POSTED BY John Wait on 08:32 under , ,
Lukas 24:13-35

Dit wil vir my voor kom asof hoop die sentrale tema in die vertelling oor die verskyning van Jesus aan die Emmausgangers is. Wat doen mens as jy alle hoop verloor het? Hoe reageer jy as dit waarop jy jou hoop vir die toekoms geplaas het, skielik nie meer daar is nie?

Die situasie waarin die Emmausgangers hulle bevind het, was alles behalwe ideaal. Hulle was diep verward en ontnugter en het nie mooi geweet wat nou aan die gang is nie. Hulle het hulle hoop op Jesus geplaas. Hulle het gehoop dat Hy hulle van die Romeinse oorheersing sou bevry. Maar toe verloop dinge heeltemal anders. Jesus word gevange geneem, veroordeel, gekruisig, sterf en word begrawe.

Die Emmausgangers is op pad terug van Jerusalem na Emmaus – so 12 kilometer van Jerusalem af. Die terugtog huis toe is ‘n moeilike een, want hulle het hulle hoop verloor. Hulle stap kop onderstebo terug, onseker oor die toekoms, verward oor die gebeure die afgelope paar dae in Jerusalem.

Hulle het onder moeilike omstandigehde geleef. Op politieke gebied het hulle onder die juk van die Romeine gestaan. Hulle vryheid moes hulle jare vantevore al prysgee en daarmee kon hulle nog nooit vrede maak nie. Die wat nie Romeinse burgerskap gehad het nie, was eintlik maar tweederangse burgers wat van alle voorregte ontneem was. So kon slegs Romeinse burgers grond besit en ambagte beoefen.

Ekonomies het dit maar swaar gegaan en dit was nie aldag maklik om kop bo water te hou nie. Op morele gebeid was verval aan die orde van die dag. Dinge het nie lekker gewerk nie. Hulle was nie baie optimisties oor die toekoms nie en hoop was maar skaars.

Maar dan hoor hulle van Jesus. Allerlei berigte oor Sy woorde en dade bereik hulle en hulle volg Hom. Hulle word getuies van Sy optrede. Dan begin die hoop opvlam: Hy sal hulle bevry uit hulle moeilike omstandigehde. Hy, so hoop hulle, sal die juk van die Roemeine omverwerp. Dan sal dit baie beter met hulle gaan. Ja, in Hom sien hulle die hoop vir die Jode.

Maar, helaas, dan verander dinge weer netso. Jesus word gevang en aangekla, verhoor en veroordeel. Hy word gekruisig, sterf en word begrawe. So word die basis van hulle hoop vir die toekoms meteens van hulle af weggeneem. Nou het hulle geen grond meer vir hoop nie. Die toekoms lyk al donkerder.

Om dinge te vererger, hoor hulle dan nog op die dag van hulle vertrek, allerlei gerugte. Vroue kom vertel van ‘n leë graf en manne in blink klere. Petrus kom en bevestig dit. Kan mens glo wat Petrus en vroue sê? Veral omdat dit so absoluut anders is as alles wat hulle nog altyd geglo en gehoor het, is dit bitter moeilik om dit te glo.

As hulle dan met somber gesigte huis toe stap, praat hulle oor dit wat gebeur het. Hierdeur probeer hulle om iets daarvan te verstaan of minstens om dit vir hulleself te verwerk.

Dit is dan dat Jesus by hulle aansluit. Aanvanklik is hulle verbaas as dit wil voorkom asof Hy nie weet wat die afgelope paar dae in Jersualem gebeur het nie. Hy begin dan om die Skrifte vir hulle uit te lê. Tog word nie gesê of hulle dit begryp het nie en of hulle net maar gehoor en nie verstaan het nie.

As hulle by die huis kom, nooi hulle Hom in. Ten spyte van hulle hartseer en verwarring en die verlies van hulle hoop, en miskien omdat die lig al ietwat deurgebreek het, behou hulle hulle gasvryheid.

As Jesus dan by die maaltyd die brood neem en breek, herken hulle Hom. Dan verander alles. Hulle herwin hulle hoop: Jesus is nie dood nie, maar Hy leef. Hy het waarlik opgestaan. Dit verander alles. Hulle kom dadelik in beweging en gaan terug Jerusalem toe – al is dit nou al aand. Hulle somber gesigte verhelder en hulle trae voete kom in beweiging. Nou sien hulle weer kans vir die lewe. Hulle het hoop en hoop maak mens nie pasief nie, maar bring mens in beweging; hulle doen iets; hulle gaan gou-gou Jerusalem toe om aan die ander dissipels te vertel wat gebeur het.

Lukas skryf sy Evangelie vir Christene wat hulle hoop verloor het. Hulle het onder moeilike omstandighede geleef. Na die aanvanklike goeie verhouding met die Jode, het die verhouding nou suur geword. Daar is vyandigheid en afgunstigheid. Jode begin om die Christene uit te skakel en selfs te vervolg. Daarby het hulle nog steeds onder die Romeinse oorheersing geleef. Die Romeine het hulle na die Joodse oorlog ook nog met groter agterdog bejeën. Van alle kante het die groepie Christene  teenspoed gekry. Geen wonder dat hulle soms moedeloos en selfs depressief geword het nie.

Soos ons weet, bring die verlies aan hoop, en depressie mee dat mens maar net sit en niks doen nie.

Die mens aan wie Lukas sy Evangeldie rig, is dan ook nog soms verward. Hulle geloof en lewe is gebasseer op die geloof in die sterwe en opstanding van Jesus.

Daar was egter nou ook talle mense wat met allerlei interpretasies gekom het en gemeen het dat Jesus nie werklik opgestaan het nie. In die tyd het daar veral vrae na vore gekom of Jesus werklik opgestaan het. As Hy dan nie al weer gekom het soos hulle verwag het nie; as die wederkoms dan nie gou plaasvind nie, watter waarborg is daar dat Hy opgestaan het. Was dit tog nie maar net stories nie?

Geen wonder dan dat so baie met somber gesigte rondgeloop het nie; dat lewensvreugde ontbreek het en dat hulle oor die algemeen belangstelling en lewensywer verloor het nie.

Lukas skryf dan juis sy Evangelie om sy lesers op te roep tot geloof en daadkragtige lewe. Hy wil sy lesers as’tware oproep om in beweging te kom en aan ander te vertel wat hulle glo: dat Jesus gesterf het maar dat Hy ook opgestaan het en leef.

Trek ons die lyne na ons tyd deur, dan is dit duidelik dat die boodskap van die gedeelte baie aktueel is vir ons tyd. So baie mense is vandag moedeloos. Depressie het byna ‘n epidemie geword. Ons sien mense moedeloos en pasief rondsit. Ons hoor mense kla en sug. Ons sien ‘n klomp somber gesigte ook hier in die kerk. Dit is asof alle lewensvreugde verdwyn het.

Nou dit kan tot ‘n mate toegeskryf word aan ons situasie waar die omstandigehde op politieke vlak die afgelope tyd nogal baie verander het. Mense vind dit moeilik om dit te verwerk. Daarby knel die ekonomie al meer. Mense verloor hoop en verlaat ons land in strome. Is daar nog vir ons ‘n toekoms in hierdie land? In plaas van versoening kom daar soms ‘n al groter gaping tussen mense en groepe. Agterdog word al groter. Vertroue en hoop vervaag.

Dit is juis nou dat die boodskap van die osptanding van Jesus so belangrik is. Jesus het opgestaan en Hy leef. Ons moet met Hom opstaan tot ‘n nuwe lewe. Dit beteken nie alleen dat ons uit ‘n sondige lewe moet kom tot ‘n lewe met Christus nie, maar ook dat ons moet leef!

Dit beteken dat ons moet praat en doen. Dat ons moet praat oor wat Jesus vir ons gedoen het; praat oor ons verhouding met die lewende Here. Dat ons daadkragtig moet optree. Te veel en te dikwels is die kerk soos die Emmausgangers met loodvoete en somber gesigte op pad huis toe. Te min is ons met blydskap op pad terug Jerusalem toe.

Wat wil hiedie gedeelte vir ons sê? Het dinge vir jou te veel geword? Voel jy ook moedelos en het jy alle hoop verloor? Dan is dit nou tyd dat jy sal besef: Jesus is nie dood nie. Al die stories en vyandskap is nie waar nie. Hy leef Hy het oorwin. Hy is hier by ons! Van Sy teenwoordigheid moet ons bewus word. Ons moet weer in beweging kom. Leef met die opgestane en lewende Here Jesus!
0 Kommentaar: so far: