POSTED BY John Wait on 17:00 under ,
Johannes 1:29:34

Johannes die Doper was ‘n besondere man. Jesus het van hom gesê: “Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie”.

Reeds in die Ou-Testament was daar die verwagting van geboorte, lewe en roeping van ‘n man wat die weg sou voorberei vir die koms van die Messias. Diegene wat gesmag het na die koms van die Messias, het uitgesien na die koms van die een wat die pad sou reguit maak vir die Messias. Nou het dit bewaarheid geword in die geboorte van Johannes die Doper. En juis om hierdie rede was hy ‘n besondere man.

Die geboorte van Joahannes die Doper was eweneens ‘n besondere geboorte. Sy geboorte is deur ‘n Engel van die Here aan sy bejaarde en kinderlose vader aangekondig. Soos die geval met Isak en Samuel was, was ook sy ontvangenis in die besonder ‘n genadegawe van God, omdat sy ma onvrugbaar was. Reeds vanaf sy ontvangenis was Johannes die Doper ‘n besondere man. Vanaf sy geboorte is hy vervul met die Heilige Gees.

Maar Johannes die Doper was veral ‘n besondere man, omdat hy ‘n besondere roeping gehad het om in die lewe te vervul. Hy moes die Wegbreider vir Jesus wees. Hy moes die volk voorberei vir hul ontmoeting met Jesus Christus. Onverskrokke en sonder om terug te deins, kondig hy die oordeel van die Here aan oor die volk en pleit hy by hulle om bekering.

In sy boodskap let hy nie op die mense nie. Suiwer bring hy die boodskap: Bekeer julle en glo. As die Farisieers en Saddusseers na hom kom luister, sê hy vir hulle: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die oordeel wat aan die kom is? Selfs vir die koning deins hy nie terug nie. Hy bring die boodskap van God - al kos dit ook sy lewe. Want hy het nie vir homself  of sy eie belange geleef nie. Hy leef vir God.

 Hy gun homself nie eens die gemak van ‘n gereiflike woning en goeie klere nie. Nee! In die woestyn bly hy – van kameelhare maak hy vir homself klere. Sprinkane en wilde heuning was sy kos! “n Nederige, onaansienlike lewe het hy gelei. Eie belange was na die agtergrond geskuif. Dit gaan hier deur en deur maar om die eer van God.

Nou moet ons onthou dat die moontlikheid van selfverheffing vir hom baie groot kon wees. Die mense het gou besef dat hy ‘n besondere man was! In groot getalle stroom hulle na hom om na sy boodskappe te luister en deur hom gedoop te word. Maar Joahannes die Doper soek nie sy eie eer nie. Steeds verklraar hy uitdruklik: God moet meer word en ek minder!

Die priesters en die Leviete en Fariseërs stuur selfs na hierdie besondere man en vra of hy dan nie die Christus is nie. Die versoeking moes geweldig groot gewees het. Dink aan die verleiding daarvan. Maar uitdruklik verklaar Joahannes die Doper telkemale - ek is nie die Christus nie. Ek is alleen maar die wegbereider.

Johannes die Doper is ‘n besondere man omdat hy ‘n besondere boodskap gehad het. Rondom hierdie boodskap het sy lewe gesentreer. Hierdie boodskap het sy lewe deurdrenk en van hom ‘n besondere man gemaak. Hierdie alles veranderende en vullende boodskap is vervat in die woorde van ons teks: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Dit was die boodskap wat Johannes die Doper uitgedra het. Soos ‘n wegwyser langs die pad wys hy met alles wat hy was en waaroor hy beskik het, in die rigting van Jesus Chrstus. Sy woorde het die mense hulle oë laat opslaan na die Verlosser. Sy lewe het gedui in die rigting van Jesus Christus – die Leidsman en Voleinder van geloof.

Die oordeelswoord was nie die laaste woorde van Johannes nie. Nee, as sy prediking by veroordeling geëindig het, was hy alleen maar ‘n doemprofeet en sou sy boodskap nie veel gewig gedra het nie. Nee. Hy kondig die oordeel aan om aan die eiegeregte volksgenote wat so ‘n skeinheilige lewe gelei het, die wit gepleisterde grafte, te toon dat daar in selfregverdiging geen regverdiging is nie. Dat hulle selfbelang ontmasker sal word. Dat daar maar een weg is: Jesus Christus. Daarom pleit hy ernstiger as wat hy oordeel aankondig dat hulle hulle hartgrondig moet bekeer en glo in die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Daar is die Lam van God: Jesus Christus. Die nederige en sagmoedige. Die een wat ter slagting gelei is en Hom nie verset het nie! Omdat Hy gekom het om ter slagting gelei te word. In die Ou-Testament bedeling moes daar elke dag ‘n lam geslag word ter versoening van die sondes van die volk. Nou stuur God self die lam – Sy Eniggebore Seun. Hy is self die Offer. Jesus bied Homself aan as offer. Hy bring die volkome offer. En dan nie alleen vir die sondes van Israel nie. Nee. Ter wille van die wêreld. Vir almal. Ook vir ons.

Die Lam van God kom om die sondes van die wêreld weg te neem deur dit op Hom te neem en deur Sy dood weg te neem sodat dit in die oë van God nie meer bestaan nie!

Johannes die Doper was ‘n besondere man omdat hy in ‘n besondere verhouding met Jesus gestaan het. Hy was die een wat gewys en uitgeroep het na die Lam van God. Maar ook Johannes die Doper was nie ‘n superman nie. Hy is eintlik maar slegs ‘n voorbeeld van wat God wil hê dat ons almal moet wees. Ja, die Woord van God roep ons op om wegbreiders te wees. Om ander voor te berei vir die Wederkoms van Jesus Christus. God wil ook dat jy ‘n besondere mens sal wees. En herin moet ons ook soos Johannes die Doper optree.

Om ‘n wegbreider te wees moet ons deur die Heilige Gees vervul wees. Uit onsself kan ons nie. Slegs as ons gevul is met die Heilige Gees van God. As ons nie vir onsself leef nie, maar vir God. Daarom mag hierdie lewe nie die bymekaarmaak wees van aardse skatte of eer en prestige nie. Nie ingestel op eie belange en eer nie. Nee, Lewe moet op God gerig wees. Uit Hom en deur Hom en tot Hom. Hy moet die middelpunt wees waarom my lewe draai.

Dan word ons opgeroep om die oordeel aan te kondig. Om die mantels van skyn af te ruk. Mense te wys op sonde en ongeregtigheid. Maar nie liefdeloos nie! Nie uit die hoogte te veroordeel nie. Ons mag nie ketterjagters word nie.

Nee, oordeel aankondig omdat ons ander liefhet en in dieselfde oordeel as hulle gestaan het! Oordeel omdat ons in liefde begaan is oor hulle lewens en veral hulle einde! Bowen-al: Wys op Jesus: Sê deur jou hele lewe: “Daar is die Lam van God wat alle sonde wegneem.

Ons lewens moet rigtingwysers wees. Ons daaglikse arbeid moet wys in die rigting van die kruis. Ons inspanning moet getuig van Jesus. Ons woorde moet wys op Jesus. Ons lewe en belydenis, woord en diens moet van Hom getuig.

In die Christelike Kerk is daar nie plek vir geestelike papbroeke nie. Ons word almal opgeroep om helde te wees. Nie uit eie krag nie, maar in die krag van Jesus Christus! Moenie apologeties wees nie. Tree kragdadig en onverskrokke op tot eer van die naam
0 Kommentaar: so far: