POSTED BY John Wait on 07:16 under

Esra 4:1-23

As daar een ding is waarvan mens maar seker kan wees, dan is dit dat jy een of ander tyd teenspoed sal kry. Een van die tragiese werklikhede wat deur die eeue nog altyd voorgekom het, is dat mense met slinkse planne en geheime agendas al te dikwels met hulle agterbakse planne geslaag het. Dis vandag nog so en sommige van ons het dit seker al persoonlik beleef. Hoe tragies dat gelowiges ten prooi val van mense met agterbakse planne.

Nou is dit ook so dat ons nêrens in die Bybel ‘n belofte kry dat dit altyd sal goed gaan met gelowiges nie. Trouens, ons lees dikwels dat gelowiges swaar gekry het. Dikwels kan die swaarkry direk toegeskryf word aan die optrede van ongelowiges en mense met bybedoelings. Daarvan het ons ook sopas weer gelees.

Dis ‘n verhaal van agterbakse optrede. Vyande van Israel wend die een poging na die ander aan om hulle te laat afsien van die tempelbou en om sodoende hulle moraal te ondermyn en die lewe vir hulle ondraaglik te maak.

Eers kom die vyande van Israel en bied ewe vroom aan om te help om die tempel te bou. Hulle beweer dat hulle dieselfde God as die Judeërs aanbid en dat dit hulle die reg sou gee om deel te hê aan die herbou van die tempel. Ons weet egter dat hulle godsdiens nie suiwer was nie, en so was hulle motief ook nie suiwer nie. Hulle het godsdiens gebruik as rookskerm om die werk in die wiele te ry.

Dis tragies dat godsdiens selfs tot vandag toe nog gebruik word as rookskerm. Daar is mense wat godsdiens as rookskerm gebruik vir politieke of ekonomiese redes of om die een of ander sosiale doelwit te bereik of vir persoonlike gewin. Daarop moet ons bedag wees.

Soos Serubbabel wat deur hulle planne gesien het en hulle aanbod van die hand gewys het. Hy sê: “Julle bou nie saa met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here God van Israel bou. Ons het die opdrag van die koning self gekry.” (Esra 4;3).

Maar dit was nie die einde van die probleme nie. As plan A nie slaag nie, probeer hulle plan B. “Die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing het toe die volk van Juda probeer moedeloos en bang maak om die bouplanne in die wiele te ry”(Esra4:4).

Daar is niks nuuts onder die son nie. Toe al, het mense met verskuilde agendas en slegte motiewe ander moedeloos en bang probeer maak. Toe al het omkopery voorgekom. En hulle hou aan en aan. Van die tyd van Kores tot die tyd van koning Darius. Vir jare hou hulle net aan en aan. Ten minste tien jaar karring hulle so aan. Genoeg om enigeen moedeloos te maak. Maar ook die plan werk nie. Die gelowiges hou aan bou en gaan voort met hulle geloofstaak…

Maar dan gaan die vyande oor tot plan C. Hulle rig ‘n amptelike skrywe aan die nuwe koning. Dis nou al amper vyftig jaar na die proklamasie van koning Kores! Die inhoud van die brief is emosioneel sterk gelaai. As mens nie feite het nie, dan gebruik jy maar emosie. Veral as jy ander in die moeilikheid wil bring en jy feite moet verdraai om jou werklike doel te bereik. So word na Jerusalem verwys as die “rebelse, slegte stad” (Esra4:12).

In die brief skep hulle die indruk dat die Judeërs die stad herbou met die doel om in opstand te kom teen die koning. Hulle sou dan kwansuis ophou belasting betaal as die stad eers herbou is. Dit sou daartoe lei dat die koning skade lei. Nou waar kom hulle daaraan? Is dit nie maar uit die duim gesuig nie? Die doel van die herbou was mos nie om in opstand te kom nie en bowendien is die herbou van die stad aangepak in ooreemstemming met die beleid en meer nog, met die goedkeuring en ondersteuning van die koning.

Hoe tragies dat mense ander beskinder en beswadder. Dat mense lieg om persoonlike voordeel te trek en ander te benadeel. Tog kom dit vandag nog voor. Selfs in kerklike kringe en onder gelowiges.

Wat hierdie verhaal nog skokkender laat verloop, is dat die koning net so emosioneel reageer. Mens verwag tog ‘n groter mate van objektiwiteit van ‘n koning. Aan die gekef van ‘n brakkie steur mens jou nie, maar mens verwag mos nie van ‘n leeu om te kef nie (so lui die Xhosa-slagspreuk).

Pleks dat die koning deeglik ondersoek instel na die rede waarom die Judeërs terruggekeer het na die sanksie wat hulle gehad het om die stad te herbou, is hy tevrede dat hulle die warheid praat as hy verwysings na vroeëre opstande in Jerusalem kry. Dan gee hy sommer daar en dan opdrag dat die Judeërs met mag en geweld verhinder moet word om met die werk aan te gaan. Is dit nie tragies nie. Nou kry die vyande die oorhand en laat geen gras onder hulle voete groei om die werk met mag en geweld te stop nie. So het die bouwerk aan die tempel en stad tot stilstand gekom. Die slinkse planne het na jare geslaag.

Die boek Esra is aanvanklik geskryf vir mense wat onder soortgelyke omstandighede geleef het. Hulle het ook te kampe gehad met mense wat met slinkse planne hulle voortbestaan en geluk bedreig het. Mense wat ewe vroom onder die dekmantel van godsdiens hulle werk wou ondermyn. Mense wat hulle gedreig en bang gepraat het. Mense wat ander omgekoop het. Mense wat selfs skynbaar formele skrywes aan die owerheid gerig het om te kla en versinde klagtes teen hulle ingebring het.

Die boodskap van hierdie hoofstuk was dan aan die een kant om vir gelowiges te sê dat geloof  nie ‘n waarborg tot sukses is nie. Dit gaan nie noodwendig altyd goed met gelowiges nie. Gelowiges kry ook swaar en beleef ook teenstand. Ten grondslag hiervan lê die boodskap dat die sukses wat ongelowiges met slinkse planne bereik, nie permanent is nie. Dit kom in die volgende hoofstuk na vore.

Gelowiges word dus opgeroep om onder alle omstandighede getroue  te bly aan die Here.

Dit is ook die boodskap vir ons. Ons kry ook soms te doen met mense wat ons nie goedgesind is nie. Daar is mense wat met allerlei praatjies onmin saai, gelowiges probeer moedeloos of bang maak. Ons kry vandag nog mense wat formeel beswaar maak teen aksies van geowiges en wat emosionele dinge skryf, die feite verdraai en ongegronde afleidings en voorspellings maak. Dit kan daartoe lei, soos al baie keer daartoe gelei het, dat geloofsaksies in verkeerde lig gesien word en gestop of gestaak word.

Esra 4 wil ook vir ons sê dat dit nie altyd net voor die wind sal gaan met gelowiges nie en dat gelowiges nie altyd suksesvol sal wees nie. Geloof is nie ‘n waarborg vir sukses nie. Maar ons dien die Here nie sodat dit met ons goed kan gaan nie. Dit sou ‘n vals grondslag van geloof wees. Ons dien die Here immers omdat Hy ons Here en ons God is wat ons verlos het. Daarom word ons opgeroep om Hom te dien, selfs al beleef ons terugslae, aanslae en teenspoed. Dien die Here te alle tye en onder alle omstandighede…
0 Kommentaar: so far: