POSTED BY Steven Sass on 05:24 under

18 November 2012 Patensie
Loof God
Romeine 11:33-36
Die brief aan die Romeine is seker die bekendste van al die briewe van Paulus.   deur die eeue heen ‘n baie belangrike rol in die Christendom gespeel. Tereg so, want nêrens elders spel Paulus die basis van die Christelike geloof so duidelik uit as in hierdie brief nie. Paulus gee in hierdie brief ‘n volledige uiteensetting van ons geloof.

In hooofstukke 1-11 toon Paulus aan dat alle mense sondaars is. Niemand kan die saligheid verkry deur eie werke of op grond van sy of haar eie verdienste nie. Uit genade red die Here ons. Die verlossing is ‘n genadegawe wat die Here skenk aan die wat in Christus glo. Uit genade is ons gered. Die wat in Christus glo, is nuwe mense want die Here gee aan ons ‘n nuwe lewe. ‘n Nuwe lewe van vrede en oorwinning.

Paulus praat op ‘n logiese manier. Sy beredenerings is diep en logies. Op oortuigende wyse wil hy die lesers daarop wys dat ons alleen deur die liefde en genade van God nie nuwe lewe kan hê.

As hy aan die einde van sy ingewikkelde en diepe verduidelikking kom, dan is dit asof sy woorde opraak. Hy kan nie anders as om te sing nie. Die wyse Prediker het lank reeds tevore gesê dat daar ‘n tyd vir alles is. ‘n Tyd om te redeneer; om logies te dink; om ingewikkelde argumente aan te voer; om mense met logiese denke te probeer oortuig. Daar is ook ‘n tyd waarin die mens maar net in stille verwondering voor die Here kan buig; Hom kan loof en prys. By hierdie punt het Paulus nou gekom.
Is dit nie so dat ons in die loop van die jaar ook maar so baie beredeneerd leef, alles so logies wil verklaar; as ons kinders en ander wil oortuig van die genade van God nie? Miskien is dit nodig dat ons dan aan die einde van die jaar sal stil word; in verwondering voor die Here sal kniel en Sy lof sal besing! “ O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele, hoe onnaspeurlik Sy weë.”

Kom ons stel ons voor ons is vir die eerste keer op ‘n baie, baie hoë berg... soos die Hanekam byvoorbeeld. As mens afkyk en jy sien die diep vallei, die bome, die riviertjie daaronder, dan word jy in verwondering stil. Dan snak mens na jou asem en roep jy uit: “Hoe wonderlik!” Dit is so onbeskryfliks mooi! ....iets soortsgelyks vind ons hier. Dis asof Paulus hom vir ‘n oomblik indink dat God so moet afkyk op alles. Paulus het mos nog nie geweet dat die aarde rond is en in ‘n baan om die son draai nie. Hulle het mos gedink die aarde is plat en vierkantig soos ‘n tafel en die hemel is bo die aarde soos ‘n koepeldak. Die Here kyk dan van die hoogste hemel daarbo af. Dis asof Paulus dan by God staan en afkyk en uitroep: “O diepte van die rykdom van God! Alles onder die hemel behoort aan die Here. Die ganse skepping is Syne! Hoe ryk is God nie! Daar is niks wat nie Syne is nie. Alles behoort aan Hom. Hy is die Skepper en Heer van allles.” Kan ons dit begryp? Nee, ons kan maar net daaroor sing. O diepte van die rykdom van God!

O diepte van die wysheid van God! Dink aan die skepping: hoe wonderlik alles aanmekaar sit. Hoe alles van mekaar afhanklik is. Hoe fyn die balans tussen alles is. Dink aan die geskiedenis, hoe alles verloop het. Dink aan jou eie lewe. Dink ‘n bietjie weer na oor ons verlossing. Dan kan ons mos nie anders as om in aanbidding voor die Here neer te val en uit te roep: O Diep is die wysheid van God!


O diepte van die kennis van God! Ons dink soms ons weet iets, om maar net gou te besef dat ons eintlik so bitter min weet. Ons kennis is baie beperk. Kyk ons na die skepping, na alles om ons, na die geskiedenis en alles wat daagliks gebeur, kan ons nie anders as om in verwondering voor die Here neer te val nie. Ons veerstaan so min van die skepping: dis te groot en ingewikkeld vir ons. Hoe meer ons leer, hoe meer besef ons dat ons so min weet. Besef ons hoe groot en diep die kennis van God is? Dit gaan ons verstand te bowe.

Aan die einde van die jaar, is dit nodig dat ons bietjie tot stilstand kom. Klim op ‘n hoë berg. Kry bietjie afstand. Staan ‘n oomblik in verwondering en roep saam met Paulus uit: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele, hoe onnaspeurlik Sy weë!

As Paulus iets besef van die diepte van God, dan besef hy ook iets van die nietigheid van die mens. Hy vra dan drie retoriese vrae. In hierdie vrae sluit hy aan by die ou profete en die Ou testament waar hierdie vrae al gevra is. Saam met Jesaja en Job wil hy weet: Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Die antwoord op die vrae is natuurlik: Niemand.

Niemand ken die bedoeling van God nie. Beteken dit nou dat ons in die duister is oor God se bedoelings? Dat ons nie weet wat om van Hom te verwag nie? Nee. Natuurlik weet ons iets van die bedoeling van God. Ons weet dat Hy getrou en regverdig is. Ons ken Hom as ons liefdevolle Vader. Ons weet dat Hy nie wispelturig is nie. Maar ons ken Sy bedoelings nie ten volle nie. Ons kan Hom nooit ten volle ken nie. Hy is immers God. Hy is ver bo ons. En ons kan maar net ten dele ken. Ons moet verskriklik versigtig wees om nie te dink dat ons God se wil volkome ken nie.

Al dink ons soms ons is baie slim, kan ons nie vir God raad gee nie. Ons wil dit soms doen. Ons hoor mense vra dat die Here dit of dat moet doen, omdat dit dan so belangrik sal wees vir een of ander rede. Soms wonder mens of mense bid en of hulle vir God raad gee. Hoe kan ons tog vir die Almagtige Skepper raad gee?

Paulus sê verder dat alle goeie dade van mense, God nie in die skuld by hulle bring nie. Kom ons maak dit duidelik: al die goeie dade van alle mense deur al die eeue is nie genoeg om God vir ‘n oomblik in die skuld te bring nie. Dit alles is nog minder as wat Hy in ‘n enkele dag uit genade vir die mens doen.

Met hierdie vrae wil Paulus beklemtoon dat ons nietig is in vergelyking met die onbegryplik grote God wat ons Vader is in Christus Jesus ons Here.

Daarom sluit hy die lied van verwondering af met die woorde: “Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!” Hiermee bereik die lied dan ook sy hoogtepunt.

Aan die einde van die jaar pas dit ons om in verwondering stil te word voor die Here. Om saam met Paulus hierdie loflied te sing. Sing van die diepte van die rykdom, wysheid en kennis van God. Sing van die ondeurgrondelikheid van Sy oordele en die onnaspeurlikheid van Sy weë. Sing van Sy grootheid en ons kleinheid. Sing van Hom wat alles omspan en omvou en wat Koning is vir altyd.

As gelowiges kan ons die nuwe jaar en die toekoms met hoop tegemoet gaan. Want ons weet mos dat uit Hom en deur Hom en tot Hom alle dinge is. Sy heerskappy sal ook oor die volgende jaar strek. Kom ons tree dan die ou jaar uit met hierdie lied van verwondering op ons lippe. Kom ons gaan die nuwe jaar in terwyl ons die grootheid en goedheid van die Here besing!



0 Kommentaar: so far: