POSTED BY John Wait on 16:42 under

Johannes 19:1-27

As daar een ding is wat mense bitter ontstel, dan is dit as daar korrupsie in die regstelsel is. “n Ondoeltreffende regstelsel laat mens sommer moed verloor. Hoe kan enigiets in die samelewing goed verloop as die reg in duie stort. Is dit nie ‘n teken dat die hele samelewing besig is om in duie te stort nie? Dit laat mens met so ‘n magtelose gevoel.

Mens voel ook so as jy lees van die verhoor en vonnisoplegging van Jesus. As daar ooit ‘n voorbeeld van onbekwaamheid, regsverydeling, magsmisbruik en korrupsie was, dan vind ons dit hier. Dinge is so deurmekaar dat mens nogal moeilik onderskei tussen die verhoor, vonnisoplegging en uitvoering van die vonnis.

In die vorige hoofstuk het ons gelees dat Pilatus geen skuld in Jesus kon vind nie.

Hy probeer om Hom los te laat deur die volk die keuse te stel oor wie hulle vrygelaat wou hê met die oog op die Paasfees. Hulle verkies Jesus Barrabas bo Jesus Christus.

Hierdie hoofstuk begin met die medeling dat Pilatus Jesus toe laat gesel het, dit beteken dat hy Jesus gevonnis het. Sy straf het behels dat Hy gegesel moes word. Dit was insigself ‘n ernstige straf. Die persoon is aan ‘n pilaar vasgemaak. Sy naakte bolyf is dan met ‘n driepuntige sweep geslaan. Soms was daar selfs metaalstukkies aan die voorpunt van die sweep vasgemaap. Geseling is beperk tot 40 houe. Dit was so ‘n ernstige straf dat baie hiervan gesterf het.

Dit wil voorkom asof die soldate dit as die vonnis beskou het. Nadat hulle Jesus gegesel het, het hulle Hom gespot. Hulle het ‘n doringkroon gevleg en dit op Sy kop gesit. Daarna het hulle vir Hom ‘n pers mantel aangetrek.

Hulle het herhaaldelik nader gekom en vir Hom gesê: “Ons groet U, Koning van die Jode.” So is Jesus bespot en verkleineer.

Mens sou dink dat die saak hiermee afgehandel is. Jesus is gevonnis. Hy het Sy vonnis uitgedien. Wat nou? Hy word nie losgelaat nie. Die verhoor gaan aan.

Paulus sê dat hy geen skuld in Jesus vind nie. Hoe nou? Hy is dan al klaar gevonnis en het al klaar die straf ontvang. Die Jode was nog nie tevrede nie, die straf was te lig, Jesus leef nog. Hulle eis dat Hy om die lewe gebring word, net die doodstraf sal hulle tevede stel. Krusig hom! Kruisig hom! Dis die kreet wat weerklink.

Die regter herbevestig dat hy geen skuld in Hom vind nie. Hy is onskuldig. Maar die Jode sê dat hulle ‘n wet  het en dit bepaal dat as iemand hom as die Seun van God voordoen, hy doodgemaak moet word. Hulle het Hom al klaar skuldig bevind. Hulle het Hom al klaar gevonnis! Hulle eis dat die vonnis en dan ook wel die doodstraf dadelik voltrek moet word.

Die regter word bang vir die skare. Hy neem Jesus in sy paleis in. Hy vra: “Waar kom jy vandaan?” As hy nie ‘n antwoord kry nie, wys hy die Beskuldigde daarop dat hy die mag het om Hom vry te laat. Hierop reageer Jesus en sê dat Pilatus net die mag het omdat dit aan hom gegee is. Nog’n keer wil die regter Hom vrylaat. Hy besef al te goed dat Jesus onskuldig is. Die vonnis wat Hy al gehad het, is eintlik meer as genoeg.

Nog is die mense nie tevrede nie. Hulle probeer ‘n ander slinkse plan. Nou gaan dit nie daarom dat Jesus Hom, volgens hulle as Seun van God voorgedoen het nie, maar omdat Hy so aanspraak sou maak op die koningskap.

Die skare dreig die regter. As u Hom vrylaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Nou weet ons dat Pilatus, die regter, die goewerneur was. Hy is deur die keiser aangestel. As daar sprake van dislojaliteit was teenoor die keiser, sal hy moontlik sy pos of selfs sy lewe kon verloor. Dan gee hy maar toe. As sy eie belange in gedrag kom, sien hy nie verder kans nie. Laat Jesus dan maar sterf voordat hy dalk sy pos kwyt is.

Hy wens egter so ‘n laaste halfhartige poginkie aan as hy vra of hy hulle koning moet kruisig. Dan hoor hy die skynheilige  reaksie: Ons het nie ‘n koning nie, net ‘n keiser.

Jesus word dan oorgelewer om gekruisig te word. Let op. Ons lees nie dat Pilatus Jesus skuldig gevind het nie. Jesus word nie formeel skuldig bevind nie. Hy word sommer net gevonnis. Ten spyte van al die aanduidings dat Hy onskuldig is. Ten spyte van die feit dat Sy skuld nie bewys is nie, ten spyte van die feit dat Hy nie formeel skuldig gevind is nie, word hy oorgelewer om gekruisig te word.

Jesus dra Sy kruis na die plek waar Sy teregstelling sal plaasvind. Dit was moontlik net die dwarsbalk van die kruis wat Hy moes dra. Na die geseling was Hy so verswak dat Hy dit nouliks sou kon doen. Na Kopbeenplek toe dra Hy Sy kruis.

Daar word Hy gekruisig. Tussen twee rowers word Hy opgehang. Aan die kruis word ‘n oortreding  waarvoor Hy gerkuisig word, vasgespyker: Die koning van die Jode. So moes dit duidelik wees waarvoor Hy ter dood veroordeel is, en gekruisig is.

Jesus is, soos dit die gebruik was, nakend gekruisig. Sy bokleed het die soldate in 4 verdeel. Oor Sy onderkleed het hulle die lot gewerp omdat dit in een stuk geweef was. Totaal ontbloot hang Hy aan die kruis.

Die kruisdood was nie ‘n maklike of ‘n spoedige dood nie. Trouens dit was ‘n langsame en pynlike dood gewees. Dit moes juis dien as afskrikmiddel. Net die ergste misdade is so gestraf en dan ook net in baie verswarende omstandighede. Vir bykans die hele dag sou Jesus aan die kruis hang voor Hy sou sterf.

Jesus, die Gevonnisde. Hoe diep moes Sy lyding nie gewees het nie. Nie net Sy fisiese of liggaamlike lyding nie, dit moes al onmenslik erg gewees het. Die geseling, die doringkroon, die dra van die kruis en uiteindelik ook die kruisiging self.

Die hele proses en vonnisoplegging moes ook ‘n pynlike ervaring gewes het. Van bakboord na stuurboord. Elke keer die verwarring. Hy is onskuldig. Nee, ons het klaar besluit Hy is skuldig! Elke keer ‘n nuwe en ander klag.

Hoe diep moes Sy lyding nie op alle vlakke gewees het nie. Jesus, die volkome mens, het hierdie lyding beleef soos ons dit sou. Dit was geen skynlyding nie.

Dit laat ons net stil en diep kniel voor Jesus, die Gevonnisde. Ons kan dit nie verstaan of verklaar nie. Ons kan net dankbaar kniel vir Sy liefde vir ons. Dat Hy bereid was om hierdie pad vir ons te loop. Hy, in my plek gevonnis. Hy wat ons vonnis gedra het!
0 Kommentaar: so far: