POSTED BY Steven Sass on 06:10 under

11 November 2012
Jou woord is jou eer
Matteus 5:33-37
Woorde, speel ‘n geweldige belangrike rol in ons lewens. Het jy al gedink aan ‘n “stil” lewe; ‘n lewe sonder woorde? Ons kan ons eintlik nie indink  hoe moeilik ‘n lewe sonder woorde sou gewees het nie. Natuurlik is dit baie belangrik om te praat. Sonder woorde sou kommunikasie bitter moeilik wees. Al mag dit so wees  dat ons soms spottend verwys na die hemel op aarde as die man of vrou of kinders tog net vir een dag stil kon wees, bedoel ons dit nie ernstig nie. Min dinge is so moeilik om te hanteer as stilte. Dink maar aan die tye dat iemand na aan jou die stilstuipe gehad het.

Stilte mag soms soos musiek wees, maar sonder woorde kan ons eenvoudig net nie leef nie. Ons woorde vorm die grondslag van al ons verhoudings. Die verhouding tussen man en vrou is op ‘n gevaarlike punt as daar nie gepraat word nie. Ouers en kinders dryf uit mekaar as hulle nie met mekaar praat nie.

Iemand het eenmaal gesê dat die Here vir ons twee ore en een mond gegee het, wat beteken dat ons tweekeer soveel moet luister as wat ons praat. Dit is ook belangrik, maar wat hier ter sprake is, is wat ons sê. Wat is die waarde van ons woorde?

Daar is nogal baie spreekwoorde en uitdrukkings wat handel oor ons baie gepratery en ons sienings daaroor. Ons ken almal die uitdrukking: “om die waarheid te sê”. Party mense gebruik hierdie uitdrukking eintlik tot vervelens. Dit laat mens soms wonder of ons andersins dan nie die waarheid sou praat nie. Miskien is dit so ‘n afgewaterde vorm van dit waaroor Jesus hier praat. In daardie tyd het die Jode nogal dikwels gesweer. Hulle wou so die waarheid van wat hulle sê, bevestig. Onder formele omstandighede het hulle by die Here gesweer. Meer dikwels het hulle in die gewone verloop van die dag sommer by die hemel gesweer. Dikwels het dit dan sommer ‘n uitdrukking geword en het die mense dit nie baie ernstig bedoel nie. Dit is hierteen dat Jesus dit het.

Hierdie gebruik moet gesien word teen die agtergrond dat mense so dikwels nie die waarheid praat nie. Sommer net dinge sê, sonder dat hulle seker is dat dit wat hulle sê die waarheid is. Soms verdraai mense die waarheid. Soms dink hulle dat dit wat hulle sê die waarheid is, maar in werklikheid is dit nie die geval nie. My perspektief op ‘n saak is nie noodwendig die enigste korrekte sienning nie. Ander sien dit in ‘n ander lig. Daar is dan meestal nie net een kant van ‘n saak nie. Ons moet dan baie versigtig wees om ons seining te verhef tot die enigste en absolute.

Is dit nie juis een van die ernstigste problem van ons tyd nie? Mense maak daarop aanspraak dat hulle die waarheid praat, terwyl dit nie waar is nie, of ‘n bepaalde siening van die werklikheid is. Dan sweer hulle so dikwels dat hulle reg is. Sien ons dit dan nie daagliks in die howe nie, mense sê dinge onder eed, hulle sweer om die waarheid en niks minder as die waarheid te praat nie, maar dan sê twee mense presies die teenoorgestelde. Wat is dan die waarheid?

Mens sien dit nie net in die howe nie. Ouers hoor so dikwels verskillende stories van die kinders. Mens hoor verskillende stories van bure. Die een sien iets so en die ander weer heel anders. Afgesien van verskillende sienings wat daar mag wees, of verskillende interpretasies van dieselfde saak, is daar die geneigtheid by byna almal om dinge in so ‘n lig te stel dat dit hulle pas. Ons verdraai die dinge so dat dit tot ons voordeel is. En dit gebeur dikwels ten koste van iemand anders. Hoe dikwels moet vure nie doodgeslaan word omdat mense skewe dinge vertel nie?

Dit lei daartoe dat mens nie altyd glow at jy hoor nie. Dit is dan dat ons so dikwels moet hoor: sien is glo. Ek sal dit nie glo tensy ek dit sien nie. Ek is nie oortuig dat dit wat gesê word, regtig so is nie. Ek wild it eers self sien en ervaar.

Een van die probleme is dat baie mense sommer net praat. Praat sonder om te dink. Die eerste ding wat in die kop kom, in woorde verklank. Ons weet mos almal hoeveel probleme en ongeluk dit meebring. So maak ons woorde goedkoop. Mense steur hulle dan later nie meer aan wat gesê word nie. Mens kan nie staatmaak op wat hy sê nie.

Hoe dikwels dink, of sê ons dan nie dat ons wat iemand iemand sê, met ‘n kinppie sout geneem moet word nie? Mens glo dat daar ‘n mate van waarheid is in wat iemand sê, maar mens moet dit nie ernsitig opneem nie. ‘n Mate van waarheid is daar, maar dit word oordryf of uit perspektief geruk.

Ander het weer die gewoonte om iemand heuning om die mond te smeer. Ook dan kan mens nie alles glo nie. Bedoel die persoon dit of het hy bybedoelings daarmee? Wat moet ons glo? Nou moet ons nie die kind met die badwater uitgooi nie. Dit is belangrik om positiewe dinge oor ander te sê. Miskien is ons meer skuldig daaraan dat ons nie genoeg die positiewe beklemtoon  en ander prys nie. Maar dan moet ons dit bedoel. Daar mag geen bymoetiewe wees nie. Eerlik en opreg moet ons waardering wees.

Dit is al hierdie dinge wat Jesus hier aanspreek. Woorde het effek. Woorde word nie sommer in die wind gestrooi nie. Dit raak mense se lewens. Woorde verbreek of bou verhoudings. Woorde maak stukkend of heel. Woorde beinvloed ons lewens. Eintlik is dit so dat elke woord wat vir ons gesê word, ons lewe raak.

Jesus stel dit hier eenvoudig: Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ eenvoudig ‘nee’ (Matt. 5:37). Bedoel dit wat julle sê.

Dit gaan dan hier om eerlikheid, betroubaarheid en respek. Respek is die basis van enige gemeenskap en verhouding. Sonder respek val dinge totaal uitmekaar. Respek was die fondament waarop die hele Ou-Testamentiese samelewing gebou is. Respek vir jouself, ander en die Here. Die gebrek aan respek bring mee dat mense sommer net praat, negatiewe  opemerkings maak, die waarheid verdraai en ander benadeel deur hulle woorde. Is respek nog die basis van ons lewens? Kom respek na vore in die wyse waarop ons praat? Nou praat ons nie net van respek wat in die woorde self na vore kom nie. Natuurlik dit in die eerste plek, maar ook van respek in ons lyftaal. Hoe praat ons?

Hierdie woorde van Jesus beteken ook dat ons nie draaie moet loop nie. Reguit op die man af. Eerlik en opreg. Te dikwels hoor ons dat mense sê dat hulle reguit is, en daarmee bedoel hulle niks anders as dat hulle kru en benadelend praat nie. Dit is nie wat bedoel word nie. Nie beledigend  of kwetsend nie, maar eerlik en opreg in baie groot liefde.

Uiteindelik moet ons onthou dat ons geoordeel sal word op elke woord wat ons gesê het.
0 Kommentaar: so far: