POSTED BY John Wait on 10:08 under ,
Lukas 24:1-12

Dit gebeur baie maklik dat die appelkarretjie omgegooi word. Een oomblik loop alle dinge nog soos verwag en dan skielik gebeur net mooi die teenoorgestelde. Gewoonlik beleef mens dit baie negatief. Ons hou mos van die bekende: dat dinge verloop soos beplan; dat die verwagte waar word. Tog gebeur dit soms dat alles net mooi anders verloop. Dit het ook in hierdie teksgedeelte gebeur….

Hier gaan dit om vroue wat na die graf gaan om Jesus te salf. Dit was in daardie tyd die gebruik dat ‘n liggaam met olie gesalf word voor die begrafnis. ‘n Begrafnis het plaasgevind op die dag waarop die persoon gesterf het en verder nog ook voor sonsondergang daardie selfde dag.

Met die dood van Jesus het dinge egter nie normaal verloop nie. Hier was ‘n graf nie bekikbaar nie. Daarby het Jesus redelik laat in die middag gesterf en moes toestemming nog verkry word om Hom te begrawe. Daar was dus nie tyd om die salwing af te handel en Hom te begrawe voor die aanbreek van die Sabbat nie.

(2)As die vroue by die graf kom, is hulle diep geskok want dit is anders as wat hulle verwag het: die klip wat toegang tot die graf verleen, was weggerol. Hulle skok word nog groter as hulle ingaan en vind dat die graf leeg is en dat daar boonop twee mans in blink klere in die graf is. Mens kan jou indink hoe diep geskok hulle moes gewees het.

“n Graf was ‘n onrein plek en iemand wat aan ‘n lyk raak was vir ‘n lang tyd onrein. Dit beteken dat die vroue bereid was om onrein te wees ten einde die laaste eer aan Jesus te bewys. Hulle was gekok om mans in die graf te sien omdat grafskending nie dikwels voorgekom het nie. Geen wonder dat ons lees dat hulle verbaas en geskok was nie. Die wind was volledig uit hulle seile.

Kan ons onsself in hulle plek voorstel? Stel jou voor jy kom by die graf van ‘n geliefde en vind jy dat die graf leeg is en dat daar nog twee vreemdelinge by die graf sit. Ons almal sal seker geskok en kwaad wees!

Die vroue het groot geskrik en na die grond gebuig: uit vrees en as teken van nederigheid en onderdanigheid. Hulle was totaal platgeslaan en verslae. Wat is dan nou aan die gang?

Dan vra die manne aan hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood uit opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: “Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan”(Lukas 24:7).”

Die vroue (en ook al die ander dissipels en volgelinge van Jesus) het vergeet wat Jesus gesê het. Miksien het hulle dit gehoor maar nie mooi begryp wat Hy gesê of wat Hy bedoel het nie. Hulle het maar net soos ons gehoor wat vir hulle verstaanbaar en aanvaarbaar was. Wat buite hulle verwysingsraamwerk geval het, het hulle maar net by hulle laat verbygaan.

In die nuwe situasie onthou hulle die woorde en kan hulle dit begryp. Dan gaan hulle terug en vertel aan die ander dissipels wat hulle ervaar het. Vir die ander is dit egter onaanvaarbaar en onsinnig. Hulle glo die vroue eenvoudig nie. Dit wat hier vertel word, pas nie in hulle verwysingsraamwerk nie. Hulle het nog nooit van so iets gehoor nie.

Met hulle verstand kon hulle dit nie uit redeneer nie. Omdat dit nie logies was nie, was dit dus ook nie aanvaarbaar nie. Nee, die vroue is met onsinnige praatjies besig. Hierby moet ons onthou dat die woorde van die vroue in daardie tyd nie besonder baie gewig gedra het nie en dat hulle selfs nie eens in hofsake kon getuig nie.

Tog reageer Petrus anders. Hy hardloop om te gaan kyk of dit wat gesê is nie tog dalk waar is nie. Miskien net om te sien waarom die vroue so praat…By die graf besef hy dat hulle wel gronde het en is ook hy verwonderd oor wat gebeur het.

Die opstanding van Jesus is ‘n misterie. Dit pas nie in die normale patroon nie. Ons weet mos as iemand gesterf het word hy/sy begrawe of veras en dit is die einde. Die dood is finaal. Dit is die een situasie waarvan die uiteinde bekend en omomkeerbaar is. Jy sterf en word begrawe of veras, en dis finaal.

Hier lees ons van ‘n tipies menslike reaksie op die opstandingsbelydenis. Hulle wat dit hoor, is verbaas. Die wind is uit die seile. Die mens begryp dit nie. Dit lyk na onsin. Dit word nie gelgo nie. Gebeur dit nie vandag nog nie?

Al bely kerke en gelowiges al vir eeue dat Jesus opgestaan het uit die dood, is dit nog steeds iets waaroor mense met huiwering praat. So asof dit bely kan word in die kerk maar nie heeltemal aanvaarbaar is nie.

Die wat nie direkte getuies was nie, het gereageer met ongeloof. Dit wat gesê is, het na onsin geklink. Dit was soos ‘n storie wat nie waar kan wees nie. Mens moenie te hard hieroor oordeel nie, want dit is so dat dit nie verklaarbaar en alledaags is nie. Sou ons dit geglo het as ons nie al van kindsbeen af hiervan gehoor het nie?

As ons dit skielik vir die eerste keer moes hoor, sou ons waarskynlik net so gereageer het. Aan die ander kant is dit ook waar dat die feit dat ons van kindsbeen af goed bekend is met die opstandingsverhaal kan meebring dat die misterie daarvan by ons verbygaan- ons staan selde in verwondering oor die grootste van alle wonders.

Die opstanding bring die mens by die punt van verwondering. Dit wat daar gebeur het, pas nie in die mens se normale verwysingsraamwerk nie. Dit bring mens by die besef van die grootheid van God. Telkens lees ons dat die mense tot wie die besef van Jesus se opstanding deurgedring het, verwonderd was.

(3)Die vraag is nou: Hoe reageer ons op die opstanding van Jesus? Dit lyk my mense reageer op een van vier wyses hierop.

(4) Eerstens is daar die wat nie glo nie. Vir wie die opstandingsbelydenis na onsin klink. Wat meen dit is iets wat nie geglo kan word nie en wat dit afmaak as feëverhale…

(5)Tweedens is daar diegene wat probeer om dit te verklaar. Wat allerlei verklarings probeer aanbied van wat nou eintlik daar gebeur het. Die verklarings kan wissel van pogings om die opstanding te verklaar as iets wat om bepaalde natuurwetenskaplik begronde redes verklaar word tot verklarings waarin gepoog word om dit vanuit die wereldbeskouing van destyds te verklaar.

(6)Derdens is daar diegene wat sê dat ons moet vra na die doel van die opstandingsbelydenis. Wat was die doel van die opstandingsverhale in die Evangelies? Natuurlik is dit uiters belangrik, want geen Bybelboek is sommer net so gekryf nie. Elke Bybelboek het ‘n spesifieke doel.

Die doel van die Evangelies verskil ook omdat dit in verskillende tye en aanvanklik vir verskillende teikengroepe geskryf is. Die doel van geen Evangelie was om ‘n historiese berig te wees wat net feitelike gegewens wou oordra nie. Die opstandingsverhale het dan ‘n spesifieke funksie in die beligting van die doel van die besondere Evangelie.

Vierdens is daar diegene wat in verwondering voor die belydenis en die opgestane Jesus staan. Wat aanvaar dat ons nie kan verklaar nie en nie probeer om dit te doen nie. Wat in verwondering stil word voor die grootste van alle wonders. Wat sê: hier het iets gebeur wat ons nie kan verklaar nie.

Ons kan dit maar net glo en bely. God is hier aan die werk. Sy werke is soms, soos Hyself, nie verklaarbaar nie. Daarom moet ons aanbidding vanoggend ruimte laat vir verwondering. Waar verwondering ontbreek, word aanbidding maar skraal en formeel en koud en sterf dit dan ook geleidelik.

Sal ons nie maar aanvaar dat ons nie alles weet of begryp nie en net stil word nie? Verwondering is aanbidding. In ons tyd het ons so onrusbarend seker geword en bly daar so min ruimte vir verwondering oor. Geen wonder die lewe word dan so oninteressant nie. Hoe kan ons tog alles begryp en verklaar? Nee, juis in die godsdiens moet ons kom by die punt van bewondering en verwondering.

Die Here wat ons aanbid, is so oneindig groot en ver bo ons verhewe. Kom ons buig in verwondering voor die opgestane Jesus - dit is die kern van ons geloof en hoop en liefde…
0 Kommentaar: so far: