POSTED BY Steven Sass on 05:57 under

4 November 2012 Patensie
Los tog ander se goed uit!
Eksodus 20:15
Elkeen wat al die verskriklike ervaring gehad het om by die huis te kom en te ontdek dat daar ingebreek is en dat baie van ons kosbare besittings weg is, ken die gevoel van magteloosheid en woede. Die ure van hartseer. Die gevoel van vuilheid: iemand het ongenooid gekom en homself gehelp aan dit waarvoor ek so hard gewerk het, waaraan ek soveel sentimentele waarde heg en wat vir my kosbaar is. Hoe kan mens dit ooit verwoord?

So baie het al by die parkeeerplek gekom en ontdek: my kar is nie meer hier nie. Dis gesteel.

Dis ‘n feit dat ons in tronke bly om diewe uit te hou, ons het sekuriteitsheinings en ons sluit alles agter veiligheidshekke toe. Ons word al meer geslote. Alles word agter slot en grendel gehou, en tog is daar telkens huiwerings as ons tuiskom: is alles nog veilig of is daar dalk ingebreek en is daar dalk iets gesteel?

Ons betaal deur ons ore toe vir assuransie. Ons vertrou niemand meer nie en is voortdurend agterdogtig. Ons is te bang om iemand wat langs die pad gestrand staan, te help. Wie weet of dit nie dalk ‘n lokval is en ons beroof gaan word nie? Ons loop nie meer met vertroue in die straat en winkelsemtrums nie, want wie weet wanneer ons beroof gaan word.

Die misdaadsyfer is so bitter hoog en dit lyk asof die opwaarts lyn in die misdaadlyn  net nie wil afkom nie. En dit terwyl ons land met ‘n oorweldigende Christen bevolking is! Dit maaak mos nie sin nie!

In ons teks het ons mos duidelik gelees: “Jy mag nie steel nie.” Die Tien Gebooie maak dit mos baie duidelik: Omdat die Here ons God is wat ons verlos het, daarom sal ons nie steel nie. As ons steel, dan trek ons mos ‘n stere deur ons kindskap van God en Sy Verlossingswerk. Dan ontken ons mos so dat die Here ons God is wat ons verlos het. Mens kan nie ‘n Christen wees en ‘n dief wees nie. En dit staan nie net hier nie, ons vind dit so dikwels in die Bybel.

 Ons lees mos ook nie verniet van diewe wat gestraf is nie. So moes Agan met sy lewe boet vir sy diefstal. Diefstal pas die kind van God nie! Hiermee sou ons almal saamstem. Ons sal miskien te maklik sê: gelukkig is ek nie skuldig aan die ootreding van hierdie gebod nie. Maar voor ons te maklik ‘n groot regmerkie agter ons name maak, is dit nodig dat ons baie eerlik vra of dit wel die geval is. Want diefstal sluit mos baie meer is as husbraak en roof. Ja, dit natuurlik ook, maar dit is die opvallende en ja dit ook mag nie.

Maar kom ons vra dan of ons nie almal skuldig is nie. Steel ons nie maar by die werk, in ons samelewing, ons huise, ons kerk en selfs van die Here nie? Ons noem dit nie diefstal nie, maar klee hiermee vorme van diefstal met allerlei mooi woordjies.

Mens wonder of ons ekonomie nie heel anders sou lyk as dit nie vir die baie diefstal was nie. Nou praat ons nie van die feit dat die meerderheid dinge wat in besighede gesteel word, deur werknemers gesteel word nie, maar ook van dinge soos produktiwiteit, luiheid, misbruik van toerusting, “toekenning van persoonlike byvoordele” en nog baie ander dinge nie.

 As ons nie produktief werk nie, steel ons mos. As ons laat kom en vroeg loop of tyd vir ander dinge as ons werk gebruik, dan beroof ons mos die werkgewer van die tyd waarvoor ons betaal word. As ons sit en klets of lank oor die telefoon praat, dan steel ons mos. En hoe baie dra klein goedjies uit die kantoor weg nie en op die einde is al die klein dingetjies nogal aansienlik. En wat van die gesindheid wat mens so dikwels sien en hoor van minimum doen en maksimum geld vra?

Daar is ook ‘n keersy: van besighede wat mense uitbuit. Mense word nie altyd vergoed vir wat gedoen word nie en so word die persone eintlik besteel. Daar is ook uitbuiting deur te hoë pryse, en so kan ons maar aangaan. Ons almal kry swaar omdat ons nie hierdie gebod: “Jy mag nie steel nie” in die werkplek toepas nie.

Hierdie gebod raak ook ons samelewingslewe. Hoe min mense is bereid om betrokke te wees by dit wat in ons samelewing aangaan? Ons is so besig met onsself en ons eie belange dat ons nie tyd het vir ander nie. Soos die man wat 38 jaar lank by die bad van Betesda gelê het en moes uitroep: “Here ek het niemand wat my wil help nie.

Kom ons nader: hoeveel diefstal vind nie in ons eie huise plaas nie. Ek praat nou nie oor die bediendes wat goed wegdra of lyf wegsteek nie. Ek vra: hoeveel steel ons as gesin van mekaar? Hoeveel tyd spandeer ons as ouers aan ons kinders? Of steel ons die tyd wat hulle toekom en gebruik dit vir onsself? Hoeveel tyd steel mans nie van hulle vrouens deur dae langs die viswaters of op die gholfbaan deur te bring nie? Hoeveel tyd steel vrouens nie van hulle mans deur allerhande dingetjies en byeenkomsies  by te woon en oor die foon en rekenaar te klets nie? Nou moet jy goed verstaan: dit gaan nie daarom dat hierdie dinge nie gedoen mag word nie, want dit mag dalk lewensnoodsaaklik wees, maar dit kan so wees dat dit so oordryf word dat daar nie meer tyd is vir die ander in jou gesin nie. Mens se werk mag ook so inbreuk maak op jou persoonlike en huislike lewe  dat dit op diefstal neerkom. Ons sal ‘n slag eerlik moet kyk en vra of ons nie ons prioriteite verkeerd het en van mekaar se tyd steel nie.

Ons moet ook vra of ons as man en vrou genoeg aandag aan mekaar en aan ons kinders gee. As ek so behep is met my dinge en nie aandag gee aan die behoeftes van my maat of kinders nie, dan is ek mos besig om hulle daarvan te beroof. Is ek bereid om net soveel in my huwelik in te sit as wat ek daaruit wil neem/kry? Of stel ek net eise maar is nie bereid om ook te gee nie? As ek meer vra as wat ek gee, dan is ek mos besig om te steel. As een in die huwelik  dit wat eintlik sy maat toekom met ander deel, dan beroof daardie persoon sy maat. Ons sou so kon aangaan, maar elkeen moet self gaan vra: is ek nie besig om van my lewensmaat, my ouers of kinders te steel nie? Gee ek in liefde aan die ander soos wat God dit van my verwag:  my tyd, my besittings, my aandag, my ondersteuning, my hulp en my liefde?

Ons kan ook van die Here steel, en ons doen dit ook so dikwels. Gee ons aan Hom wat Hom toekom? Dank ons die Here elke dag en genoeg vir alles wat Hy vir ons doen en gee? Of kla en vra ons baie en dank ons min? Ons kan die Here beroof van die tyd wat Hom toekom. Nie net een dag per week nie, maar ook elke dag se tyd om stil te word voor Hom. Ons kan Hom beroof van ons offergawes deur maar so ‘n afknyp ietsie vir Hom beskikbaar te stel. Ons kan die Here beroof van die eer wat Hom toekom. Hoe dikwels prys en eer ons Hom? Ons kan Hom beroof van diens wat Hom toekom. En dit sluit nie net formele diens deur die kerk in nie, maar omvat ons hele lewe. Ons lewe moet in diens van God staan.

Ons moet bely: ons kan nie so maklik sê: ek het nie hierdie gebod oortree nie. Ons is almal skuldig. Ons moet dit bely, en as ons dit bely, vergewe Hy ons. Hy roep ons egter op om as Sy kinders nie te steel nie, in geen opsig Hom of iemand anders te beroof nie, maar Hom te verheerlik deur ons lewenswyse , deur ‘n lewe van liefde na die voorbeeld van Jesus!
0 Kommentaar: so far: