POSTED BY John Wait on 08:25 under

Joël 2:29-32, Joël 3: 15-21

Die Here het nog altyd van die vroegste tye af tekens gegee. Veral tekens om die mense se aandag te trek en te lei om die regte dinge te doen en die regte weg in te slaan, die regte pad te kies.

So het ons nou al die afgelope 2 Sondae ook baie gepraat van teknes wat die Here vir ons gegee het en bonatuurlike dinge wat Hy laat gebeur om ons aandag te trek en ons die regte pad aan te wys.

Die Here is baie lief om veral die hemel-ligte te gebruik as Sy rigtingaanwysers of as teken van Sy teenwoordigheid. Hy het al by verskeie kere deur die eeue heen die maan en die sterre hiervoor gebruik. In hierdie gedeelte wat ons sopas gelees het gebruik God veral die son en die maan wat onderskeidelik bloedrooi (die maan) sal word en die son wat donker sal word, as teken dat die vreeslike dag van die Here op hande is...

Nou hieruit kom daar ‘n hele paar interressante dinge, waarvan die een is dat as die son donker sou word sou daar mos nie lig gewees het nie, dis tog eenvoudig... maar wat behels dit en wat beteken dit.

Aan die een kant wys dit daarop dat daar chaos sal wees sonder die lig van die son, want in donkerte is daar gewoonlik mos chaos. Maar aan die ander kant beteken dit ook dat die mense wat so in chaos en in donkerte gehul is, ook nie rigting sal hê nie, en dus ook nie sal weet waarheen om te gaan nie, en veral in hierdie konteks gelees van hierdie gedeelte sal hulle ook nie weet waarheen om te vlug nie(nie weet waar hulle toevlug tydens die bedreiging is nie).

Gebeur dit ook dan nie ook in ons eie lewe dat waneer die lig van God, of liewer Sy teenwoordigheid nie sigbaar in ons lewens is nie, ons ook netso in chaos gedompel word en ook nie weet waarheen ons oppad is nie?

Netso moet en kan ons dan maar bang wees vir die “vreeslike” dag van die Here want ons weet ons staan dan direk onder Sy verskriklikke oordeel! Dis dan dat ons mos rede het om te skrik as ons weet God is oppad!....

Maar netsoos die afgelope twee Sondae kom gee die Here vir ons ‘n alterantiewe oplossing en uitkoms. Hy kom sê vir ons ook weer vanoggend dat as ons Sy Naam sou aaanroep en ons toevlug by Hom self sou kom soek sal Sy genade ook vir ons genoeg wees. Hy sê dat daar uitkoms sal wees (vers32) op Sionsberg en Jerusalem!

Sionsberg en Jerusalem kan afsonderlik gesien word as die woonplek van die Allerhoogste. Dit moet nie net slegs gesien word as geografiese liggings nie maar fisies as ons harte, die woonplek van die Allerhoogste.

Dus as ons harte uitverkoop is aan Hom en Hy daar woon, het ons niks om voor bang te wees nie. Ons sal gered wees en Sy genade sal vir ons genoeg wees. Die Here is vir ons ‘n toevlug, en Hy wil dit ook vir ons wees. En as ons besef dat die Here ons God is en dat hy liefdevol en vol genade is, dat Hy die een is wat ons altyd kom opsoek, dat Hy die een is wat vanoggend weer aan ons harte se deure kom klop, dan sal Sy genade ook vir ons genoeg wees, en in ons lewens sal daar’n oorvloed melk op ons heuwels wees ons sal volop wyn in ons berge hê en in ons slote sal daar water loop.... daar sal ‘n fontein uit die huis van die Here uit borrel(vers18 van Joël 3) (glory cloud?).

Hierdie beelde sluit mos baie mooi aan by die versekering wat die Here vir ons laasweek kom gee het dat ons mos genoeg het....genoeg het om te doen wat ons moet doen, naamlik om Sy wil te doen, Hom te verheerlik en om dit te geniet terwyl ons dit doen.

Ek wil die beeld gebruik van ‘n man wat ‘n paar lesse oor die huwelik geleer het. Die man het op ‘n stadium agtergekom dat sy vrou nie meer daai sprankel in haar oog het nie. Hy probeer toe om haar guns weer te wen deur vir haar duur geskenke te koop, maar kom toe agter dat dit haar nie gelukkig maak nie. Hy spandeer toe al sy beskikbare tyd om by haar te wees, maar kom toe agter dat die hoveelheid tyd wat hy by haar en met haar spandeer haar ook nie gelukkig maak nie. Maar na al hierdie dinge besef hy toe uiteindelik wat haar wel gelukkig maak, en dit is toe baie meer eenvoudig as wat hy ooit kon dink, en nog boonop goedkoper ook. Al wat haar gelukkig gemaak het was as hy gelukkig is om by haar te wees... dis al. En netso wil God ook hê dat ons ons toevlug by Hom moet soek, maar meer as dit dat ons gelukkig in onsself en in elke aspek van ons lewe sal wees waneer ons by Hom is....

Kom ons gebruik nou die komende week (ons week van gebed, vernuwing begin mos vanaand), om oor al hierdie dinge na te dink, daaroor te bid en veral die beeld van die koringaar in gedagte te hou, en kom ons vind ons toevlug by die Lewende Here. Kom ons laat Hom toe om ons volgende Sondag op ‘n kragtige manier te kom ontmoet waar ons aan Sy tafel gaan aansit vir ons nagmaalsviering!
POSTED BY John Wait on 05:36 under

Joël 2 : 18-32

Laas Sondag het ons gehoor dat die Here vir ons as gemeente die beeld van ‘n koringaar gegee het. En dat die koringaar deel van ons visie van die jaar is.

Ons het gehoor dat ‘n koringaar sy kop laat sak as hy vrugte dra... dit is dan ook hoe ons moet wees, nederig omdat ons ook netso maar net die draers moet wees van die vrugte van God se Gees.

Netsoos wat koringare wat nie pitte dra nie (dowwe pitte), selfvoldaan hulself uitstrek ten hemele maar niks substans het om te lewer nie, en sodoende ‘n vermorsing is, moet ons ook hierteen waak om seker te maak ons is nie vol dowwe pitte nie maar wel draers van God’s vrugte.

Ons moet nederig wees, en toelaat dat God die eer kry en eerste staan in ons lewe. Ons moet uitdeel en tot seën van ander wees. Ons moet ‘n graan en drankoffer wees vir God en aan ons medemens.

In die gedeelte wat ons vanoggend gelees het kry ons ‘n pragtige belofte van die Here...En in elkeen van ons se lewens vanoggend kan ons maar openlik getuig dat hierdie belofte REEDS waar geword het, en dat dit vir elkeen van ons reeds ‘n werklikheid geword het in ons lewens.

Ons lees in vers 19 dat die Here  vir ons kom sê dat “ons SAL oorgenoeg hê....” en nou wil ek hê dat elkeen van ons mooi moet gaan nadink hieroor, want daar is regtig nie vanoggend een van ons wat nie kan erken dat ons reeds oorgenoeg het nie.

God het ons van alles kom voorsien wat ons nodig het. Ons kan mos vanoggend getuig dat ons nie kort kom nie. Ons het nou wel nie almal dieselfde hoeveelheid van alles soos lewensmiddele nie, maar die feit is ons het elkeen genoeg om ons lewensdoel na te kom....

Nou wat is ons lewensdoel nou weer?

Dis mos niks anders as om vir God te verheerlik nie. Dis mos niks anders as om koringare te wees wat vrugte dra van die Lewende Here nie. Om die Here se wil te doen...maar meer as dit om dit te geniet! Om uit ons harte uit vir God te loof en te prys, nie net in die kerk nie maar elke dag met elke fasset van ons lewens...

Maar daar is iets wat ontbreek by ons wat genoeg gekry het, en wat God voor genoeg gegee het. Ons is bang! Ons twyfel nog. Ons kruip nogsteeds weg en hoop dat ons nommer net nie geroep moet word om op te staan vir die Here nie.

In vers 21 kom sê die Here vir ons dat ons nie bang moet wees nie. Ons is nog maar net ‘n ploegland waarin die Here Sy koringsaad kom saai het. Hy het ons mos voorberei en ons lê gereed, geploeg.

Ons word verder vergelyk met vee in die veld wat nie moet bang wees nie. Vee skrik mos baiekeer vir enige klein dingetjie.... Maar dan word daar van ons in vers 23 gepraat as “inwoners van Sion! Ons is dus elkeen die “plek” waar God woon. Hy woon mos in ons, Hy is Immanuel! Ons word aangemoedig om bly te wees en te juig tot eer van die Here ons God...hoekom: Omdat Hy die reëns betyd laat kom het, omdat Hy soos wat Hy al soveel kere vantevore vir ons voorberei het om vrugte te dra!!!!

Gaan kyk maar, netsoos ek mos einde laasjaar moes gedoen het, ook in jou eie lewe, hoe Hy jou voorberei het sodat jy Sy vrugte kan dra! Ai God is GROOT!

Dan kom die mooiste van alle beloftes in vers 28 na ons toe: “Waneer dit alles gebeur het, sal Ek My Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jongmans sal visioene sien.” Met ander Woorde, God belowe dat daar groot en bonatuurlike dinge met ons en in ons lewens gaan gebeur. Dat ons kan uitsien na ‘n heeltemal anders en ongelooflik beter lewe as wat ons tot dusver aan gewoond geraak het. Daar is wonderwerke oppad!

God belowe ons dat Hy Sy Gees oor ons gaan uitstort, dat Hy by ons en in ons gaan wees. Hy brei dus vanoggend verder uit oor wat ons te wagte kan wees in ons lewens en hier in ons kerk en in ons gemeenskap. Hy kom gee vir ons ‘n toekomsvisie, Hy kom herhinder ons dat Hy ons al lank genoeg voorberei het....

Maar Hy gaan alweer daai een stappie verder, deur vir ons ook veral te kom sê dat ons nie bang hoef te wees nie. Ons moet net wees wat hy wil hê ons moet wees. Ons moet besef dat God oneindiglik groter as ons en ons eie dinge is.

Hy kom gee opnuut vir ons die beeld van die koring aar en gee vir ons ‘n tweeledige opdrag: Word nederig en buig voor My, een natuurlik: Dra vrugte! Reageer nou op hierdie oomblik opnuut op laas Sondag se uitnodiging : “Kom met julle hele hart terug na My toe!”

POSTED BY John Wait on 07:56 under

Joël 2 :12-17

Die woorde van hierdie gedeelte is ‘n uiters persoonlike uitnodiging van die Lewene Here aan elkeen van ons.

Hy nooi jou vanoggend persoonlik uit om ‘n verandering te ondergaan... Hy wil hê dat jy en ek onmiddelik moet reageer op Sy versoek: “Kom met julle hele hart terug na My toe!”.

Die Here het Sy Woord na my toe laat kom in Desember verlede jaar. En Hy het dit op ‘n ongelooflike persoonlike manier aan my openbaar. Vooraf het Hy deur verskeie mense met my gepraat en my voorberei deurdat daar ‘n paar mense met my persoonlik kom praat het oor dinge wat hulle pla met my bediening en ook dinge wat daar kort in ons kerk.

Natuurlik was dit ‘n pynlike ervaring want my onmiddelik reaksie was om dit “persoonlik” op te vat en die vraag te vra: “Is dit hoe mense my (bedienning) beleef? Is daar regtig fout met my?” (Ek dink mos pratykeer ek is foutloos en sonder enige foute of tekortkominge....dink jy nie ook soms so nie?). Dit alles het my taamlik weerloos gelaat, en half ontbloot laat voel. Gestroop van my selfverskering....(die  hoë dink wat ek van myself gehad het).

Maar wat dit veral ook laat doen het is dat daar toe ‘n leemte was wat deur God self gevul kon word.

Ek het Desembermaand met ‘n vriend van my gesels en een dag terwyl ons geswem het, het hy met my van sy bekering laasjaar vertel en getuig van hoe werklik die Here vir hom eweskielik geword het. Hy het gepraat van kerke wat hy besoek het en van wonderwerke wat hy beleef het. Hy het my ook vertel van sy droom om nog ‘n kerk in Amerika te wil gaan besoek waar daar sommige Sondae ‘n wolk (glory-cloud) binne-in die kerk opkom terwyl die mense die Here aanbid  en dat dit dan spontaan begin reen binne in die kerk!!!

Terwyl ons so praat van hierdie groot dinge wat die Here op ander plekke in die wêreld laat gebeur en hoekom dit ontbreek by ons, begin die Here ons gesprek ook lei na mense, en ook veral Christene wat soms dink dat hulle beter is as ander en wat hoogmoedig is...

My vriend gee my toe die beeld van ‘n koringaar wat se kop sak as hy ryp is. D.w.s as die koringaar vrugte dra dan sak sy kop, die aar is dus “nederig” want hy dra maar net die vrugte van die plant.... ‘n Koringaar wat nie pitte het nie, strek trots na die hemele en is niks anders as ‘n vals koringplant nie, die boere praat mos van “dowwe pitte”. En ek moes myself die vraag afvra hoe dit dan is met my? Is ek soos die koringaar vol ryp pitte/vrugte of is ek vals en vol dowwe pitte. En is dit dalk die rede hoekom ek/ ons die wonderdade en groot dinge van die Here tussen ons miskyk? Waar is ons “glory-cloud”.

Dis iets wat ons nie net van onsself elkeen behoort te vra nie, maar ook van al die voorbeelde wat ons rondom ons het van dowwe pitte en vals vrugte. Dis baie belangrik dat ons na hierdie dinge moet kyk, want so baie van ons mense word juis gelei en ,mislei om juis mense te volg wat vals is. Met die tyd word al hierdie dinge egter ontbloot, maar kom ons baie keer eers baie laat ons foute agter.

Party mense kan mos vreeslik oortuigend wees en klink, met die gevolg dat ons hul sienswyses op-eet as die waarheid. Ons hoor mos skere mense het genoeg gehad van babakos en soek eerder vaste kos....maar die vraag is waarmee eet hulle hulself dan so vol? Veral as ons sien hulle lewens lyk maar na ‘n tyd soos dowwe koringpitte.

Vanoggend se gedeelte praat van dat ons heelhartiglik moet terugkeer nie die Here. Met alles wat ons is. Hy soek nie net ‘n uiterlike vertoon nie (vers13) “Skeur julle harte nie julle klere nie”.  Vir te veel keer het ons dalk in die verlede al gereageer op die oproep van die Here deur maar net aan die buitekant te wys dat ons Hom liefhet.

Wanneer ons nie heeltemal uitverkoop is aan Hom nie, en wanneer ons nie heeltemal oorgegee is aan Hom nie,  is ons geloof niks anders as uiterlike vertoon nie. So ‘n uiterlike vertoon van geloof se uit-einde is maar altyd  dieselfde, want na ‘n verloop van tyd word die waarheid van die toestand van jou hart maar weer altyd ontbloot deur dit wat jy doen en ander mense kan sien.... Dit vergelyk goed met die teleurstelling van ‘n boer waneer hy homself voorberei het vir ‘n groot oes maar agterkom sy lande is vol dowwe pitte. Hoe dink jy is die Here se reaksie op die vrugte van jou lewe en geloof in Hom? Het Hy by jou enigiets om te oes?

Vers 16 se oproep om die volk op te roep en te reinig gaan juis oor die volgende paar weke gebeur in ons gemeente.... waar daar heelparty geleenthede geskep gaan word waar ons opnuut kan terugkeer na ons Hemelse Vader toe.... gebruik die geleentheid hierdie keer om te verseker dat dit wat mense van jou buitekant sien ook dit is wat aan die binnekant van jou lyf aan die gang is....

Vanoggend se oproep is gebasseer op die laaste deel van vers 14 ....” sodat daar weer graan en drankoffers sal wees...” Kom ons offer onsself hierdie jaar aan die Here in ons gemeente. Kom ons gee meer van onsself. Kom ons raak betrokke, kom ons wees deel van God se plan vir ons Sy kinders hier in Gamtoosvallei-oos....

Ek wil kortliks vertel van my Kersdiens-ervaring op Betties Baai..... Ons het geweet dat die kerk baie vol gaan wees en dat ons baie vroeg kerk toe sal moet gaan om ‘n lekker sitplek vir ons te versker. Ek het vir ‘n slag dus ook soos julle in die kerk self gesit en rondom my gekyk na die mense. Wat my veral bygeval het is die mense se reaksie as daar iemand is wat laat ingekom het en wat ‘n sitplek gesoek het.

Mense het mekaar doelbewus geignoreer net sodat hulle nie hoef op te skuif en plek te maak vir ander nie. Hulle sal alles in die boek probeer om mense dus mis te kyk net om die verleentheid te spaar.... Hier sit ons in die kerk en wag op ‘n boodskap van die geboorte van die Here Jesus maar daar is mense tussen ons wat nie eers kans sien om plek te maak vir iemand anders in die kerk nie....

Ek gebruik juis hierdie beeld vanoggend want ek wil nie hê dat iemand vanoggend ook hierdie truuks moet uithaal om weg te skram van die “ongemaklikheid” van God se roepstem wat vir jou persoonlik kom vra “Kom terug na My toe!”