POSTED BY Steven Sass on 06:12 under

10 Februarie 2013 Patensie
Getrouheid
Lukas 12:35-48, 16:10-12 en 19:11-27
Daar is ‘n noue verband tussen die woorde: vertrou, getrou en betroubaar. Almal het mos minstens die woord trou in gemeen. Ons kan iemand vertrou wat getrou en betroubaar is. As ons betroubaar is, sal ander ons vertrou. Die een kan nie sonder die ander nie. Waar getrouheid of betroubaarheid ontbreek, kan daar nie sprake van vetroue wees nie.

Dit geld nie net in die algemeen nie, maar in die besonder in en vir ons gesinne. Man en vrou sweer trou aan mekaar, behoort mekaar te vertrou omdat beide getrou en betroubaar is. Ouers en kinders moet betroubaar en getrou wees. Getrouheid, betroubaarheid en vertroue is hoekstene waarop die gesin gebou word en waarsonder die gesinshuis in mekaar stort.

In die Bybel speel getrouheid en vertroue ‘n geweldige belangrike rol. Trouens, dit is mos van die kernbelydenisse oor God: Die Here is getrou. Hoeveel keer lees ons nie hiervan in die Bybel nie? Dit kom oor en oor voor. Telkens word bely dat die Here getrou is. Hy is getrou aan Sy Woord. Hy is getrou aan Sy beloftes. Hy is getrou aan Sy kinders. Hy is aan Sy wese getrou. Ons kry dit alreeds in die eerste boek van die Bybel en dit kom dwarsdeur tot in die laaste boek voor. Die belydenis kom voor in die hele Bybel: “God is getrou!”

As Hy getrou is, dan moet ons ook mos getrou wees. As ons Sy kinders is, dan is ons mos Sy afskynsels hier op aarde. Dan moet ons mos uitleef wat ons oor Hom bely. Is ons getrou? Getrou aan mekaar? Getrou aan ons woorde en beloftes? Getrou in ons werk? Is ons getroue en betroubare mense?

In Lukas word getrouheid in verskeie gelykenisse aangespreek. In Lukas 12:35-40 vind ons die gelykenis van die waaksame slaaf. Dit gaan om ‘n eienaar wat op reis gaan en sy slaaf aanstel oor sy huis. As die eienaar op onverwagte tyd terugkom en hy vind die slaaf getrou en op sy pos, word die slaaf geprys. Sou die eienaar egter vind dat die slaaf nie getrou is nie, wag daar groot teenspoed op die slaaf. Die slaaf was aangestel oor die ander slawe om hulle op hulle tyd kos te gee. Hy moes verantwoordelikheid neem vir die versorging en beskerming van die eiendom van die eienaar.

Ons weet dat hierdie gelykenis ook slaan op die wederkoms, dat ons gereed moet wees vir die koms van die Here en dat ons getrou moet wees totdat Hy weer gaan kom. Die Here het elke ouer ook aangestel om sy of haar huis te versorg en te beskerm. Hy het ons almal ook aangestel om namens Hom en tot Sy eer te heers oor die aarde en om dit te bewerk en te bewaak. Die vraag oor getrouheid  lê dan nie net op spirituele vlak nie. Dit lê ook op die vlak van ons daaglikse werk en van ons gesinslewe. Is ons getrou in die versorging en beskerming van ons gesin? Kan ons man of vrou ons hierin vertrou? Is ons getrou in die werk wat ons doen? Kan die wat oor ons is, ons hierin vertrou?

In Lukas 16:1-12 kry ons die gelykenis van die oneerlike bestuurder. Dit gaan oor ‘n ryk man wat ‘n bestuurder was,  maar egter nie betroubaar was nie. Sy oneerlikheid kom op die lappe. Die ryk man besluit om die onbetroubare bestuurder te ontslaan. Die bestuurder maak dan ‘n slinkse plan. Hy roep die skuldenaars en skryf ‘n groot persentasie van hulle skuld af. Dit lei daartoe dat die einaar die bestuurder prys. Jesus maak dan ‘n belangrike opmerking. “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar, en wie in die klein dinge onbetroubaar is is ook in die groot dinge onbetroubaar. As julle dan nie betroubaar betroubaar is in die hantering  van die oneerlike mammon nie, wie sal dan die ware rykdom aan julle toevertrou? Is dit nie baie duidelik nie? In die laaste sin aktualiseer Jesus Sy stelling deur te verwys na ons omgang met geld, en veral dan ook ander se geld. As ons in die hantering daarvan oneerlik is, hoe kan ons verwag dat die Here belangriker dinge aan ons sal toevertrou.

Kom ons pas die beginsel toe op ons eie situasie en veral dan ons gesinslewe. As ons nie in die klein kring van die gesin betroubaar is nie, hoe kan ons in die breë konteks wees? As man en vrou nie getrou aan mekaar is nie, hoe kan hulle verwag dat die kinders getrou moet wees aan wat hulle geleer is? As ouers en kinders nie betroubaar is nie, sal die hele gesin nie bly bestaan nie. Onbetroubaarheid en ontrouheid is ‘n waarborg vir ellende. In die gesin moet ons dan in die kleine betroubaar wees. Betroubaar in die klein verantwoordelikhede wat ons het; getrou in al ons doen en late. Kan ons gesinslede op ons vertrou omdat ons betroubaar en getrou is?

In die gelykenis van die goue muntsukke in Lukas 19:11-27 kom getrouheid ook sterk na vore. “n Man van adelike herkoms het op reis gegaan. Net voor hy vertrek, roep hy tien van sy slawe en gee aan elkeen van hulle ‘n som geld met die oprag dat hulle daarmee moet handel dryf. As hy terugkom doen hulle verslag oor wat hulle gedoen het met die geld. Telkens word die wat iets bereik het, geprys en word gesê dat omdat hy in die kleine getrou was, hy oor baie aangestel sal word.

Weer gaan dit daarom dat getrouheid geprys word. Hier word dan spesifiek gepraat oor getrouheid in werksituasies. Natuurlik is dit ‘n gelykenis en moet mens nie alles letterlik opneem nie. Die belangrike is dat getrouheid beklemtoon word. Die getroues was betroubaar en het die vertroue wat die eienaar in hulle gestel het, nie geskaad nie.

Een van die groot probleemareas in ons gemeenskap is die gebrek aan betroubaarheid en getrouheid. Dit slaan deur op alle terreine. By die werkplek is baie nie meer betroubaar nie, maar probeer die minimum, en verkieslik nog minder doen. Mense is nie getrou aan hulle woord en hulle beloftes nie. Mens kan selde meer peil trek op ander se beloftes. Hoe tragies dat ons te dikwels dit wat mense sê, met ‘n knippie sout moet neem of wonder of jy dit dalk kan glo. Ons neem mense nie meer op hulle woord nie, want dis selde betroubaar.

Ons sien dit ook in die gesinsverband en familieband. Hoe baie huise spat nie uitmekaar vanwee onbetroubaarheid en ontrouheid nie. En dan gaan dit nie net om ontrouheid en die aanknoop van buite egtelike verhoudings nie, maar ook om ontrouheid en onbetroubaarheid op ander vlakke. ‘n Man of vrou wat onbetroubaar is wat hulle werk aan betref, of onbetroubaarheid in die opvoeding van die kinders, en so kan ons maar aangaan. Baie huwelike eindig in die skeihof juis vanweë ontrouheid en onbetroubaarheid.

In al die gelykenisse kom dit duidelik na vore dat die onbetroubares en ontroues swaar gestraf word. Dit dien as waarskuwing vir ons almal. Die vrugte van ontrouheid en onbetroubaarheid is bitter.

Die belydenis dat die Here betroubaar is, dat Hy altyd getrou bly, vorm die basis van ons geloof in en vetroue op Hom. Is geloof nie juis baie nou verbind aan vertroue nie? As kinders van God, moet ons in alles getrou wees. Betroubaarheid moet uit ons lewens uit straal. Getrouheid is dan een van die vrugte van die Gees. As ons deur die Gees aan God gebind is op grond van die soenverdienste van Jesus, kan ons nie anders as om getrou en betroubaar te wees nie.
0 Kommentaar: so far: