POSTED BY John Wait on 18:15 under
Psalm 150


Die Psalmis eindig met die Hallelujakoor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (Prys die Here) voor. Daar is nie ‘n enkele sin waar dit ontbreek nie. Nou sou iemand dalk kon sê dat die woorde hier na 150 Psalms opgeraak het. Miskien sou ons eerder kon sê dat die behoefte om die Here te prys nou al sterker geword het en hier ‘n klimaks vind.


Ons hoop dat ons almal nou al gereed is om hierdie Hallelujakoor saam te sing. Soos ‘n goue draad het die oproep deur die Psalms geloop en al sterker het die oproep tot ons gekom: prys die Here! Dit moet nie net ‘n integrale deel of die begin en einde van ons aanbidding van die Here wees nie. Dit moet ons hele lewe omvat.


Psalm 150 wil ons leer waar die Here geprys moet word: waaroor Hy geprys moet word en deur wie Hy geprys moet word.


Waar moet die Here geprys word? Vers 1 gee vir ons die antwoord. Prys die Here in Sy Heiligdom, prys Hom hier onder Sy magtige hemelgewelf! Die Here moet in Sy heiligdom, in die tempel geprys word. In die kerk moet ons Hom prys. Mens wil byna sê dis so vanselfsprekend dat dit nie genoem hoef te word nie. Miskien is dit waar, maar ons moet altyd daaraan herhinder word. Want as ons nie die Here prys nie, dan is dit nie ‘n erediens nie. 


In die erediens gaan dit mos om die bring van die eer aan God. Ja, ons kan na die erediens kom met ons versoeke en beswaarde gemoedere, maar ten spyte van alle situasies moet die lofprysing sentraal staan.


Die Here moet nie net geprys word in die tempel of kerk nie, maar ook onder Sy magtige hemelgewelf. Dit wil sê in die ganse kosmos. In daardie tyd het hulle die hemel gesien soos ‘n tentdoek of koepel wat oor die aarde gespan is. In die hele skepping moet Hy geprys word. Nie net in die kerk nie, maar oral op aarde. Oral in die hele skepping!In ons werkplekke; op die ontspanningsterreine, in ons huise, oral waar ons mag kom of gaan, moet die Here geprys word. 


Dit sal nie besondere betekenis hê as ons die Here hier in die kerk loof en prys en vergeet om Hom orals buite die kerk ook te loof en prys nie. Die Hallelujakoor moet nie net die wêreld oor weerklink nie, maar moet deur gans die kosmos weerklink!


Psalm 150:2 leer ons waaroor die Here geprys moet word. “Prys Hom oor Sy kragtige dade, prys Hom in Sy magtige grootheid.” Hiermee word gesê dat ons die Here moet loof oor Sy handelinge in die lewens van mense en oor Sy skeppingsdade. 


Die uitdrukking: kragtige dade, verwys dikwels in die Ou-Testament na die handelinge van God in die lewens van mense. Hier dink ons dan in die eerste plek aan die verlossingsdade van die Here. Die uittog uit Egipte; die redding uit die mag van die vyande by talle geleenthede. Hoe die Here ingegryp en uitkoms gegee het. As Christene is die kragtigste van al God se handelinge die gebeure aan die kruis van Golgota. God maak ons vry van al die bande wat ons gebind het. Hy het die mag van sonde en dood oorwin. Die Satan is verslaan. Prys Hom hiervoor! 


Maar dit verwys ook na die kragtige handelinge van God in Sy ontferming en beskerming van Sy kinders. Hiervan lees ons ook dikwels in die Bybel. Dit het ons mos almal al ervaar. Prys Hom daarvoor.


“Prys die Here in Sy magtige grootheid.” Hy is die Skepper. Hy het alles gemaak. Dis te groot vir ons om te begryp. Dis te ingewikkeld vir ons om te verstaan. Dis te aangrypend om te beskryf. Ons duisel as ons daaroor dink. Prys Hom daarvoor. Prys Hom vir die omgewing en lewensruimte wat Hy vir ons gee. Prys die Here, ons Skepper, Verlosser, Koning. Prys die Lewende Here!


In verse 3-5 word vir ons gesê waarmee ons die Here moet prys. Die reeks van musiekinstrumente wat hier genoem word, wil meer sê as net dat die Hallelujakoor met volle orkersbegeleiding moet geskied. Van die instrumente het spesifieke funksies gehad en is veral by spesifieke geleentehde gebruik. 


So is die ramshoring, ‘n lang gedraaide horing, gebruik om alarm te maak, of om die volk op te roep na ‘n spesiale byeenkoms. As die alarm weerklink en die oproep kom, begin hulle dan al om die Here te prys, en het hule nie gewag om eers by die samekoms aan te kom nie. Die harp en die lier, moontlik ‘n kleiner harp wat die laer akkoorde gespeel het, was die mees algemeenste instrument. Dit is dikwels by godsdiesntige geleentehde gebruik maar ook by sosiale byeekomste. 


Die tamboeryn is byna uitsluitlik gebruik om ritme aan te gee vir dansers. Dans het dan ook ‘n belangrike rol gespeel, maar nie as ontspanning nie. Veral vrouens het gedans na oorwinnings en tydens godsdienstige feeste. So af en toe het mans ook op hierdie manier uiting gegee aan hulle oorwinningsvreugde.


Snaarinstrumente en fluite word saam genoem en verwys moontlik na musiek by spesiale musikale geleenthede. Simbale en klinkende simbale (amper wat soos klein tee koppies gelyk het), is slegs by godsdienstige geleenthede gebruik. 


Dit wil klink asof al die bekende musiekinsrtumente genoem word. Alle instrumente moet gebruik word om die Here te prys. Dit word mos gesê dat die orrel al die instrumente in een saamvat en daarom iets van die oproep van Psalm 150 vervat. Dit wil ook sê dat die Here geprys moet word by elke geleentheid.


Die laaste vers lees ons wie die Here moet prys. Nou sou ons eerste reaksie seker wees dat alle gelowiges die Here moet prys. Maar wat lees ons hier: Laat alles wat asem het, die Here prys! Dit gaan dus om veel meer as net die gelowiges. Dit gaan om alle mense . Alle mense behoort die Here te prys. Almal word hier opgeroep om dit te doen! Dit was nogal iets radikaals in daardie tyd. Toe is mos gedink dat net Israel die volk van God is. Van hulle is verwag om Hom te prys. Maar nou kom hierdie oproep tot alle volke en nasies.


Alle mense moet die Here loof en prys, maar meer as dit alles wat asem het moet die Here loof en prys. Dit sluit ook al die diere in. Net net alle mense, maar ook al die diere moet die Here prys. Ons sou selfs sover kon gaan om te sê dat die uitdrukking: alles wat asem het, dui op alles wat leef. Dan sou dit selfs die plante ook ingesluit het by die universele koor wat die Halleluja sing. Hoe wonderlik: die groot heelal neem deel aan die uitvoering van hierdie besondere universele koorsang!


Op besondere wyse sluit die psalmbundel af. Dit sluit af met ‘n oproep om deel te neem aan die Halelujakoor. Prys die Here oraloor. Prys die Here vir Sy groot dade. Prys Hom omdat Hy so groot en wonderlik is. Prys die Here met alle musiekinstruemnte. Prys die Here alles en almal wat leef!
0 Kommentaar: so far: