POSTED BY John Wait on 10:06 under ,

Lukas 22, Galasiërs 5:13, 6:2

Dink julle ek is net maar julle slaaf.  Is ek voltyds in julle diens? Moet ek net altyd regstaan vir julle? Ek moet net aldag gee en gee en gee en die res van die gesin en familie eis en eis net. Ek is so moeg om heeldag reg te staan en almal te dien. En dan behandel hulle my nog boonop soos ‘n vloerlap. Het ons nie al dikwels hierdie woorde in baie van ons se huise gehoor nie. Het jy dit nie al dalk self gesê nie?

Daar is pa’s wat voel dat hulle net daar is om die res van die gesin te dien. Hulle verwag van hom om altyd reg te staan. Hy moet almal help, hy moet sorg dat daar kos op die tafel is. Hy moet betaal vir alles. Hy moet die huis en tuin versorg en sorg dat alles wat kan loop in ‘n lopende toestand is. Hy moet altyd beskikbaar wees vir die vrou en kinders. Geen wonder hy voel soms soos ‘n gebruiksvoorwerp nie. Sommer maar net almal se bediende.

Daar is seker nog meer ma’s wat voel dat hulle almal se slavin is. Sy moet altyd regstaan met die kos en klere. Sy moet sorg dat die huishouding soos ‘n goed geoliede masjien werk. Sy moet in almal se behoeftes voorsien. As pa sy vinger klap moet sy spring, as boetie of sussie skree moet sy maar daar wees. Haar hele lewe word opgeslurp deur man en kinders. En dan is daar so bitter min erkenning en dankbaarheid.

Daar is kinders wat ook voel dat hulle die onbetaalde gesinslawe is. Seuns voel mos maar dikwels dat die ma’s die dogters voortrek en dat die dogters niks hoef te doen nie terwyl die seuns al die harde en ondakbare werk moet doen. Hulle moet die gras sny en swembad skoonmaak en nog baie meer. So voel die dogters weer dat die seuns nie hulle kant bring nie. Die dogters moet die huis skoonmaak en wasgoed en skottelsgoed was.

Ons dink mos maar almal dat die ander dit altyd makliker het. Ons kry so swaar. Ek is maar net die gesinslaaf.

Agter hierdie woorde en gesindheid, lê ‘n diepgewortelde strewe na mag. Ons wil eintlik net die belangrikste wees. Ons wil die ereplek beklee. Ons wil gedien word. Dit was nog altyd so.

Josef wou ook so graag gedien word. Dit blyk duidelik uit sy drome en die manier waarop hy dit oovertel het. Dit blyk ook duidelik uit die feit dat ons by meer as een geleentheid lees dat die dissipels ook gestry het oor wie die belangrikste was en dat sommiges selfs vir Jesus gevra het om die ereplek in Sy koninkryk te beklee. Kom ons wees maar eerlik: droom ons nie almal maar daarvan nie? Ons wil die belanrikste wees. Ons wil die hoof wees. Ons wil gedien word. En nie net by die werk nie maar by die huis ook.

In Lukas 22:24 lees ons dat daar onenigheid onder die dissipels ontstaan het oor wie die belangrikste was. Die dissipels het vir alle praktiese doeleindes soos ‘n familie gefunksioneer met Jesus aan die hoof van die huishouding of familie. In hierdie familie het daar dan nou ook onenigheid ontstaan. Wie is die belangrikste? Dit is tragies dat dieselfde onenigheid vandag nog in baie families voorkom. Daar is so dikwels spanning oor wie die belangrikste is.

Wat hierdie situasie nog meer tragies maak, is die feit dat hierdie onenigheid pas voor die dood van Jesus na vore kom. Dit vind plaas pas na die laaste avondmaal en die instelling van die nagmaal! Dit moes dan nou juis ‘n besonderse en gewyde tyd gewees het. Nou word dit so verlaag deur ‘n gestryery oor wie die belangrikste is.

Maar moenie oordeel nie. Ons maak ons mos al te dikwels hieraan skuldig. So rondom ‘n groot fees of belangrike geleentheid raak ons mos aan die baklei oor beuselagtighede. Nog voor die dood van ouers raak kinders aan die stry oor die erfporsie en wie die belangrikste is. Dan spat baie gesinne en families uitmekaar.

Jesus praat met hulle. Hy wys daarop dat dit by die nasies so is: die koning speel baas. Maar die wêreldse gesindheid pas nie in die koninkryk van God nie. Hier geld ander beginsels. Hier gaan dit nie om eie mag en aansien nie. Die belangriskte onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Die een wat dien, is die belangriskte! Die orde word dus omgeraai!

Jesus sê dit nie net vir Sy volgelinge nie. Hy het dit ook van Homself gesê. Hy het mos gesê: die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as die losprys vir baie. Dit het Hy nie net gesê nie, maar ook gedoen.

Hy het heirdie belangrike kernwaarheid van die koninkryk van God prakties gedemonstreer. Hy het gekom om te dien. Dwarsdeur Sy lewe het Hy gedien. Hy het uitgereik na siekes en hulpbehoewensdes. Hy het Hom ontferm oor die wat in nood verkeer het. Hy het die verworpenes met ope arms ontvang. Hy het almal gedien. Ja, tot aan die kruis het Hy ons gedien en Sy lewe gegee as losprys vir ons. Hy het die volmaakte voorbeeld vir ons gestel. Wat Hy vra, doen Hy eers…

Hierdie woorde van Jesus het ook betrekking op ons familielewe. Ook in gesins- en familieverband geld die beginsel van die koninkryk van God; die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat leier is, soos die een wat dien.

Dit geld vir ons almal. Al te dikwels wil die man baasspeel. Die vrou en kinders moet hom dien, want hy is mos koning. Of die vrou…die man moet net na haar pype dans en alles doe nom in haar goeie boekies te bly. Die kinders moet mooi in hulle spore trap, want as ma nie gedien word nie, is die gort gaar. Ons kry dit ook onder kinders: ek is die bealngriskte… en party kinders kry dit selfs reg om hulle ouers so te manipuleer dat alles om hulle draai en die ouers in hulle diens staan, en ons kry dit veral in Christen gesinne. Dit rym glad nie met die beginsels wat Jesus hier stel nie. Dit rym nie met die voorbeeld wat Jesus gestel het nie. Die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees.

In Galasiërs 6:2 skryf Paulus: “Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.” Dit geld ook vir die gesninslede en in die gesinslewe. Dien mekaar in liefde. Dra mekaar se laste. Help mekaar. Staan mekaar by, ondersteun mekaar… nie uit dwang nie, nie omdat dit jou plig is nie, nie omdat iemand dit van jou eis nie. Dien mekaar in liefde. Die man dien sy vrou omdat hy haar liefhet. Die vrou dien haar man omdat sy hom liefhet. Ouers en kinders dien mekaar uit liefde.

So moet ons ook in gesninsverband mekaar se laste dra en so uitvoering gee aan die wet van Christus. Man en vrou moet mekaar ondersteun. Moet mekaar se laste dra. Ouers en kinders moet mekaar help en bystaan. Ouers het soms swaar laste om te dra en waaronder hulle knak. So is daar ook kinders wat swaar laste moet dra. Laste wat hulle nie alleen kan dra nie. Wat baat dit as ons praat oor die liefde van Christus as ons nie mekaar se laste dra nie?

Die woorde van ons teksvers roep ons vanoggend op tot selfondersoek: hoe gaan dit in ons huise? Wil ons baasspeel en ander domineer en manipuleer? Stel ons net eise? Of is ons die geringste; bereid om te dien? Dien ons mekaar uit liefde? Dra ons mekaar se laste? Is die gesindheid van Christus ook in ons lewens sigbaar? Is ons bereid om die minste te wees en te dien?
0 Kommentaar: so far: