat die Here vir hulle sou sorg. Hulle moes nie angstig rondkyk nie, Hy sou hulle beskerm en dra, Hy sou versorg, Hy het water, kwartels en manna voorsien...netso moet ons ook nie angstig rondkyk nie...dieselfde Vader wat vir gister gesorg het, sal vandag en more sorg. Ons moenie ons bekommernis hanteer soos die Israeliete nie....ons moet net op God vertrou en op Hom wag...sonder om ons oor onnodige dinge te bekommer....
0 Kommentaar: so far: