POSTED BY Steven Sass on 05:43 under
4 Mei 2014 Patensie
Lukas 24:13-35
Alles is moontlik in Jesus
Ek wil hê dat ons vanoggend net so bietjie weer in ons gedagtes na dink oor presies wat ons as gemeente(s) die afgelope tyd deurgemaak en ook wat ons saam gevier het. Dis nodig sodat ons nie dalk iets sal mis wat met ons fisies en veral op geestelike vlak gebeur het nie. Dis nodig sodat ons nie dalk iets spesifiek sal mis wat God met ons gedoen het nie.

Ek dink dat dit maar te dikwels gebeur dat ons baie goed mis. Dis asof ons iets sien en hoor, en voel maar tog mis ons dit nogsteeds. Ek wil dit waag om te sê dat ons partykeer net eenvoudig te eenvoudig is in ons denke, asof ons partymaal bloot onverstandig en traag van hart is om te besef waarmee God besig is met ons en in ons lewens.

  Dit gebeur gelukkig ook egter dat ons partykeer kan terugdink en dan besef ons skielik: “Dit het so met my gebeur!” Of partykeer kan ons nadat tyd verloop het van waar God met ons besig was kan uiter : “Wow, ja nou verstaan ek hoekom dinge juis só met my/ons moes gebeur het!” En dis juis wat ek hier met julle wil bereik vanoggend in die kerk.... Ek wil saam met elkeen van julle op daai punt kom in ons denke en gedagtes waar ons elkeen regtig kan saamstem en sê: “Nou maak dinge vir my sin!”

In die teks wat ons gelees het word die Griekse woord epegnosan gebruik om te vertel van die twee se oë wat oopgegaan het toe hulle Jesus herken het...mag jy ook vanoggend ‘n epegnosan, ‘n Emmaus-oomblik beleef.

Dink net saam met my na oor ons gesamentlike Paasfees-vieringe. Wat presies het gebeur? Wat het ons nou eintlik gevier? Het ons tot ‘n dieper begrip en/of belwenis van Jesus en God gekom? Of het ons vanjaar alweer iets gemis? Waar was jy en wat het jy ervaar/ beleef/gevier?

Hier in die Kerk was ek baie gespanne gewees. Ek het Donderdagaand se program so mooi uitgewerk en ek wou graag dat dinge seepglad moes verloop, maar baie dinge wou maar net nie mooi verloop nie. Ek was byvoorbeeld geweldig bekommerd dat ons “leen projektor” nie reg sou werk nie en dat julle wat hier was nie mooi sou kon volg op die skerm nie, en die hele diens het eintlik gedraai om dit wat op die skerm gebeur het. Wonder bo wonder het alles mooi verloop...ons het saam nagmaaal gevier en na aanleiding van ‘n hele klomp gemeentelede se reaksies was die diens besonders spesiaal en roerend gewees... ons was getref deur die leiding wat Jesus vir elkeen van ons moes deurmaak... Ons het die kerk in stilte verlaat, en ons was saam besig om te besef dat ons sondes so groot en oorweldigend kan wees dat ons nie waardig voel van Jesus en God se liefde en genade nie.

Vrydag oggend het ons mos nie ‘n diens gehad nie, maar ek en ‘n paar van ons mannebybelstudie lede het ‘n baie besonderse belewenis gehad in die kerk. Ons het saam die kruisgebeure gelees uit die vier Evangelies uit en het gedagtes en gevoelens hier gesit en uitruil. Watter wonderlike afspraak was dit nie veral vir my gewees nie! En Sondag! Ons Heer het opgestaan! Die dood oorwin! Ons het vir klein Jani gedoop, en saam die wonderlike feit gevier dat Jesus, die dood en die hel vir ons oorwin het! Wat ‘n wonderlike vreugde, wat ‘n getuienis! Ons God het gewen!!

Intussen het Kwagga nog ‘n basaar gehad ook wat die Here netso wonderlik geseen het. Dis asof dit vir julle as gemeente net so ekstra boodskap ingehou het, asof God vir julle ook net wou kom wys en sê het: “Sien julle, dit is moontlik!” Fantasties....

Maar wat nou? Wat wil God nog verder vir ons kom sê? Kom ons besef en beleef net saam wat Hy in die gelese gedeelte vir ons wou  kom sê...

Ek dink as ek die pragtige gedeelte in een gedagte moet opsom dan is dit eenvoudig God wat aan die een kant baie duidelik kom bewys dat Hy leef! Hyt opgestaan, Hy verskyn aan die mense, Hy gesels met hulle, en Hy eet tot saam met hulle! God wil dus nie dat Sy kinders twyfel aan Sy oorwinning oor die dood nie. Hy wil nie hê ons moet weer iets mis wat Hy gedoen het nie. Daar kom “vertoon” Hy Homself so in die gebeure oppad Emmaus toe! Dis asof God Sy mag oor die wette van die natuur, oor die magte en kragte van hierdie wêreld wil kom vertoon, dit kom bewys. Sodat ons kan sien! Kan ervaar, kan beleef!

Maar kan dit al wees? Dit klink vir my so vermakerig? Dit klink vir my so asof God half met respek gesê wil spog met Sy oorwinning? Of hoe? Dit kan mos nie wees nie? Dit gaan oor baie meer as dit!! Ons God is mos nie ‘n eenvoudige skepsel nie. Nee inteendeel, Hy is die Gansandere, Die Koning van die konings, die Heerser oor hemel en aarde. Hy het nie nodig om te spog nie!

Wat wel gebeur, is dat God juis Sy oorwinning op so ‘n praktiese wyse met ons Sy kinders wil kom deel en Sy heerskappy so wil kom demonstreer, sodat ons as Sy erfgename kan deel in Sy oorwinning! Hy wil ons dus op ‘n baie besonderse en intieme manier kom deel maak van dit wat Hy reggekry het. Met hierdie dinge wil God dat elkeen van ons moet besef: Hy het dit alles klaar gedoen...dit is volbring. Hy het al hierdie dinge deurgemaak sodat, ons, wanneer ons ook hierdie selfde dinge deurmaak sal besef, en weet God is in beheer! Hy weet hoe dit voel! Hy was ook daar gewees.

So waneer die twee Emmausgangers met mekaar gesels op hulle reis na Emmaus, kom ons agter dat hulle eintlik moed verloor het...dat hulle eintlik verward was oor al die gebeure na Paasnaweek. Hulle is eintlik op ‘n baie slegte plek in hulle geestelike lewe... juis omdat hulle iets gemis het wat God gedoen en steeds nou met hulle gedoen het. Hulle mis so erg die punt, dat hulle nie eers in hulle moedeloosheid besef dat God hulle nie so wil los nie. Dat Hy vir hulle wil blootstel aan Sy oorwinning en heerlikheid!

So wanneer jy dalk ook op so ‘n slegte plek in jou geestelike lewe kom, wanneer jy dalk ook verward is en vra hoekom sekere goed dan nou met jou moes gebeur, al daai hoekom en waarom tipe vrae wil vra, wanneer jy dalk moed verloor het, wil Jesus juis ook saam met jou kom loop, en met jou praat en selfs met jou kom eet! Hy wil saggies in jou oor fluister en sê: “My kind, moenie moed verloor nie, moenie verward wees nie! Kyk Ek is by jou, Ek weet hoe jy voel...Ek verstaan.”


Jesus wil ten diepste vir ons vanoggend kom sê: “Alles is moontlik vir ons! Alles, omdat Hy dit alles klaar gedoen het!!!!”
0 Kommentaar: so far: