POSTED BY John Wait on 20:38 under

Johannes 19:28-42

In die evangelie van Johannes staan die sterwe van Jesus sentraal. Dit is die fokus waarom alles draai. Dit is die spil waarom alles draai. Elke gebeurtenis in die lewe van Jesus wat hier belig word, het verband op die sterwe van Jesus. Die skadu van die kruis val oor elke episode in sy lewe.

Die kruisdood van Jesus is sentraal in die lewe van elke Christen. As Hy nie gesterf het nie, sou ons elkeen se verlossing nie moontlik gewees het nie, sou ons nie met God versoen kon wees nie. Sou ons in die duisternis leef en nie Christene, kinders van God gewees het nie.

Nou is dit so dat Jesus nie alleen gesterf het nie, maar dat hy ook opgestaan het uit die dood. Ons dink eintlik nie aan Sy dood alleen nie, maar altyd aan Sy dood in samehang met Sy opstanding. Dit kan meebring dat ons dink dat Sy dood nie so verskriklik was nie. Kom ons probeer ‘n oomblik net op Sy dood fokus en om Sy opstanding bietjie op die agtergrond te skuif.

Jesus het regtig gesterf. Hy was heeltemal dood gewees. Dit was nie ‘n tipe skyndood nie, maar Hy was dood soos enige mens wat gesterf het. Ons lees hier dat Jesus uitroep: Dit is volbring. Toe het Hy Sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Hy sterf. Hy is dood.

Dat hy dood is, word bevestig deur die soldate wat dit sien. Maar hulle maak doodseker dat Hy dood is deur ‘n spies in Sy sy te steek. Daar kom dadelik bloed en water uit. Dit is ‘n bewys dat Hy regtig dood is. Die feit dat Hy dood is, word ook bevestig deur die ander ooggetuies wat dit alles gesien het. Een van die ooggetuies is die skrywer van die Evangelie. Hy het dit self gesien. Dis nie ‘n oorlewering  waarvan hy maar net gehoor het nie. Hy het gesien hoe Jesus sterf en dat Jesus regtig dood is.

Die feit dat Jesus regtig dood was, kom verder duidelik na vore as Josef van Arimatea Jesus begrawe. Hierdie Josef was ‘n dissipel van Jesus. Hy was egter bang vir die Jode en was derhalwe in die geheim ‘n dissipel van Jesus. Hy wou nie na vore kom nie, maar in die geheim het Hy nie net Jesus bewonder nie, maar ook geluister na wat Hy gesê. Hy het in die geheim geglo.

As Jesus sterf, dan kom hy na vore. Hy gaan na Pilatus en kry toestemming om Jesus te begrawe. Opvallend hoe die rolle hier omgedraai word. Die wat Jesus openlik gevolg het, hardloop en kruip nou weg. Hulle is almal afwesig. Maar die een wat in die geheim ‘n dissipel was, tree openlik na vore en begrawe Jesus.

Nou kon almal hom sien en kennis dra van wat hy doen en waar sy lojaliteit lê. Nou is hy nie meer bang vir die Jode nie. Wat dit nog meer treffend maak, is die feit dat dit in daardie tyd eintlik die plig van die oudste seun was om sy pa te begrawe. Met hierdie daad sê Josef dus dan dat hy ‘n seun van Jesus is.

Mens sidder om te dink wat kon gebeur het as Josef van Arimatea nie na vore gekom het nie. Dit wil al daarna lyk dat die dissipels en apostels so bang was dat hulle Jesus net daar sou laat of dat Sy lyk soos die van die ernstige misdadigers wat gekruisig is, buite die stad gegooi sou word waar die wilde diere en aasvoëls die lyke, dan ook Jesus s’n sou verorber.

Die feit dat Josef Jesus van die kruis afhaal en in doeke toedraai en begrawe, is nog’n verdere aanduiding dat Jesus werklik gesterf het. Jesus was dood.

Die werklikheid van die dood van Jesus is egter nie nie die fokus nie. Wat sal dit in elkgeval help om maar net te weet dat Jesus dood was. Wat help dit om dit as feit te konstateer?

Johannes, netsoos die ander Evangelieskrywers, beklemtoon die kruisdood van Jesus. Johannes wys daarop  dat Jesus gely het, nie net fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik. Hy sterf as vervloekte en uitgeworpene. Hy is allleen. Niemand ondersteun Hom nie, en Hy sterf nie ‘n maklike dood nie. Die kruisdood is seker een van die wreedste maniere om te sterf, dit vat lank en is vreeslik pynlik. Daarby moet Hy naak voor almal hang. Almal kyk met minagting na die Gekruisigde.

Die gestorwe Jesus bring ons by sekerlik een van die grootste misteries. Hoe kan ons dit verstaan? Johannes begin sy Evangelie met ‘n ou gemeentelied. Hierin sing die gelowiges bly van die Woord wat mens geword het. In Johannes 1 hoor ons van die Woord wat mens geword het. Die Woord wat by God was en wat self ook God was. Dit laat ons woordeloos in verwondering voor die misterie van die geboorte van Jesus. Ons kan dit nie verklaar nie. Hoe is dit moontlik dat God mens kan word? Dat Hy wat ewig is, as nietige en klein baba gebore kan word? Dat Hy wat ewig is, as nietige en klein baba gebore kan word en opgroei en groot word soos enige ander kind? Ons kan die geboorte van Jesus nie verklaar nie. Ons kan alleen maar in verwondering stil word voor die grootste misterie en dit in geloof aanvaar. Ons glo dat die Woord mens geword het.

Die Woord deur Wie alles ontstaan het, het mens geword. Jesus was dan die Ewige. Hy was van ewigheid af daar. Is dit dan nie ook weereens ‘n misterie waarvoor ons net kan stil word nie? Ons kan dit nie begryp nie.

God is die groot misterie. Ons kan Hom nie verklaar nie, Hy is ver bo ons verhewe. Ons kan nie eens ‘n begrip vorm va die grootsheid van die skepping nie, wat nog van die grootsheid van die Skepper? Ons kan nie eens die geskiedenis en gebeure in die natuur verstaan nie, wat nog iets begryp van Hom wat bo alles staan en steeds in beheer is. Voor die misterie van God kan ons net in verwondering stil word.

Dan kom die vraag: Hoe kan Hy, wat van ewigheid daar is...sterf? Hoe kan Hy, wat so groot en onverstaanbaar is, sterf? Dit is tog totaal onmoontlik. God kan mos nie sterf nie. As Jesus dan God is, kan Hy mos nie sterf nie... Ja, dit is waar.

Nou kan ons nie die problematiek ontsnap deur te sê dat Jesus as mens sterf nie. Ons kan nie die mensheid en Godheid wat in Christus verenig was, skei nie. Ons kan mos nie sê: nou tree Jesus as mens op en dan weer as God nie. Dan maak ons van Hom ‘n tipe skisofreniese wese. Nee, Hy was ten volle mens en God tegelyk. Aan die kruis het Sy Godheid nie padgegee en nou sterf die mens Jesus nie...

Kom ons wees eerlik: ons weet nie. Ons kan dit eenvoudig net nie verklaar nie. Dit gaan ons begrip te bowe. Hoe hard ons ook al sou probeer, ons kan dit nie verklaar nie. Ons kan dit maar aanvaar. Ons kan dit glo. Dis al. Ons erken: dis waar, Jesus het werklik gesterf. Hy was regtig dood, en in verwondering dink ons daaraan, en met dankbaarheid glo ons dit.

Ons kan maar net in verwondering stil word voor die Here. Ons begryp dit nie, dis te groot vir ons. Al wat ons kan doen, is om God te dank vir Sy liefde wat so groot is dat Jesus vir ons gesterf het. Dit behoort ons te dring om in liefde tenoor Hom en ander te leef. Om uit ons geheime dissipelskap na vore te  tree om Hom te dien...
0 Kommentaar: so far: