POSTED BY John Wait on 16:21 under

Rigters 11:6-12:7

Nood leer bid. Hoe goed ken ons nie hierdie uitdrukking nie. Kom ons wees eerlik: was ons nie almal al hieraan skuldig nie? As dinge skeefloop en ons is in die moeilikheid, en ons weet nie herwaarts of derwaarts nie, dan bid ons. En as ons in die nood bid, dan maak ons allerlei beloftes.

As die Here ons uit hierdie situasie red of ons help, dan sal ons dit of dat doen of nooit ooit dit of dat doen nie. Ja, ons het dit al almal gedoen! So het ons almal al die Jeftapad geloop. Daarom moet ons maar weer mooi luister na hierdie aangrypende en tragiese verhaal. Hierdie verhaal is mos in die Bybel opgeneem sodat ons onsself daarin kan sien en daaruit kan leer.

Die verhaal is eintlik baie tragies. Jefta was die seun van Gilead. Gilead was ‘n vooraanstande stamleier, en Jefta was egter ‘n buite egtelike kind. Sy ma was ‘n prostituut. Tog het hy in die huis van Gilead groot geword. Uit die verhaal kan ons aflei dat hy tot na die dood van sy pa deel van die familie was.

Toe die ander seuns van Gilead groot geword het, het hulle Jefta weggejaag. Dit was sekerlik die laaste strooi. Voor dit het hulle hom na alle warskynlikheid ook met minagting behandel. Op hom neergesien. Hy is gespot en verag, en dit oor sy ma.

Die heel eerste ding wat ons van Jefta lees, is dat hy ‘n dapper soldaat was. Was dit nie dalk meer uit jaloesie as enigiets anders dat hy weggejaag is nie? Die feit dat sy ma ‘n prostituut was, was dalk maar net ‘n rookserm om van hom ontslae te raak omdat sy broers in ander opsigte in sy skadu gestaan het.

Hoe wreed kan mense nie wees nie. Tussen broers en susters is daar soms nie baie liefde nie. Hoe baie keer word daar nie op grond van jaloesie lelik opgetree nie.

Jefta is verwerp. In daardie tyd was dit veel erger as vandag die geval is. Mens was deel van ‘n familie en jou bestaan en alles het saamgehang met jou posisie in die familie. Destyds het kinders mos nie as hulle volwassenheid bereik het, die ouerhuis verlaat en ‘n eie beroep en rigting gevolg nie.

Nou het Jefta geen heenkome gehad nie. Om dinge erger te maak het ‘n klomp leegleêrs hom gevolg! Die toekoms het nie rooskleurig gelyk nie. Tog blyk dit dat hy nie sleg gedoen het nie. Inteendeel, toe dinge vir die broers en familie en stam en selfs die volk duister gelyk het, het hulle hom genader om hulle uit die verknorsing te help! Met die hoed in die hand nader hulle die man wat deur hulle weggejaag is.

Nou is hy goed genoeg! Is dit nie tipies nie! Die verworpene word  nader geroep as dit pas! Sien ons nie iets van onsself in die broers raak nie!

Ek dink ons sou almal gereageer het het as ons in sy skoene gestaan het: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle nou dat julle in die moeilikheid is na my toe?” (Rigters 11:7).

Jefta onderhandel met hulle. Hy maak ‘n ooreenkoms met hulle. Hy sal help, maar dan moet hy hulle leier word! Hulle kon nie anders as om dit te aanvaar nie! Jefta was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Hy maak selfs seker dat die ooreenkoms in die tempel bekragtig word. Sy posisie as nuwe leier is verseker! Jefta is ‘n onderhandelaar van formaat!

Dit kom ook na vore in sy optrede teenoor die koning van die Amoriete. Hy begin met onderhandelings. Hy wil weet waarom die Amoniete hulle wil aanval. Die antwoord is dat dit gaan oor grondbesit. Volgens die koning van die Amoniete het die Israeliete die grond in besit geneem toe hulle uit Egipte uit opgetrek het. Jefta het ‘n ander perspektief. Hy wil nie weet hoekom die grondeis nou na driehonderd jaar eers na vore kom nie, maar wys daarop dat die eis ongegrond is omdat hulle nie die grond verower het nie en nie onreelmatig in besit geneem het nie. Jefta is ‘n onderhandelaar wat sy onderhandelinge voer op grond van feite. As die onderhandelinge op ‘n dooie punt uitloop, tree hy op. Luister mooi. Hy tree nie impulsief op nie. Hy probeer eers alle moontlikhede. As dit nie slaag nie, dan tree hy militêr op. Hy was nie verniet ‘n dapper soldaat nie. Eers onderhandel, dan oorlog!

Is Jefta nie vir ons ‘n voorbeeld nie? Moenie sommer instorm nie. Dink voor jy doen. Mak seker van jou feite. Probeer om sake uit te praat. Moenie emosioneel optree nie, maar baseer jou optrede op feite. Hy is ook ‘n voorbeeld as sy optrede nie net op historiese feite gebasseer is nie, maar ook op geloofsoortuigings. Hy is staan op sy beginsels. As onderhandelinge nie help nie en as hy die ander nie kan oortuig nie, dan tree hy op volgens sy geloofsoortuigings. Miskien kom ons baie meer Jefta’s kort.

Toe Jefta opgeruk het na die oorlogsfront, maak hy ‘n gelofte aan die Here. “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal die een wat my uit my huis tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” (Rigters 11:30).

Ai tog! Dit wil voorkom of die dapper soldaat bang is. Nie dat mens  hom seker kan kwalik neem nie. Die manne onder sy bevel was nie profesionele soldate nie. Hy was nie eers heeltemal seker van hulle toegewydheid en vaardighede nie. Sou hulle in staat wees om met sukses op te tree? Die vyand was groter en sterker as hulle. Daar het ‘n baie moeilike tydjie gewag.

Ons sou na alle waarskynlikheid ook maar baie bang gewees het. Hier is tog iets anders. Jefta, die onderhandelaar, alweer besig om te onderhandel… as die Here hom sal help, dan sal hy… Dit laat mos al klaar die ligte aangaan. Hy stel ‘n voorwaarde aan God. Die Here moet hom help om die oorwinning te behaal. Dan sal hy wat Jefta is, ‘n offer bring. Is hy nie besig om te probeer om God te manipuleer nie? En dit mag mos nie. Mens kan mos nie eise aan die Here stel nie. En dit is presies wat hy hier doen…

Dit wil verder voor kom of Jefta ‘n berekende kans vat. Hy verwys na die een wat hom tegemoet sal kom en sê dat hy hom sal offer. Nou weet ons dat Jefta op daardie stadium nog net een dogter gehad het en nog nie ‘n seun nie. Hy het aangeneem dat een van sy slawe hom eerste tegemoet sal gaan, soos wat die gebruik destyds was. Hy is bereid om een van sy slawe te offer as brandoffer. Wat ‘n verskriklikke belofte maak hy nie! Maar daardeur is dit duidelik dat hy nie juis veel van sy slaaf gedink het nie!

Maar laat ons nie so hard oordeel nie. Miskien sien ons iets van onsself hierin raak. Is dit nie so dat ons soms snaakse spronge maak as ons in ‘n moeilike situasie is nie? Dan maak ons nie net beloftes nie, maar is die beloftes wat ons maak nie Bybels regverdigbaar nie.

Soms kan dit so selfsugtig en selfgesentreerd wees. Is ons nie maar besig om met God te wil onderhandel nie? As U…dan sal ek…Miskien beloof ons nie om mense te offer nie, maar ons maak allerlei beloftes. Ek sal nooit weer drink nie, ek sal nie meer rook nie, of wat ookal, as U my net uit hierdie gemors kan help.

Jefta moes ‘n baie duur prys betaal! Hy moes sy enigste kind offer! Dit kan ons wel van Jefta sê: hy het sy woord gestand gedoen. Anders as wat die meeste van ons doen. Ons vergeet mos ons beloftes al te gou. As die son weer skyn, verdwyn die krisisbelofte soos mis voor die son.

Jefta het woord gehou. Kan ons ons indink in sy situasie? Kan ons ons in die skoene van sy dogter plaas? Hoe moes sy voel? Wat het alles deur haar kop gegaan? In die storie lees ons niks van haar gevoel of emosie nie. Net dat sy gevra het om 2 maande saam met haar vriendinne deur te bring. Sy berus haar en stel haar tot beskikking van haar pa om sy gelofte gestand te doen… Ek sou dit nie kon doen nie. In elk geval nie so gelate nie. Jaarliks is daarna ‘n herdenkingsfees gehou om hierdie onbybelse daad te herdenk. Jefta is so jaarliks herhinner aan sy onbesonne daad.

Dink tog voor jy praat. Moenie in die uur van nood beloftes maak wat jou duur te stank an kom nie. Jou groot mond kan jou duur te staan kom! Is dit nie die rede waarom Jakobus ons ook waarsku en daarop wys dat die tong groot skade kan aanrig nie?

Die Jefta verhaal roep ons almal op om God te vertrou en nie ydel beloftes te maak en ook om te dink voor ons praat, want jou groot mond kan jou duur te staan kom.

Hierdie verhaal wil ons verder waarsku dat ons groot mond en veral dit wat ons so onnadenkend sê, ‘n groot impak op die lewens van ons gesinne en ons kinders kan hê. Miskien lei dit wat ons so onnadenkend sê, nie tot die fisiese dood van ons kinders nie, maar baie kinders se lewens is al verwoes deur dit wat hulle ouers gesê het. Soms sê ouers in die hitte van die oomblik lelike dinge vir hulle kinders en dit laat lewenslange letsels. Soms sê ouers dinge van hulle kinder swat blywende skade aanrig. Soms praat ouers oor dinge wat hulle kinders se lewesn verwoes.

Ouers moet baie versigtig wees wat hulle sê. Hierdie verhaal roep elke gelowige ouer op om in verbondenheid aan die Here te leef, ongeag ons herkoms en agtergrond, ongeag die omstandighede waarin ons verkeer en om op die Here te vertrou, nie onnadenkende beloftes te maak of enigiets onnadenkend te sê wat ons lewens en die van ons kinders kan skaad of verwoes nie…
0 Kommentaar: so far: