POSTED BY Steven Sass on 19:40 under
21 Junie 2015 Patensie
Johannes die Doper, het Jesus by geleentheid gesê, was die grootste figuur in die ou bedeling (Matt 11:11). En tog, as hy oor homself moet praat, sukkel hy, want dit het nie vir hom oor homself gegaan nie. Hy het gekom om na Jesus te wys. Dis oor Hóm wat hy praat. Later (Joh 3:30) sê hy van Jesus: “Hy moet meer word, en ek minder.”

As jý oor jouself moet praat, wat sal jy sê, wie is jy, en hoekom is jy hier?
Een ding waarvan ek die laaste tyd al meer bewus word, is dat ons hier is om God se gestuurdes in die wêreld te wees; sy hande en voete, sy teenwoordigheid in ander se lewens... en as jy jou dus besig hou met enigiets anders kan jy mar nou bietjie regop sit en luister, want tien teen een is jy in elkgeval maar net besig om jou tyd en gawes te vermors.


 Wat beteken dit om Jesus na te volg prakties? Wat verwag jy sal God doen as ons Jesus-navolgers is? Wat dink jy kan jy van Hom verwag? Wat sal Hy in jou persoonlike lewe doen, en in die gemeente, en in die wêreld?

Die soort dinge wat ons verwag, hang nogal baie nou saam met die soort beeld van God wat ons in ons koppe het. Ons bely God as die Almagtige, die Een wat alles kan doen. En daarom verwag ons dit ook van Hom. Ons is in ons magsbehepte wêreld al so gekondisioneer met die gedagte dat sterker beter is, dat die sterke oorleef en die swakke ondergedruk word, dat ’n mens graag wil hê God moet ook met mag en krag optree. En ons bely ook dat niks vir Hom onmoontlik is nie. En dit is natuurlik ook reg. Die Here ís almagtig. Wanneer Hy sy stem laat hoor, vlug volke, wanneer Hy te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar, sê Jes 33:3.

Maar die feit dat God almagtig is, beteken nie dat Hy noodwendig altyd met almag optree nie. Wanneer Hy optree, is dit dikwels nié met mag nie, maar in swakheid, in weerloosheid. Dit is ’n soort karaktertrek van God: dat Hy sy mag terughou. Nie uit swakheid nie, maar omdat dit is soos Hy is. Daarom, as die Seun van God mens word, word Hy dit nie as deel van ’n vorstelike gesin nie, maar as arm timmermanseun, gebore in ’n stal. En as Jesus Christus sy openbare bediening op aarde begin, is die titel wat Johannes die Doper as sy wegbereider vir Hom gee, “die Lam van God”.

’n Lam. Swak, weerloos, nederig, onintimiderend. Als is aan Hom, volgens sy eie getuienis later (Matt 28:18), alle mag gegee in hemel en op aarde. Al is Hy, soos die engel in Openbaring 5:5 sê, die Leeu uit die stam van Juda. Dit is Hy ook. Maar die eerste woord wat oor Hom gesê word as Hy sy bediening begin, is dat Hy die Lam van God is. Die Een wat God gestuur het om geslag te word, geoffer te word, sodat die wêreld van sonde verlos kan word. Want só verlos God. Nie deur magsvertoon nie, maar deur ons sonde op Hom te neem en daarvoor te ly en te sterwe: Lam van God.

Dat ons God só is; ’n lam, eerder as ’n leeu, wanneer Hy in die wêreld optree, maak nie vir ons goed sin nie. Hoe kan die almagtige God dit toelaat dat die wêreld lyk soos hy lyk? Hoe kan ’n God van liefde toelaat dat booswigte met hulle onheilighede kan wegkom? Is God dan nie almagtig nie? Kan Hy nie iets daaraan doen nie?

Johannes die Doper het ook hieraan begin twyfel toe hy later in die tronk gesit het, omdat hy eerder ’n kragdadige God wou hê. Jesus antwoord hom dat hy op verkeerde plekke na God se werk soek. Hy moet dit eerder soek dáár waar Hy mense se lewens aanraak en nuut maak. Lees dit in Matt 11:2 en verder.

Daar kóm ’n dag wanneer God sy oordele sal voltrek, wanneer Hy die dorsvloer deur en deur sal skoonmaak, wanneer die duiwel en al sy volgelinge in die poel van vuur gegooi sal word. Maar intussen leef ons in ’n wêreld waar God op ’n ánder manier regeer, met sagtheid eerder as deur magsvertoon; deur mense te gebruik, eerder as deur wonderwerke. Ons hou nie daarvan nie. Ons sou dit graag anders wou gehad het. Maar dis nie ons keuse nie. Dis God s’n. En dít is die punt. Ons moet God toelaat om God te wees: ’n lam, eerder as ’n brullende leeu.

Dit het nogal implikasies oor wat ons van God verwag, nie waar nie? God sal nie in hierdie jaar soos ’n groot towenaar al my probleme wegtoor nie. Ek sal waarskynlik verniet bid dat Hy dit moet doen. Maar as ek vra dat Hy my sal help om my swaar en seer en probleme te hanteer, dat Hy my ’n goeie eggenoot en pa sal maak, en die nodige krag sal gee om staande te bly in versoekings, dat Hy my sal help om ’n lewende getuie vir Hom te wees, dat Hy my geestelik sal laat groei in die jaar sodat ek met groter volwassenheid as sy kind kan leef, dán kan ek reken op gebedsverhoring.

Ek lees die afgelope tyd weer die verhaal van Gideon, die man wat met ’n handjievol mense die ganse leërmag van die Midianiete verslaan het. Wanneer die Engel van die Here aan hom verskyn om hom sy opdrag te gee, groet Hy Gideon met die woorde: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigt 6:12). Dan antwoord Gideon: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge ons oor? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat.” Wat antwoord die Here? Hy sê: “Gaan jy en red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” (vers 14).

As God die wêreld wil kom red, swaai Hy nie ’n towerstaffie nie. Hy stuur sy eie Seun om ’n Lam te word. Dís hoe God is.

Nou is ons besig met ’n tyd waarin ons nadink oor wat dit beteken om Jesus te volg. Hierdie gedeelte wil ons iets daarvan leer. Nie net hoe God is nie, nie net Wie Jesus was en wat ons van Hóm kan verwag nie, maar ook hoe óns moet leef. Want as ons sy volgelinge wil wees, sal ons Hom ook hierin moet navolg: nie leeus nie, maar lammers. Hy meer, en ons minder, soos Johannes die Doper gesê het.

Dit wil die Gees van God ook in ons laat gebeur. Die vrug van die Gees is immers: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing (Gal 5:22,23).

Mag ons ware navolgers van Jesus word!
0 Kommentaar: so far: