POSTED BY John Wait on 18:27 under

1 Samuel 25, 2 Samuel 11

Daar is niks nuuts onder die son nie! Hoe waar is dit nie. Lees mens die verhaal van Dawid soos dit in die boek Samuel en Konings vertel word, staan mens verslae oor hoe Dawid in slaggate getrap het en waarin baie mans ook op die ou ent trap. Mens wonder of die opskrif van die Dawidsverhale nie moet lees: Nie so nie!

Die boeke Samuel en Konings vorm deel van wat vandag algemeen bekend staan as die Deuteronomistiese geskiedswerk en wat die boeke Deuternomium, Josua, Rigters, Samuel en Konings omvat. Hierdie werk is in die finale vorm geskryf tydens die Babiloniese ballingskap. Die uitgebreide werk handel oor die lotgevalle van die volk vanaf die tyd voor die intog tot met die Babiloniese ballingskap.

Dit is dus eerstens gerig aan mense wat in alle opsigte diep ontnugter en moedeloos was. Hulle het geworstel met talle vrae, soos: Waarom het ons alles verloor? Waarom moet ons nou in ballingskap leef? Wat hou die toekoms in as daar nog hoegenaamd ‘n toekoms kan wees? Waarom het die Here ons oorgegee in die hande van goddelose magte? Waarom het die Here nie Sy kinders beskerm nie? Waar is die Here? Wat het van die Here se beloftes geword?

Die Deuteronomistiese geskeidswerk is toe gekryf om aan hulle ‘n verduidelikking te gee van wat aanleiding gegee het tot die situasie waarin hulle hulself bevind het. Die kernboodskap is dat die Here hulle Sy volk gemaak het. Hy het ‘n verbond met hulle gesluit en aan hulle Sy wet gegee.

Die ooreenkoms was duidelik. As hulle die wet van die Here onderhou en daarvolgens leef, sal hulle voorspoedig wees in die land wat die Here aan hulle gee. As hulle egter ongehoorsaam en ontrou is, sal hulle die land verloor. Die geskiedenis word dan vertel om aan te toon hoe ontrou hulle was. Van die begin af  het hulle nie altyd geluister na die wet van die Here en nie gedoen wat Hy gevra het nie. Ook die konings en selfs die man na God se hart het nie geleef volgens die wil van God nie. Daarom is hulle in ballingskap. Die ellende kan nie toegeskryf word aan die afwesigheid van die Here of dat Hy Sy beloftes of kinders vergeet het nie, maar omdat hulle ongehoorsaam en ontrou was.

Dawid was ‘n besondere man met baie talente. Hy was ‘n goeie musikant. Hy was ‘n onverskrokke jongman en uitstekende militaris. Reeds op vroeë ouderdom het hy hom onderskei toe hy teen Goliat geveg het en van onkonvensionele metodes gebruik gemaak het om die reus te verslaan. In die daaropvolgende optredes teen baie vyande het sy militêre insig en vermoë sterk na vore gekom. Daarby was hy ‘n minsame persoon wat goed met ander oor die weggekom het. Geen wonder dat hy die koning geword het nie. “n Man met baie talente. Dawid was bo-al nog ‘n diep gelowige. ‘n Pragtige toekoms het op hom gewag.

Op ‘n vroeë ouderdom het Dawid al die kruin bereik. Hy was ‘n koning van drie koninkryke. Hy was mos koning van Juda (die Suidelike Ryk) en van Israel (die Noordelike Ryk) en van sy persoonlike staat Jerusalem. Hy was welvarend. Hy was getroud (met ‘n hele paar vrouens) en het ‘n aantal kinders gehad. “n Man van aansien nie net in sy eie stad en land nie, maar ook in die hele streek.

Daarby was hy ‘n diep godsdienstige man en het ‘n aktiewe rol gespeel in die kerk van destyds. Dawid was ‘n man op wie enige ouer kon trots op wees en met wie mens graag sou wou assosieer. Hoe graag sou ons nie in sy skoene wou staan nie of sy voorbeeld wou navolg nie.

Ongelukkig was daar ook ‘n skadukant. Hierdie skadukant word ook nie in die Bybel verswyg nie, dit laat ‘n rilling teen jou ruggraat afgaan, want dis ‘n skadukant wat helaas vandag nog baie aangetref word.

Dawid se posisie het gelei tot ‘n strewe na mag en populariteit. Hy was die stigter van ‘n tipe apartheidsryk. Hy het aan sy mense alle segenskap gegee terwyl die ander inwoners van die land wat ook onder sy mag en jurisdiksie geval het, geen sê gehad het nie en al die belasting moes betaal. Soos die tyd aangestap het, het hy al hoe meer gedelegeer en moes dinge namens en veral vir hom gedoen word. Dit het aanleiding gegee tot ander wanpraktyke.

Is dit nie dinge wat ons ook mos dikwels sien nie? Mense in magsposisies wat net meer mag wil hê, ander uitbuit en misbruik, al minder doen en verwag dat ander al meer vir hulle doen. Soos Dawid bou hulle ‘n gemaksone om hulself. Hoe dikwels lei dit ook nie tot ledigheid en verval nie.

Dawid het met tyd saam ‘n vrouejagter geword. So het hy met Abigail getrou nadat hy haar man afgedreig het. Die dreigemente het gelei tot die dood van Nabal waarna Dawid met Abigail kon trou (1 Samuel 25). Dawid het ook ander vroue gehad, naamlik: Aginoam, Maaka, Gaggit, Abital, Egla (2 Samuel 3:1-5). Dan moet ons ook onthou dat hy nog getroud was met Mikal. Asof dit nie genoeg was nie, het Dawid toe nog owerspel gepleeg met Batseba. Dawid het mos nie, soos dit ‘n koning betaam, saam met sy manskappe opgeruk na die veldslag nie, maar het by die huis gebly. Toe sien hy ‘n mooi vrou bad en pleeg owerspel met haar. Toe dit blyk dat sy swanger is, probeer hy op slinkse manier sy verantwoordelikhede ontduik. Dit slaag nie en lei daartoe dat hy sy mag misbruik en verantwoordelik is vir die dood van haar man. Toe het hy gedink kan hy met haar trou sonder dat ‘n haan sou kraai oor sy eskapades. Sy slim plannetjies werk toe nie! Die Here stuur ‘n profeet na Dawid toe. Natan kondig die straf oor Dawid aan. Sy sonde word nie ongestraf gelaat nie. Hy moes duur betaal vir sy onbeheersde optrede. Nie so nie, Dawid! Dit pas die gelowige nie om so te leef nie, want dit druis in teen die Woord van die Here.

Nie so nie! Hoe tragies is dit nie dat hierdie veroordeelde lewenswyse van Dawid vandag nog nagevolg word nie. Dis asof mans in hulle middeljare, as hulle hul merk gemaak het, baie bereik het en dit lyk of die moeilike pad boontoe nou ‘n gelyk-pad geword het, vir hulleself gemaksones skep en hulle dan met allerhande onheilige dinge besig hou. Te veel tyd en te veel geld lei soms tot te veel probleme en verval en ongeluk. Mense begin dink dat hulle alles kan reg koop. Hulle hoef nie meer so hard te werk nie en kan ander laat werk. … dan begin die oë dwaal en word allerlei verhoudings aangeknoop. En so dikwels dink mense hulle kan daarmee wegkom. Baie slim plannetjies word beraam. Dit werk nooit uit nie! Een of ander tyd kom dit maar op die lappe. Die Here sien dit en slaap nie. Daar rus ‘n straf daarop. Jou sondes sal jou die een of ander tyd inhaal.

Dawid se rondslapery het baie negatiewe gevolge vir sy gesin en familie ingehou. Sy vrouens en kinders het daaronder gely. Hyself moes daaronder ly. Tot met sy dood moes hy swaarkry as gevolg van die baie vrouens met wie hy verhoudings gehad het en met wie hy selfs getroud was. Selfs na sy dood het dit negatiewe gevolge vir sy kinders gehad. As hy tog maar sy tyd en energie gebruik het tot voordeel van sy eie gesin. Laat dit vir ons ‘n waarskuwing wees. Laat dit ons dring om ons krag en energie en liefde te fokus op ons eie vrouens en eie gesinne. Laat ons nie ons lewens opmors nie, maar laat ons die talente wat die Here aan ons gee, gebruik tot opbou van ons gesinne, tot eer van die Here deur te leef volgens Sy Woord.
0 Kommentaar: so far: