POSTED BY John Wait on 19:36 under ,
Genesis 40
                                                                       
Drome is ‘n uiters boeiende verskynsel. Sigmund Freud het ‘n boek geskryf met die titel, Die Traumdeutung (Die verklaring van Drome) wat hom wêreldberoemd gemaak het.

Ek is self geen droomdeskundige nie. Tog wil dit voorkom of daar iets soos beroepsdrome bestaan. Skinkers droom van druiwe; bakkers van brood. Droom en werklikheid is klaarblyklik op ‘n wonderlike, soms verwarrende, wyse met mekaar verweef.

Ongetwyfeld bestaan daar iets soos dominee-drome. In ‘n tipiese dominee-droom bevind jy jou in wat die Hollanders noem jou “houte-broek” d.w.s die preekstoel. Hoe jy daar gekom het, weet jy nie. Wat jy moet sê, weet jy nog minder. Waarom jy in jou pajamas is, weet jy nog die minste. Word jy wakker voel jy, soos die skinker en die bakker na hulle drome, ietwat bedruk.

In die Ou Ooste is drome dikwels as goddelike openbarings beskou. In die Bybel gebeur dit nie so dikwels nie, maar daar is wel uitsonderings. In die ou Statevertaling se weergawe van Genesis 37: 19 bestempel Josef se broers hom spottend as die “meesterdromer”. Ook Josef die vader van Jesus, is nog ‘n voorbeeld. Maar eintlik is openbarings in drome in die Bybel meer uitsondering as reël. Die “Bewaarder van Israel wat nie sluimer of slaap nie”, word eerder ge-assosieer met ‘n toestand van wakker-wees as met die droomwêreld waar jou onderbewuste jou allerlei parte mag speel.

Miskien kan ons sê dat die skepping uit verskillende grade van wakkerwees bestaan. Die grootste deel van die skepping verkeer altyd so min of meer in ‘n droomtoestand. Ook ons mense, die wakkerste deel van die skepping, slaap glo omtrent ‘n derde van ons lewe. Sommige meen selfs dat ons wakkerwees, ons wêreldbewussyn en selfbewussyn, ‘n siektesimptoom, ‘n patologiese afwyking is. Hulle verlang terug na die diereryk.


In die Bybel is die rigting van ons verlange egter nie rugwaarts na die diereryk nie, maar vooruit na die Godsryk. Dan eers sal ons werklik wawyd wakker wees. Dit is daardie werklikheid waarna God se Gees, die Gees van die Toekoms wat uitgestort is anderkant kruis en opstanding, ons nou reeds roep met die woorde (Efesiërs 5:14): “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Want ook ons wakkerwees kan soms so verwarrend wees, byna asof ons lewe self ‘n droom is wat ‘n verdere verklaring nodig het.

OOK ONS WAKKERWEES IS VERWARREND. Josef lê nou wel die skinker en die bakker se drome uit, maar hoe moet ‘n mens die skrille kontras in die twee se lewenslot verklaar? Waarom word die skinker vrygestel en die bakker tereggestel? As iemand tog net hierdie raaisel vir ons kan oplos; hierdie geheimenis kan verklaar. Besonder pynlik word van beide letterlik in die Hebreeus gesê dat hulle hoof verhoog sal word. In die skinker se geval het dit ‘n figuurlike betekenis en dui op sy verhoging uit die tronk tot die koninklike paleis. Vir die bakker beteken dit letterlik dat dat hy aan ‘n paal, ‘n vloekhout, verhoog (opgehang) sal word waar die voëls van die hemel sy vlees sal vreet. Waarom word die een verhef en die ander getref? Wat kan tog die verklaring daarvan kan wees?

Dit is hierdie soort “waaroms” wat dikwels dreig om alle lewensvreugde te laat verdamp. Soms het jy die onrustige suspisie dat jou voorspoed die gevolg is van ander se leed; dat ander ly sodat jy gelukkig kan wees. Jy het meermale die vermoede dat die een se verkiesing die ander se kruis is. In ons gelese gedeelte wil dit voorkom of die bakker se dood, die skinker se brood is. Dit laat mens wonder of die skinker toe daarin kon slaag om op die farao se fees die bakker se brood deur sy kake te kry.

As jy tog net ‘n verstaanbare patroon kan ontdek. As jy net met sekerheid kan vasstel dat dit met goeie mense goed, en met slegte mense sleg gaan. Job se vriende het gereken dit is die wyse waarop die wêreld in mekaar sit. Die boek Job is egter geskryf om alle Jobstroosters van hierdie illusie te verlos. Was die 18 mense (Lukas 13) op wie die toring van Siloam geval het skuldiger as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Jesus.

In Genesis 40 is geen spoor daarvan te vind dat die skinker onskuldig en die bakker ‘n skurk was nie. Van albei lees ons in vs. 1 dat hulle verkeerd opgetree het teenoor hulle koning. As die een skuldig was, geld dit ook die ander. Die skandalige wyse waarop die skinker na sy verhoging aan die koninklike hof skoon van Josef vergeet het, tel ook nie juis in sy guns nie. Dit staan in skrille kontras met wat ons lees in Lukas 23: 42, 43 waar die medeveroordeelde misdadiger aan die kruis vir Jesus vra: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”, en dan uit Jesus se mond verneem: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”. In Genesis 40: 14 vra Josef uitdruklik vir die skinker: “Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ‘n guns bewys.” In vs 23 lees ons egter: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.”

Dit is hierdie soort verhaal waarvan die lewe vol is, wat jou natuurlike sedelike besef soms geheel en al in verwarring bring. Net soos die arbeiders wat volgens Matteus 20 reeds vroeg die oggend gehuur is (“Gelykenis van die arbeiders op verskille ure gehuur”), suur is omdat die laatkommers dieselfde loon ontvang, skryf ons natuurlike besef van sedelikheid voor dat mense hulle verdiende loon moet kry. Wat sake selfs nog slegter maak vir ons natuurlike sedelike voorkeure, is die feit dat die skinker en die bakker miskien ewe sleg was, maar hulle was beslis nie ewe belangrik nie. In Egipte korrespondeer iemand se sosiale stand en status met ‘n vaste natuurlike orde wat ooreenkomste vertoon met die diereryk. Soos in laasgenoemde geld ook in Egipte die wet van die “survival of the fittest”. Ook in ons menslike samelewing is dit nog steeds die magtiges en belangrikes wat die toon aangee. Dit is net so natuurlik soos die stand van die sterre. En uiteraard skyn die een ster helderder as die ander. In Egipte is ‘n bakker byvoorbeeld, baie blinker as ‘n skinker. Jy kan dit ook goed begryp: brood is belangriker as brandewyn. Laasgenoemde is ‘n luukse; brood is broodnodig. Brood is vir die werksdag; wyn is vir die feesdag. “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet”. Dit is natuurlik, dood-natuurlik!

VOORKEUR VIR DIE FEES

In hierdie verhaal vind egter ‘n vreemde omkering van die natuurlike orde plaas. Dit hou waarskynlik verband met die feit dat die farao verjaar het. Op hierdie fees gee die farao voorkeur aan die skinker bo die bakker. Sou dit dalk die rede wees waarom hierdie vreemde verhaal sy pad gevind het na die Bybel?

In die Skrif heers daar ‘n vreemde voorkeur vir die fees. Die Kerkhervorming het begin toe die Reformatore dit ontdek het. Dit gaan lynreg in teen ons prestasiegedrewe en suksesbesete samelewing. In die Bybel is die mens se bestemming nie die werksdag nie, maar die feesdag, die rusdag, die Sabbatdag. Wyn is in die Bybel meer maal die simbool van die feesdag waarheen die ganse skepping oppad is. Die Reformatore het besef dat by daardie fees die toegang gratis is of glad nie. Vir hierdie fees is belangrikheid ‘n belemmering. Wat dit juis so feestelik maak is die feit dat ons dit nie verdien nie. Geen wonder nie dat in die Evangelie volgens Johannes die eerste teken van Jesus die wynwonder is tydens die bruilof te Kana waartydens die Seun van God die groot Skinker was.

Dit laat mens vermoed dat Johannes dit verstaan as ‘n voorteken van die bruilofsfees van die Lam waarvan ons lees in die Openbaring 19: 7. By daardie fees sal tallose aansit wat belangrike mense normaalweg vermy. Soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat aanstoot neem omdat Jesus saam eet met die semels. Indien jy nie deel wil wees van hierdie gulhartige fees nie, moet jy jouself uitsluit. Jesus se etes, soos die laaste Avondmaal, soos elke nagmaal, is tekens, sakramente van die groot fees waarheen skepping en geskiedenis oppad is.

Het dit jou al opgeval watter vreemde voorkeur in die Bybel heers vir diegene wat van nature minder belangrik is, diegene wat die sosiale en godsdienstige elite minderwaardig vind? Dink byvoorbeeld aan die voorkeur in die Skrif vir die jonger seun, d.w.s die een wat “van nature” minder belangrik is – mense soos Abel, Jakob, Josef, Gideon, Dawid, Salomo. Meer nog: het die vreemde voorkeur vir die verlorenes jou al aan die dink gesit?

Dink aan die verlore tollenaar, die verlore Lasarus (bedelaar), die verlore penning, die verlore skaap, die verlore seun. Op die byna uitspattige fees van sy vader vir laasgenoemde mislukking, stel die jonger seun deur sy verlorenheid sy voorbeeldige ouer broer in die skadu (Noordmans).

DIE BROOD VAN ELLENDE

Naas die skinker se beker vind ons op die nagmaalstafel ook die bakker se brood. Tydens die Joodse paasfees het brood en wyn verskillende funksies gehad. Die moment waarop Jesus die woorde: “Dit is my liggaam, wat ter wille van julle gebreek word” uitgespreek het, was op die stadium dat die volk op paasfees die ongesuurde brode gebreek het met die woorde: “Dit is die brood van ellende wat ons vaders in Egipte geëet het.” Anders as by die beker van blydskap, val die aksent by die nagmaalsbrood op die sonde en ellende, die nood en dood waarvan die Lam van God ons verlos het (Joh 1: 29).

Van die bakker loop net so ‘n duidelike lyn na die nagmaalstafel as van die skinker. Nou is dit egter nie die bakker as ‘n belangrike man nie, maar as ter dood veroordeelde aan ‘n vloekhout. Die Joodse hang aan ‘n paal, soos die Romeinse hang aan ‘n kruis, en die Germaanse hang aan ‘n galg, beteken dat jy hang tussen hemel en aarde. Nêrens is daar vir jou plek nie. Nóg die hemel, nóg die aarde is in jou geïnteresseerd. Soos die bakker se teregstelling word ook Jesus se kruisdood meermale in die Evangelie volgens Johannes beskryf as sy “verhoging” aan ‘n vloekhout. Byvoorbeeld Johannes 12: 32, 33: ‘“As Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe”.

Daar is soveel wanhopige “waaroms?” in die wêreld. In die kruisroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” word alle “waaroms?” in die wêreld saamgepers. Alle lyding in skepping en geskiedenis van die een namens die ander, is deelname aan Christus se lyding ter wille van die wêreld in sy nood. Dit geld van die diere-offers namens die volk in die Ou Testament; van Josef namens sy broers; van die bakker namens die skinker; van die agtien op wie die toring van Siloam geval het, namens die ander inwoners van Jerusulem. Die geheim van die lewe is plaasbekleding. “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie” (Romeine 14:7). In sigself het die lewe geen sin nie, maar dit ontvang sin deur Gods genade. Want “as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword; om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Romeine 14:8-9). “Drie dae” na die dood gee God self die antwoord op alle “waaroms?”. Op Pinksterfees sê die Heilige Gees deur die verkondiging van die apostels: “Daarom!”. Dan word alle vraagtekens uitroeptekens.

DIE BEKER VAN BLYDSKAP

Soos die brood verwys ook die beker na Jesus se dood, maar die aksent lê anders. Die moment waarop die Seun van God die woorde: “Hierdie is die nuwe testament in my bloed wat vir julle vergiet word” uitgespreek het, was op die tydstip tydens paasfees waarop die sogenaamde “beker van danksegging” of “ die beker van lofprysing” gedrink is. By die drink van hierdie beker het die vreugde oor die verlossing uit die slawehuis van Egipte deurgebreek. Die “nuwe testament” (verbond) waarna Jesus verwys is die heilsbedeling waaraan elkeen deel het wat nie aanstoot neem aan die geselskap van sondaars en sukkelaars nie.

By hierdie beker val die aksent nie op die nood waarvan ons verlos is nie, maar op die vreugde waartoe ons verlos is, die vreugde en vrede van die Sabbatsrus wat die Heilige Gees deur Woord en sakrament aan ons toesê. Dit is roep tot die rus van ons eie werke, in die volbragte werk wat God in Christus op Golgota volbring het.

Vir hierdie fees geld nie die reël van die “survival of the fittest” nie, maar is die “revival of the unfittest” (Bram van de Beek) naamlik die opstanding uit die dood, deurslaggewend. Die Heilige Gees is die “eerstelinggawe” van die groot Toekoms wat ons nou reeds in die tyd laat deel aan die bruilofsfees van die Lam.

Geen wonder nie dat die vreugde op Pinkster oor “die groot dade van God” (Handelinge 2: 11) so oorweldigend was dat sommige gedink het die deelnemers was vol soetwyn (Handelinge 2: 13 – 1953-vertaling). Dit was reeds ‘n voorsmaak van die fees van die voleinding wanneer Jesus saam met sy dissipels, die vrug van die wynstok nuut sal drink in die Koninkryk van sy Vader (Matt 26: 29).

Van hierdie uitbundige fees lees ons reeds in Jesaja 25: 6-8 (1953-vertaling): “En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn en vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee…”. Dit klink soos ‘n vader of moeder wat ‘n huilende kind wat pas wakker geword het styf vashou en verseker: “Toemaar, toemaar, die nagmerrie is verby. Jy is nou wakker. Jy is veilig by die huis”.

TUSSEN GELOOF EN AANSKOUING

Sover is ons nou nog nie. Ons situasie tussen Christus se oorwinning en ons opstanding uit sonde en dood in die voleinding, herinner aan ‘n drama wat afgespeel het tydens die 50-tiger jare in die myndorp Lengede in Duitsland. Dit was as gevolg van ‘n mynramp waartydens ‘n aantal mynwerkers lewend begrawe was in ‘n mynskag. Aangesien die reddingspoging destyds wêredlwyd op TV uitgesaai is, het dit ‘n besondere indruk gemaak.

Eers is vanaf die oppervlakte ‘n gat deurgeboor tot by die vasgekeerdes in hulle “graf”. Daarna het ‘n uiters spanningsvolle moment aangebreek toe ‘n mikrofoon in die gat laat sak is. Die hele wêreld het met ingehoue asem gewag terwyl die name van die vasgekeerdes afgelees is om vas te stel wie nog lewe. Aangrypend was dit om die mense uit die diepte (Psalm 130) te hoor roep. Die aflees van die name het een teoloog laat dink aan aflees van die dopelinge se name tydens Doopsondag. Die Bybel praat immers van die doop as die “bad van die wedergeboorte” (Titus 3: 5, 1953-vertaling). Maar ‘n mens sou ook aan die nagmaal kon dink.

Deur hierdie opening in die dood kon met hulle gepraat word, kon noodvoorraad soos medisyne en voedsel neergelaat word om die vasgekeerdes aan die lewe te hou totdat die reddingspoging voltooi was. Enersyds was hulle dus reeds gered; andersyds sou dit nog ‘n rukkie duur voordat hulle redding ondubbelsinnig duidelik aan die lig sou tree, of in Bybelse taal, geopenbaar sou word. Intussen kon hulle egter reeds asemhaal deur hierdie gat in hulle graf, kon hulle oorleef van die noodvoorraad, kon hulle kommunikeer na bo.

Paasfees beteken dat God in Christus ingeboor het tot by ons waar ons vasgeval was in sonde en dood. Sy opstanding impliseer dat daar ‘n gat in die dood is waardeur ons nou reeds in die geloof die skoon blou lug van God se Koninkryk kan aanskou. Sedert Pinkster waai die wind van die Gees deur hierdie opening in die dood sodat ons nie geestelik versmoor nie. Die tekens van brood en wyn is noodvoorraad wat God uit die hemel neerlaat om ons geestelik te laat oorleef. In vergelyking met wat wag by die “Bruilof van Lam” is die tekens van brood en wyn maar skamel. Tog verkondig dit reeds by voorbaat: netnou is ons Bo!

Nou is die tyd om te volhard in die geloof. Eers by die finale tuiskoms by God, sal ons werklik “op en wakker” wees. Amen.
0 Kommentaar: so far: