POSTED BY John Wait on 06:45 under

Esra 4:24-6:12

Dit is so dat gelowiges ook maar dikwels die wind van voor kry. Hiervan het ons laas Sondag(Esra 4) gelees. Is dit nie wat ons ook al beleef het of nou beleef nie? Dit is genadiglik ook so dat onreg selde baie lank bly voortduur. Hiervan lees ons in Esra 5 en 6. Trouens, hierdie twee gedeeltes of verhale staan lynreg teenoor mekaar. Dit is die blye boodskap wat ook vandag nog tot ons kom.

Vir sestien jaar het die werk aan die tempel tot stilstand gekom. Toe het twee profete, Haggai en Sagaria op die toneel verskyn. Hulle spreek die volk op verskillende wyses aan en roep hulle op om die herbou van die tempel te hervat en die Here met oorgawe te dien.

Dit gebeur nie elke dag nie, maar die volk het na die profete geluister en dadelik gedoen wat die profete gesê het. Serubbabel en Jesua, die goewerneur en die hoëpriester neem die leiding en die volk skaar hulle agter hul leiers en begin bou aan die tempel. Hierin het die profete hulle bygestaan en ondersteun.

Dit word tereg as ‘n geloofsdaad gesien. Mense luister na wat in die naam van die Here gesê word en sit dadelik skouer aan die wiel. Geloof is om te luister en te doen wat van jou gevra word.

Gou het daar weer donker wolke om hulle saamgepak. Tattenai, die goewerneur van die Wes-Eufraat, onder wie se jurisdiksie hulle geval het besoek Jersusalem en vra van wie hulle opdrag gekry het om die tempel te herbou en wil ook weet wie betrokke is by die bouwerk. Miskien het hulle moed in hulle skoene gesak, want dis mos presies wat sestien jaar gelede ook gebeur het, en toe het hulle teenstanders op bevel van die destydse koning, die bouwerk met mag en geweld gestop. Gaan dit nou weer gebeur?

Die bouwerk is egter nie gestaak nie. Dit word bely as genadedaad van die Here. “Maar God het ‘n oog gehou oor die Judese leiers, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom ‘n beslissing oor die saak ontvang is.” (Esra 5:5). Hiermee word weer bely dat die Here in beheer is van alles wat gebeur.

Tattenai rig ‘n amptelike skrywe aan koning Darius, netsoos Regum vroeër aan koning Artasasta geskryf het. Die inhoud van die skrywe van Tattenai verskil egter heeltemal van die van Regum. Waar Regum ‘n emosioneel belade brief skryf, waarin die feite verdraai en die saak eensydig gestel word, is die skrywe van Tattenai ‘n saaklike en objektiewe skrywe.

Hy doen aan die koning verslag en sê dat hy na Jerusalem toe gegaan het en daar by ‘n groot tempel gekom het. Hy gee dan besonderhede oor die bouwerk wat aan die gang was. Hy berig verder dat hy navraag gedoen het oor die bou van die tempel en veral twee dinge wou weet. Hy wou weet van wie hulle die opdrag gekry het om die tempel te bou. Verder wou hy weet wie almal betrokke is by die bouwerk sodat hy die leiers van die projek kon identifiseer.

Tattenai lewer dan relatief uitvoerig verslag oor die antwoord wat hy van die Judeërs gekry het (Esra5:14-16). Op grond hiervan rig hy ‘n versoek aan die koning, sonder om te suggureer wat die koning moet doen. Hy versoek die koning om ondersoek in te laat stel of die aansprake van die Judeërs korrek is en om hom te laat weet wat sy beslissing in die saak is (Esra5:17).

Is dit nie die optrede wat mens van ‘n leier verwag nie? Hy stel ondersoek in. Skryf ‘n gebalanseerde verslag gegrond op feite. Hy stel beide kante van die saak. Hy versoek dat ondersoek ingestel word en dat die hoër  gesag ‘n beslissing maak op grond van die feite en ondersoek. So radikaal anders as die optrede en skrywe van Regum…

So behoort ‘n saak besleg te word. Die vraag is net of ons so optree? Tree ons nie al te dikwels emosioneel en bevooroordeeld op nie? Stel ons ondersoek in of reageer ons op skinderstories en gerugte? Vra ons ander om hulle kant van die saak te stel? Luister ons na beide kante? Of besluit ons sommer vooraf dat ons nie van iets of iemand hou nie of nie hou van wat ander doen nie en dan wil ons dit sommer net stopsit?

Moet ons nie ook meer gereeld die beslissing, hulp en raad van ander vra nie? Ook die saak van die ander party behoort voorgelê te word en gevra word dat ondersoek ingestel en ‘n beslissing gegee word nie.

Die optrede van Tattenai word as voorbeeld voorgehou van hoe ons behoort op te tree waar daar verskille is, hetsy op persoonlike vlak of waar aak al. Dan kan gesê word dat God ‘n oog daaroor en oor almal gehou het.

Koning Darius tree dan ook op soos ‘n mens van ‘n leier van formaat sou verwag. Hy laat ondersoek instel. Logies en beredeneerd tree hy op. Hy kry ‘n afskrif van die proklomasie van Kores. Dit word hier aangehaal. Opvallend is dat dit hier vollediger weergee word as in Esra 1. Op grond van die dokumentêre bewys dat die Judeërs die waarheid gepraat het, kom die koning tot ‘n beslissing. Dit stel hy op skrif.

Hy gee eerstens bevel dat die Judeërs ongehinderd mag voortgaan met die bouwerk.Niemand mag hulle stop of verhinder of pla nie. Die Judeërs mag die tempel bou! Twedens bevel hy dat die bouwerk vanuit die staatskas gefinansier word. “Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklikke fondse” (Esra6:8). Die koste word deur die staat gedra, maar dit moet nougeset gedoen word. Korrupsie sal nie toegelaat word nie. Derdens geed ie koning opdrag dat offerdiere aan hulle verskaf moet word. Die koning doen alles in sy vermoë dat die offerdiens aan die Here kan aangaan. “Dit moet elke dag gedoen word, sonder om ‘n dag oor te slaan, sodat hulle vir die God van die hemel offers akn bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word”(Esra 6:10). Darius het die Persiese godsdiens aangehang. Tog ies die “heidense” koning dat die offerdiere aan die gelowiges voorsien word sodat die gelowiges offers aan die Here kan bring. Hy ondersteun hulle  in hulle aanbidding van die Here! Koning darius doen nog iets: hy vra dat hulle vir hom en sy seuns sal bid! Miskien kan mens vanuit die Persiese koning se perspektief redeneer dat hy maar net nog ‘n godsdiens in sy ryk ondersteun en wou hê dat net nog ‘m god vir hom gebid sal word. Mag wees. Feit bly dat die gelowiges nie net kon deel in die voorregte wat die koning aan hulle verleen het nie. Hulle het nou ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die koning gehad. Hulle moes vir hom en sy seun bid. Laastens stel die koning dit baie duidelik dat daar baie sterk opgetree sal word indien enigiemand hierdie bevel sou verontagsaam of die Judeërs enige skade sou berokken.

Darius word hier as voorbeeld voorgehou van hoe ‘n mans teenoor ander, en veral teenoor ondergeskiktes behoort op te tree. Hy tree objektief op en stel ondersoek in. Hy antwoord beredeneerd en logies. Hy tree op tot die beswil van almal. Hy ondersteun hulle wat ondersteuning nodig het. Hy vra hulle ook hulle ondersteuning en voorbidding. Dit kan dan gevra word: Hoe tree jy op? By die werk? Teenoor ons werkers, of ondergeskiktes en bure en kinders? Bid ons vir die regeerders en die regering, ongeag of hulle Christene is of nie?

Darius het deur sy optrede die gelowiges in staat gestel om hulle roeping uit te voer en die Here te dien. Hulle kond ie tempel herbou en die Here dien. Stel ons optrede ander in staat om hulle roeping uit te voer en die Here te dien? Stel ons optrede ander in staat om hulle del te doen in die heropbou van die gemeenskap? Is ons almal besig om ons gemeenskap te herbou tot eer van God?
0 Kommentaar: so far: