POSTED BY John Wait on 07:21 under ,
Matteus 4:1-11 (1)

(2)Beproewing en versoeking is deel van die lewe. Daar is nie een van ons wat kan sê dat ons nooit beproef of versoek is nie. Ons ken dit mos almal. Op veskillende wyses is ons al beproef en versoek. Die lewe is nou eenmaal nie ‘n gelyk pad nie. Daar is tye wanneer ons voro groot en ernstige versoekings te staan kom. Dis dan dat ons soms vra: “Waarom word ek so versoek? Hoekom kom al die beprewings oor my pad? Hoekom is my pad so swaar?”

Dit is ongelukkig so dat ons soms nie die beproewings weerstaan nie en aan die versoekings toegee. Soms lyk dit asof dit mode is om toe te gee. Dis in elk geval die maklikste. Dan praat ons maar van die gelukkie wat oor ons pad gekom het, of ons verskoon onsself deur te sê dat ons dit maar moes doen om êrens te kom. As ons nie meegedoen het nie, dan sou ons nie die pos of kontrak gekry het nie. Ons redeneer dat dit hoofsaaklik was vir ons sekuriteit en die veiligheid van ons gesinne.

(3)Matteus vertel vir ons dat Jesus ook beproef en versoek is. Wat hier opvallend is, is die plek waar hierdie vertelling in die Evangelie van Matteus voorkom. Matteus skryf oor die versoeking van Jesus nadat hy vertel het van die doop van Jesus wat uitgeloop het op die stem wat uit die hemel gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verjeug Ek My” (3:17).

Net na die vertelling oor die versoeking van Jesus, volg die vertellings oor die openbare optredes van Jesus. Hierdie plasing van die versoeking is belangrik. Daarmee word vir ons gesê dat Jesus hierdie toets geslaag  het en so aangetoon het dat Hy waardig is vir die roeping waartoe Hy geroep is. Hy is waardig om Sy goddelik opgelegde taak uit te voer.

Jesus word deur die Gees die woestyn in gelei. Juda word aan die ooste en suidekant begrens deur woestyne. Aan die ooste, tussen die bergland en die Dooie See, lê die Judese woestyn. Dit is ‘n klipwoestyn en onherbergsame landstreek. Dis hier waar Jesus Hom bevind. Die woestyn het nie net ‘n groot rol in die geskiedenis van Israel gespeel nie, maar is ook verskillend gesien. Dit is gesien as die plek van dood en demone. Veral in die vroeër tye is daar geglo dat demone in die woestyn woon en dat hulle alles vernietig en doodmaak. Daarom is dit ook gesien as die plek wat deur God vervloek en gestraf is. So moes Israel vir 40 jaar in die woestyn bly as hulle straf omdat hulle nie geglo het dat die Here hulle veilig na en in die beloofde land sou lei nie.

Daar was ook die siening dat woestyne die plek is waar die Here Sy kinders beproef en hulle geloof in Hom op die proef stel. Dit vind ons onder andere in Deteronomium. Omdat al die antwoorde wat Jesus aan die duiwel gee aanhalings uit Deuteronomium is, kan afgelei word dat hierdie seining hier sterk op die voorgrond staan.

Dan was daar ook die seining dat die woestyn die plek is waar gelowiges hulle afgesonder het om naby God te wees. Weg van die alledaagse en daar waar jy volkome op die genade en beskerming van God aangewese is.

Die duiwel kom na Jesus en versoek Hom deur te sê: “As U die Seun van God is, sê dan dat hierdie klippe brood word” (4:3). Die woord wat hier met “as” weergegee word, kan ook vertaal word met “aangesien”. Miskien is dit doelbewus dubbeslinnig.

Aan die een kant is dit ‘n beroep op Jesus om te bewys dat Hy die Seun van God is. Terselfdertyd sou dit ook kon dui op versoeking: “Aangesien U die Seun van God is, is dit dan mos nie moeilik om ‘n wonder te doen nie. Jesus word versoek. Hy was nou al baie honger. Vir veertig dae het hy nie geëet nie.

Nou moet ons die veertig dae nie as letterlik interpreteer en vra of dit moontlik is dat mens veertig dae sonder kos kan leef nie. Dit herhinner ons mos aan die veertig dae wat dit gereën het in Noag se tyd. Dit kan ook ‘n toespeling wees op die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn rondgeswerf het an die uittog uit Egipte.

Vier is die getal van die mens in die Bybel. Veertig is dan die absoluut volle getal van die mens. Jesus het so lank sonder kos gebly as wat menslik moontlik is.

Hy moes verskriklik honger gewees het. Om dit erger te maak, bevind Hy Hom in die Judese woestyn. Die kalksteen klippe van die woestyn lyk baie soos die brode wat hulle destyds gebak het. So ver as wat die oog kan sien, lê dit wat soos ‘n brood lyk. Dis genoeg om ‘n honger persoon in hierdie woestyn tot raserny te dryf. Ons weet dan ook dat mense wat hier verdwaal het, van hulle kop geraak het en van die klippe begin eet het.

Die duiwel sluit aan by die nood en basiese behoeftes van Jesus. Dit gaan om die basiese menslike behoefte aan kos. Kos is immers noodsaaklik vir oorlewing. Maar dit gaan dieper. Jesus word versoek om ‘n wonder te doen om te voldoen aan Sy basiese fisiese behoefte aan kos.

Ter wille van Homself en Sy oorlewing moet Hy ‘n wonder doen. Dit weier Hy. Net soos Hy later ook nie ‘n wonder sou doen om Homself te red nie. Toe Hy gevange geneem is en Petrus Hom met sy swaard sou beskerm, sê Jesus dat Hy net kon vra en engele by duisende sou Hom te hulp snel. Maar Hy wou nie.

Toe Hy aan die kruis  hang en die mense spot en sê: ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie red nie, het Hy niks gedoen om van die kruis aft e kom nie. Hy het nooit ‘n wonder gedoen om te bewys dat Hy die Seun van God is nie. Hy het nooit ‘n wonder gedoen wat Hom tot voordeel sou strek nie. Toe Hy wel wonders gedoen het, was dit tot die heil en redding van ander.

Jesus antwoord die duiwel met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 8:3: “’n Mens leef nie net van brood alleen nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

So baie van die versoekings wat ook oor ons pad kom, lê op die vlak van fisiese behoeftes. Die basiese behoefte aan kos en klere en huisvesting. (4)Hoe dikwels swig ons nie voor die versoekings nie. Hoe maklik doen ons nie minder eerlike dinge of selfs oneerlike dinge om ons materiële behoeftes te bevredig of ter wille van finansiële gewin nie. Hoe baie mense het nie al diep geval omdat hulle in die maalkolk van versoekings oor die materiële verstrengel geraak het nie. Hoe baie het nie al geswig voor seksuele versoekings nie.

Die tweede versoeking speel af in Jerusalem, die stad van God. En dan spesifiek by die tempel, die woning van God. Bo-op die toring, waar mens ‘n pragtige uitsig het op die hele stad en vallei, staan Jesus saam met die duiwel. Dis daar waar die duiwel Hom versoek met ‘n aanhaling uit die Bybel, met Psalm 91:11-12. Die duiwel sê dat daar mos geskryf staan dat God jou sal beskerm en dat die engele jou sal dra sodat jy nie eens jou toon sal stamp nie. Daarom sê hy dat Jesus hier van die tempeltoring moet afspring.

Nader as dit kan mens mos nie aan die teenwoordigheid van God kom nie. Die engele is mos nou nader as ooit. Dan sou Jesus op skouspelagtige wyse kon aantoon, ten aanskoue van al die inwoners van die stad en veral ten aanskoue van al die tempelgangers, dat Hy die Geliefde van God is wat deur God self beskerm word. Wys vir die wêreld dat God jou sal beskerm; dit wil sê, as die Bybel betroubaar is en mens God op Sy woord kan neem, is wat die duiwel vir Jesus sê.

Hoor ons wat hier aan die gang is? Die duiwel ken ook die Bybel. Hy gebruik dit self. Hy wil kyk of hy deur die Bybel te gebruik, Jesus kan verlei. Maar Jesus antwoord hom met ‘n aanhaling uit Deuteronomium (6:16): “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

Die tweede versoeking gaan om die beskerming deur God. Die belofte dat die Here Sy kinders sal beskerm, loop soos ‘n goue draad deur die hele Bybel. Oral vind ons verhale waarin dit waar geword het. Verhale as bevestiging van hierdie herhaalde belofte van God.

Maar nou mag ons nie God beproef en ons lewens in gevaar stel of dinge aanvang sodat God as’t ware moet bewys dat Hy ons sal beskerm nie. Moenie so optree dat jy deur jou optrede God op die proef stel nie. Maar is dit dan nie wat ons van tyd tot tyd doen nie? Ons doen soms dinge om te kyk of God regtig Sy woord sal hou. Is dit nie ook so dat ons voor sodanige versoekings te staan kom nie?

As jy glo, sal God vir jou sorg. As jy glo sal jy mos gelukkig of geseënd of ryk of suksesvol wees. Swig ons nie soms voor hierdie versoekings  nie? Dan bid, of eis ons eintlik dat die Here ons moet beskerm van alle gevare of vir ons rykdom of wat ook al moet gee. Nee, na die voorbeeld van Jesus moet ons optree as sodanige versoekings op ons pad kom.

Die derde versoeking speel af op ‘n hoë berg. Die duiwel wys daar vir Jesus al die koninkryke en sê dat hy alles aan Jesus sal geeas Jesus sou neerval en hom, die duiwel, aanbid. In hierdie versoeking gaan dit om mag. Hoe maklik kon Jesus nie die mag oor al die koninkryke gehad het nie. Maar Hy was nie magsbehep nie. Hy soek nie aardse mag nie. Hy stel nie belang in die mag oor die koninkryke van die aarde nie. Daarom jaag Hy sommer die duiwel weg. Dan haal Hy weereens aan uit Deuteronomium (6:13): “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien”.

Miskien is dit die tipe versoeking waarvoor ons die maklikste swig: die versoeking om mag. Ons is mos maar magsbehep. Ons wil so graag meer en meer mag hê. Ons wil ons aansien verhoog. Ons wil hoë posisies beklee. Ons wil aansien geniet. Daarvoor is ons bereid om baie te gee. Matteus sê hier dat die prys daarvoor te hoog is. Die aanbidding van die duiwel of geld of status of mag of wat ookal, is te hoë prys.

(5)Jesus is beproef en versoek. As sy kinders en volgelinge moet on sweet dat ons ook versoek en beproef sal word. Jesus het die versoekings weerstaan deur telkens die duiwel uit die Skrif te beantwoord. Deur nie eie belange nie, maar die Woord van God voorop te stel. Daarom was Hy geskik om die werk waarvoor Sy Vader Hom na die aarde gestuur eht, te doen. Ons kom telkens voor soortgelyke versoekings te staan. Versoekings wat te doen het met ons basiese materiële en fisiese beheoftes; met ons behoefte aan beskerming en met ons drang na mag en status en posisies. Die vraag is dan: hoe reageer ons? Gee ons maar toe, of weerstaan ons die versoekings? Is ons geskik om die taak waartoe God ons geroep het, te verrig?
0 Kommentaar: so far: