POSTED BY Steven Sass on 20:08 under
27 Julie 2014 Patensie
Nehemia 2: 1 tot 20
Bedaar man, God is in beheer, wees tog net geduldig!
Die Here laat hom die situasie met sy geestesoog duidelik sien, en sy opdrag was voor die hand liggend. Hy moes die mure van Jerusalem gaan herstel en opbou, want:
v    vir 140 jaar lê die mure van die stad en alles                            rondom onaangeraak;
v    die poorte lê uitgebrand;
v    die volke rondom spot;
v    die tempel (woonplek van God) is blootgestel en
v    kwaadwilliges kom en gaan soos hulle wil in die stad.
Toe hy berig kry oor wat in sy God se stad: Jerusalem, besig is om te gebeur, breek sy gemoed. Hy is só diep getref dat hy:
gaan sit het;gehuil het;dae lank getreur het;gevas het en uiteindelik’n aangrypende gebed gebid het ...(hoofstuk 1)
En dan, terwyl Nehemia doen wat sy hand vind om te doen, wag hy op die Here ... Hy koop die tyd uit ... want:
§    Om te wag, is ‘n daad in die geloof!
§    Om op God te wag, is gehoorsaamheid!
§    Om op God se antwoord te wag, is soms baie moeilike geloofs- inspanning.
§    Om op God se antwoord te wag, eis iets wat meestal teen ons aard is ... want ons wil nie vir die Here wag nie, ons wil doen … ons wil sélf doen!
Watter wrang vrugte het ons nie dalk al in die lewe gepluk omdat ons sélf wil besluit en sélf wil doen nie?
o    Oorhaastig gekoop;
o    Oorhaastig gesê;
o    Oorhaastig geklap; geskop; seergemaak;
o    Oorhaastig gedoen;
o    Oorhaastig saamgepraat;
o    Oorhaastig besluit;
o    Oorhaastig humeur verloor;
o    Oorhaastig bang geword; kleingelowig geraak; wantrouig geraak ...
Het dit nie al gebeur dat ek met tye my tong wil afbyt nie; dinge probeer regmaak; besef dat ek onherstelbare skade aangerig het nie?
Psalm 130 leer ons: “Ek wag op die Here meer as wat die wagters op die môre wag, wagte op die môre Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde By Hom is die verlossing seker, Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.”
Nadat Nehemia sy roeping van die Here ontvang het, het hy , hoewel hy baie diep gegryp en oortuig was van sy opdrag, vier maande lank gewag!Die Here het dit noukeurig laat opteken:Hy hoor die tyding van Jerusalem in die maand Kislef (1:1), maar die Here antwoord hom in die maand Nissan (2:1) in sy gebed: Vier maande lank, geduldig, gehoorsaam, gelowig! Wie van ons is bereid om wanneer ons oortuig is van ‘n saak, van ‘n goeie saak ... om eers op die Here te wag … selfs vir vier maande lank ... of langer?
Die Skrif leer ons ook wat in hierdie wagtydperk gebeur het:
Ø    Hy het so goed moontlik aangegaan met sy roeping op aarde.
Ø    Hy het gewoon voortgegaan om vir die koning te skink
Sy werk was om die wyn vir koning Artasasta en sy vrou te bedien. Daar was so baie op die spel sedert sy roeping vir hom duidelik geword het. Hy het probeer om sy kommer vir die koning weg te steek, maar die bekommernis moes op sy gesig leesbaar wees omdat die koning opmerk:Hoekom is jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer?Niemand het gewaag om met ‘n lang gesig voor die koning te kom nie, dit sou in disrespek teenoor die koning wees. Daarom was hy bang vir die koning se reaksie.Maar die Skrif leer ons daarteenoor:As die Here, ons goeie God beskik, het ons niks te vrees nie.
Nehemia moes ‘n gewone, maar goeie dienskneg vir die koning gewees het. Nadat die koning hom elke dag gesien het, oor ‘n lang tydperk, was die koning hom baie goedgesind. Ons lees amper ‘n besorgdheid in sy vrae aan Nehemia.Net die Here kon dit so beskik. Daarom kom Nehemia tot die slotsom in die teks:
En die koning het dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my (’33 vertaling).My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan (’83 vertaling).Die Here het alles volmaak voorberei dat die onmoontlike sou plaasvind:
Die koning gee aan een van sy regterhande in die paleis toestemming om ‘n ander God se volk en land te gaan opbou, om ‘n stad wat ver is se mure en poorte weer te gaan oprig.Wat sê dit nie vir my as God se kind in ‘n spesifieke omgewing nie?Wat sê dit nie vir my in my spesifieke omstandighede nie?Wat sê dit nie vir my in my persoonlike worstelinge nie?Wat sê dit nie vir God se kinders vandag in Suid Afrika nie?
Om die omstandighede, die omgewing, die gesindhede van mense en alles vir die groot werk wat God beplan, voor te berei, sien ons nie net hier in die Bybel nie. Die voorbereiding vir die hervormingswerk wat die Here deur Nehemia beplan, is maar ‘n afskaduwing van hoe die Here die hele destydse wêreld voorberei het vir sy Seun se koms na die wêreld toe deur:
•    Johannes die Doper se voorbereidingswerk
•    die vestiging van die Romeinse beskawing met hul uitgewerkte verkeer verbindings tussen dorpe en stede
•    die vestiging van die Romeinse regstelsel wat op sy hoogtepunt was met ons Here Jesus se koms na die wêreld toe
Die Bybel praat daarvan as die volheid van die tyd. Die tyd is volgemaak ... want alle tye is in die Here se hand. Is die tyd op hierdie oomblik nie steeds besig om vol te word vir dit waarna al God se kinders smag nie?
Ø    Die wederkoms van ons Here Jesus Christus,
Ø    wanneer Hy alles in almal sal wees,
Ø    alles tot ‘n sinvolle einde toe sal lei …
Ø    die begin van die ewige Godsryk tot in ewigheid.
As die Here ons vandag roep en as ons oortuig is dat hy ons as Sy kinders roep om in Sy diens werksaam te wees, moet ons leer om in die geloof op Hom te wag. Ons moet leer om in die geloof op te kyk en Sy aangesig te soek. Ons moet leer om rondom ons te kyk in hierdie wagtyd …. en te sien hoe die onmoontlike moontlik word (soos Nehemia in die teks):
My God het Sy goeie hand oor my gehou, en …My God het Sy goeie hand oor my gehou en daarom kon ek:
•    vir hierdie of daardie bepaalde saak bid;
•    probleme uit die weg ruim of
•    iets klein in die koninkryk van die Here doen.
Eintlik: Die Here het dinge vir my by die werk laat uitwerk; dinge in my huis, my familie, my vriendekring, my kerk Mý God … ons sien hierin dieselfde toe-eiening as by Thomas: Mý Here en mý God! Ons almal wat onsself kinders van God noem, smag daarna:
Mag God my tog net raaksien in my nood ... in my nietige lof …

God verseker ons vanoggend weer: Sien raak hoeveel God Sy vriendelike aangesig na ons toe draai. Hy weet elke oomblik wat ons doen Hy ken ons … hy weet van alles ... heeltemal alles Hy steek Sy goeie hand uit ... Sy sterk kragtige hand wat my vashou; my koester, my beskerm.Hy wat sy kerk in Patensie in alles raaksien. Hy sien ons raak en steek Sy hand in Sy Seun Jesus Christus uit ... deur sy goeie Gees. Daarom is ons diepste bede:
Ø    Woon deur U Gees in my,
Ø    bly by my,
Ø    troos my en
Ø    herinner my aan U groot dade …
God wat die onmoontlike laat gebeur, wat lewe uit ‘n hulpelose situasie skep, kan my lewe ten goede tot sy eer verander!
Hy wat alles in die holte van sy hand het, wat oor alles beskik, Hy laat alles tot dié goeie meewerk vir wie Hom liefhet. Is dit nie die moeite werd om Hom te aanbid nie, op Hom te wag nie en al ons hoop op Hom te stel nie?

Amen!
0 Kommentaar: so far: