POSTED BY John Wait on 17:17 under ,
Johannes 12:1-8

Johannes lê meer klem op die sosiale lewe van Jesus as enige ander Evangelies. Die eerste wonder wat Jesus gedoen het, naamlik om water in wyn te verander, het tydens ‘n bruilofsfees plaasgevind. By talle ander geleenthede verwys hy na Jesus se betrokkenheid by sosiale aspekte. In Johannes 12:1-8 lees ons van ‘n ete wat vir Jesus aangebied is. Ses dae voor die Paasfees was Jesus en Sy vriende bymekaar. Dit klink na ‘n besonder aangename en hartlike sosiale kuier. Hulle was gesellig saam.

Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nie net in die tempel was nie. Hy was nie altyd omring deur ‘n skare nie. Daar was ook tye dat Hy alleen was. Soms heeltemal alleen. Soms net saam met die dissipels, en soms soos hier saam met Sy vriendekring. Jesus het nie heeldag en aldag gewerk nie. Hy het ook ontspan. Hy het tyd ingeruim om sosiaal te verkeer. Hy het gebalanseerd geleef.

Kan ons dan nie hieruit aflei dat sosiale verkeer nie net reg en goed is nie, maar ook belangrik? Ons kan tog nie net werk nie? Tyd vir ontspanning is noodsaaklik. Ons behoort tyd in te ruim om sosiaal te verkeer- ook met ons vriende. Ja, selfs nie net betrokke by kerksake nie, maar ook op sosiale vlak. Dis mos deel van ons menswees en Christenwees. Ook hierin kan en behoort ons die voorbeeld van Jesus na te volg.

Wat die vriende nie besef het nie, was dat dit die laaste keer sou wees dat hulle so saam sou wees. Hierna sou hulle nie weer die geleentheid gehad het nie. ‘n Week later is Jesus gekruisig. ‘n Week later sou hulle anders bymekaar wees. Toe het hulle gerou oor die dood van Jesus. Toe was hulle gebroke en verslae. Hierdie sou die laaste keer wees dat hulle so gesellig bymekaar sou wees.

Hoe dikwels hoor mens nie dat mense sê: as ek tog maar net tyd gemaak het om saam met iemand te wees nie, maar nou is die persoon dood. Dit alles het so skielik gebeur. Nou is dit te laat.

In hierdie gedeelte lees ons dat Maria die gaste bedien het. Dis op grond hiervan dat ons die uitdrukking van die dienende Marta ken. Ons moet tog nie te gou mense in hokkies plaas nie. In hoofstuk 10 het ons Marta leer ken as die een wat in gesprek met Jesus was. Sy het toe ‘n lang indringende en diep gesprek met Jesus gevoer. Nou is sy meer op die agtergrond.

 Toe was Maria in die huis en sy het uitgekom toe Marta haar kom roep het. Toe het Maria byna verwytend haar gesprek met Jesus begin: As U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Ook sy speel nou ‘n heeltemal ander rol. Marta en Maria is nie plat karakters nie. Hulle is veelsydige persone. Hulle tree verskillend op in verskillende situasies. Ons kan en mag hulle nie in hokkies plaas nie.

Dit mag ons eintlik met geen mens doen nie. Nogtans is ons so lief om dit te doen. Ons hang maklik etikette om mense se nekke. Ons dink enkelvoudig oor mense. Hierdie persoon is dan as’t ware  net goed vir dit of dat. Miskien moet ons dit ook uit hierdie gedeelte leer: mense tree verskillend  op in verskillende situasies. Mense kan nie in hokkies geplaas word nie.

Maria tree hier sterk na vore. Sy neem ‘n half liter kosbare, baie duur nardusolie en salf die voete van Jesus. Om hierdie optrede te verstaan, moet ons onthou dat salwing in daardie tyd ‘n belangrike rol gespeel het. Nie alleen is die koming in die Ou-Testamentiese tyd geslaf nie. Daarmee is aangedui dat hy die uitverkore en deur God aangewysde persoon en koning is. Ons lees ook dat  profete en die hoë priester gesalf is.

Wat hier van belang is, is die feit dat besondere eregaste ook gesalf is. As jy iemand baie spesiaal ontvang het in jou huis, en dit nie sommer net jou beste vriend nie, maar regtig iemand baie , baie spesiaal, dan het jy die persoon gesalf. Hierna vind ons ‘n verwysing in byvoorbeeld Psalm 23, wat in die ou vertaling gelui het: U salf my hoof met olie. In die nuwe vertaling lees ons: U ontvang my soos ‘n eregas.

 As Maria Jesus salf, dan sê sy daarmee dat Jesus vir haar ‘n baie, baie spesiale gas en persoon is. Dis ‘n uitdrukking van respek en agting. U is vir my iemand meer as net spesiaal.

Dit word verder bevestig deur die feit dat sy ‘n half liter kosbare en baie duur olie gebruik om vir Jesus te salf. Nardusolie was destyds dan ook die heel duurste olie. Dit was ingevoer van Indië en het omtrent ‘n plaas se prys gekos! Mens kan dan verwag dat mense spaarsaam met sulke duur olie sou omgaan.

Maar wat doen sy? Sy gebruik dit oorvloedig. Sommer ‘n halwe liter! Byna buitensporig en oorvloedig! So oorvloedig dat die geur die hele huis vul! Haar daad kan nie ongemerk verbygaan nie. Almal dra kennis hiervan. Tog is dit nie ‘n daad van vertoon nie. In nederigheid word dit gedoen. Sy salf die voete van Jesus, terwyl die gebruik was dat die olie oor die kop uitgegooi is.

Hoe navolgingswaardig is haar voorbeeld nie. Ons is so gereserveerd in ons dankbetogings en betoning van respek. Hoe dikwels laat ons mense baie spesiaal voel? Hoe druk ons ons dankbaarheid uit. Is ons bereid om soos Maria groot kostes aan te gaan? Of toon ons ons dankbaarheid  en respek op die heel goedkoopste manier?

Miskien maak ons heeltemal te min daarvan. As ons die voorbeeld van Maria volg dan sal ons mos ook die waarheid en belangrikheid ervaar dat dit belangriker is om ‘n blom te gee terwyl iemand leef as ‘n hele kransblomme op ‘n graf nie.

Ongelukkig lees ons, benewens al hierdie pragtige dinge, hier ook van ‘n lelik negatiewe reaksie. Judas is sommer erg omgekrap. Hy maak beswaar teen die vermorsing. Hy is sterk van mening dat dit nou sommer geldmors is. Sy kon eerder die geld geskenk het sodat dit aan die armes uitgedeel kan word.

Voor ons hom oordeel, moet ons nie vra of ons hierdie argument ook dikwels hoor nie. Sê ons nie soms dat dit geldmors is nie. Kom ons nie ook met argumente oor hoe die geld beter gebruik kan word nie? Laat ons maar eerlik wees, ons redeneer en reageer dikwels netsoos Judas.

Wat egter ontstellend is, is die feit dat Judas ‘n verskuilde agende gehad het. Hy het die beurs gedra en het ongelukkig homself aan die geld gehelp. Johannes noem hom sommer prontuit ‘n dief. Hoe tragies dat daar selfs in die dissipelkringe korrupsie en diefstal was. Het ons nie soms ook verskulde agendas as ons ander se goed bedoelde dade kritiseer nie? Ons is dalk jaloers omdat die ander persoon aan iets gedink het waaraan ons dalk wou dink. Dit wat ander gedoen het, pas dalk nie in by ons opvattings nie of ondermyn ons idees. Soos Judas tree ons ook op.

Die optrede van Judas moes sonder twyfel vir Maria seer gemaak het. Soos ons kritiek ander ook seer maak.

Jesus tree in die bresse vir Maria. Hoe doen Hy dit? Hy sê eers reguit: Laat staan haar. Los haar. Moenie met haar sukkel nie. Moenie haar geodbedoelde daad afkraak nie. Jesus gaan dan voort om Judas te antwoord met ‘n antwoord wat Judas en die ander dissippels nie verstaan het nie. Hy sê dat sy dit gedoen het met die oog op Sy begrafnis. As hulle maar net geweet en verstaan het dat sy dit eintlik net ‘n week te gou gedoen het.

Dit bring die vraag na vore: wat doen ons as iemand se goed bedoelde daad gekritiseer word? Tree ons vir die persoon in die bresse? Of ignoreer ons dit of wil ons nie betrokke raak nie? En as ons optree, hoe doen ons dit? Aggressief? Val ons die persoon aan? Kraak ons hom af? Ontmasker ons die verborge agenda? Verkleineer ons die persoon? As ons dit doen, dan ontlont ons nie die situasie nie, maar steek ons eerder die kruitvat aand ie brand. Lei ons alledagse optrede tot ontlonting of ontploffing? “n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.

Tree ons op na die voorbeeld van Jesus?

Lees ons hierdie vertelling, dank an ons nie anders as om ons te identifiseer met die karakters nie. Eintlik sien ons onsself in Maria en Judas. Word ons opgeroep om eerder soos Maria op te tree. Word ons gewaarsku om nie die voorbeeld van judas te volg n
0 Kommentaar: so far: