POSTED BY John Wait on 07:07 under
Johannes 6:41-7:9

Johannes vetel nogal dikwels in sy Evangelie dat mense Jesus nie verstaan het nie. Omdat mense Hom nie verstaan het nie, was daar telkens verskillende reaksies op Sy woorde en dade. Daar was meer verdeeldheid oor Jesus se optrede as wat daar eenstemmigheid was. Dis helaas nogsteeds so.

Waarom het die mense wat na Jesus geluister het, nie altyd goed verstaan wat Hy gesê het nie? Ons kan verskillende antwoorde gee. Wat Jesus gesê het, was nie in lyn met hulle tadisies nie. Dit het nie altyd ooreen gestem met hulle opvattings oor dinge nie. Hulle het op ‘n ou geykte manier gedink, en Jesus praat op ‘n nuwe manier. Hy ruk hulle en hulle moet nut dink oor dinge. Daarby praat Hy, soos blyk uit die Evangelie van Johannes, nie altyd op maklike manier nie. Mens moet mooi luister en goed nadink oor wat Hy gesê het as jy iets daarvan wil verstaan en begryp.

Dit was nie net destyds so nie. Ons verstaan ook nie aldag mooi nie. Ons is maar netso geneig om op bepaalde tradisionele maniere te dink. Ons begryp ook nie aldag nie omdat ons alles wil verklaar in ooreenstemming met wat ons dink en ken. Ons wil selde nuut en ernsitg dink oor Jesus en wat hy dan gesê het.

In hierdie vorige deel het Jesus vir die skare wat deur Hom gevoed is, gesê dat Hy die brood van die lewe is. Hy is die brood wat God gee en wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Dit sluit aan by die algemene wêeldbeeld van destyds.

Die mense het toe gedink daar is eintlik twee wêrelde : die wêreld daar bo, of liewer die hemel, en die wêreld hier onder of die aarde. In die hemel is alles volmaak, dis dan die woonplek van die gode. Daar is lig en algehele afwesigheid van enige gebrek. Die teenoorgestelde is waar van die aarde of die wêreld hier onder. Vir hulle was die hemel en die aarde geskei en was daar geen moontlikheid dat die mens van die wêreld na die hemel toe kon gaan nie. Hulle het hoogstens gedink dat as mens sterf, jou siel bevry word soos ‘n voël uit ‘n kou en slegs dan sal jy iets van die die hemel dalk kon smaak.

Nou sluit Johannes by hierdie beeld aan. Maar hy beklemtoon dat Jesus van die hemel gekom het. Trouens dit doen Hy meer as enige van die ander Evangeliste. Jesus bring so die hemel aarde toe. En Hy open die weg na die hemel. Nou kan die mens wat in Hom glo, deur Hom die ewige lewe hê. Kan die gelowige reeds hier op aarde iets van die hemelse heerlikheid smaak en sal die gelowige na die dood die volheid daarvan beleef. Dit is wat Jesus onderstreep as Hy sê dat Hy die brood van die lewe is.

Die Jode verstaan dit nie. Hulle kan dit nie begryp dat Hy die brood is wat van die hemel af kom nie. Hulle ken dan Sy ouers, hulle ken Sy familie...Nee, Sy koms van die hemel is nie te rym met hulle kennis nie. Rasioneel kan hulle dit nie verklaar nie. Dit pas nie in by hulle kennis en verwysingsraamwerk nie.

In die daaropvolgende gesprek poog Jesus om dit duideliker te maak. Hy noem ‘n paar dinge. Eerstens sê Hy dat niemand na Hom toe kom as die Vader wat Hom gestuur het, die person nie na Hom toe trek nie. Die mens kan nie uit sy eie na Jesus toe kom nie, soos die die mens nie uit sy eie na God toe kan gaan nie. God is mos in die hemel en niemand kan van die aarde by die hemel uit kom nie. Om by Jesus en God uit te kom, is nie die prestasie van die mens nie, maar ‘n genadedaad van God. God trek ons na Hom toe .

“n Bietjie later sê Hy dat die wat na die Vader luister en van Hom geleer het, na Jesus kom. God trek dus nie sommer nie. Hy trek diegene wat luister en leer.

Tweedens sê Jesus dat Hy die gelowiges op die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. Wie, in Hom glo, het die ewige lewe. Let op, sal nie eendag die ewige lewe hê nie, maar het nou al die ewige lewe. Is dus nie meer van die aarde aards en sterflik nie, maar lewe. Al sou hy dan sterf, dan sal hy nog opstaan op die laaste dag.

Derdens sê Jesus dat niemand die Vader gesien het behalwe Hy nie. Later sou Hy hierop uitbrei en daarop wys dat wie Hom gesien het, die Vader gesien het. Nie net is kontak met die hemel moontlik nie. Nie alleen kan die mens nou reeds die ewige lewe hê nie, maar die mens kan nou kontak met God hê. So ‘n persoonlike kontak met Hom hê en in so ‘n persoonlike verhouding met Hom staan dat gelowiges as’t ware God sien. Maar dit is alles net moontlik deur Jesus.

Jesus sê dat mense net deel kan hê aan die ewige lewe as jy Sy liggaam eet. Dit het die Jode glad nie verstaan nie. Bepleit Hy dan nou kannibalisme? Hoe kan mens tog Jesus eet? Dis mos nie logies of aanvaarbaar nie? Nee wat, dit kan ons nie aanvaar of glo nie. Die Jode verstaan nie, en hulle verwerp Sy uitsprake.

Jesus herhaal wat Hy gesê het. Laat dit goed gehoor word en insink. Wie nie die liggaam van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het nie die lewe nie. Wie My liggaam eet en My bloed drink, het die ewige lewe.

Nou is dit nie net die Jode wat nie verstaan nie...baie van die dissipels van Jesus sê: Wat Hy nou sê is darem te erg. Dit klink bietjie te kras. Dit kan tog nie! Wie kan dit nou doen?

Jesus hoor dat hulle mor en sê dan dat dit vir die mens onmoontlik is om te glo. Maar dit is alleen deur die Gees dat die mens kan glo. Dit is immers dat as God die mens na Hom toe trek dat die mens kan glo en verstaan. Nog verstaan of aanvaar baie dit nie. Trouens, hulle is so geskok dat hulle omdraai en huis toe gaan en nie meer saam met Jesus wil gaan nie. Baie draai die rug op Jesus. Nou sê Hy darem dinge wat te erg is. Nou verstaan ons nie meer nie. Wat Hy nou sê pas nie in by hulle denke nie.

Dit het nie net toe gebeur nie. Dit gebeur vandag nogsteeds. Baie draai die rug op Jesus omdat die eise wat Hy stel nie inpas by ons denke en opvattings nie. Die ergste is dat baie nog op die oog af saamgaan; in die kerk is, maar lankal nie meer regtig by Hom is nie.

Daar was egter ook ‘n ander reaksie. Sommige van die dissipels bely hulle geloof. By monde van Petrus bely hulle: U het die woorde wat lewe gee. En ons glo vas dat U die Heilige van God is. Al verstaan hulle nie alles nie. Hulle kan net glo. Vas glo dat Jesus die Heilige van God is. Is dit nie nodig dat ons ook soms maar net moet bely nie? Ons verstaan nie alles nie, maar glo vas dat Jesus die Heilige van God is. Dis eintlik al wat Hy vra. Aanvaarding, gehoorsaamheid en die navolging van Sy voorbeeld.

Daar was nog reaksie op Jesus se woorde. Die reaksie van Sy broers. Hulle wil hê dat Jesus na Judea toe moet gaan. Al het hulle geweet dat die Jode Hom wou doodmaak. Uit hulle reaksie blyk dit dat hulle eintlik kwade bedoelings gehad het. So asof hulle moeg is vir Hom. So sarkasties. Hy wil mos bekend en beroemd wees. Dan moet Hy Hom mos openlik aan die wêreld bekend maak. Hoor ons die spot; die vermaaklike toon? Hierdie reaksie is ook een van verwerping. Johannes skryf: Selfs Sy broers het nie in Hom geglo nie.

Nou is dit maklik om vinnig te oordeel. Dit pas egter nie. Ons moet onsself raaksien in hierdie mense en groepe. Reageer ons soos die Jode of soos die wat weggedraai het of soos die broers op Jesus? Of hou ons aan Hom vas soos die ander dissipels? Miskien het ons dit verkeerd gestel. Ons sal mos almal gou-gou sê dat ons saam met Petrus  bely dat Jesus die Heilige van God is en die woorde van die lewe het. Teoreties miskien... Maar wat gebeur in ons lewens? Daar reageer ons almal maar soms soos die Jode en die wat omgedraai en weggeloop of soos die broers wat spot....
0 Kommentaar: so far: