POSTED BY John Wait on 07:07 under

Markus 7:1-13

Respek behoort die basis van alle verhoudings te wees. Trouens, sonder respek kan daar nie van enige ordentlike verhouding gepraat word nie. Iemand het eeneenkeer gesê: “Respek is die fontein waaruit die stroom van liefde vloei.”

Daarteenoor lei die gebrek aan respek ons die woestyn van liefdeloosheid in. Respek is die fondament waarop gelukkige gesinsverhoudings gebou word. Waar respek ontbreek, stort die familiegebou in duie en bly net gesinsmurasies oor. Respek en eer gaan hand aan hand, netsoos disrespek en oneer karperde is.

In Bybelse tye was respek van kardinale belang. Die hele samelewing is gebou op eer en oneer. Die eer van die familie het bo alles gestaan, en almal moes so optree dat die eer van die familie nie in die gedrang kom nie, maar uitgebou word.

Die eer van die familie is eerstens gevestig deur die stamvader. As hy daadkragtig opgetree het, het die familie hoë aansien geniet. Waar ‘n  stamvader as swakkeling opgetree het, het die stam nie baie aansien gehad nie. Dieselfde het vir elke familie gegeld. Daarby moes elke lid van ‘n gesin so optree dat dit die eer van die gesin bevorder. Alles wat die eer van die gesin in gedrang gebring het, is as wandade gesien en is swaar gestraf.

Dit is dan opvallend dat die gebod: eer jou vader en jou moeder, die eerste gebod is wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit word gevolg deur die gebod oor moord, egbreuk, diefstal, vals getuienis en begeertes. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is... dit is die basis. Al die ander vloei hieruit voort.

As jy nie jou ouers eer nie, bring jy die eer van die gesin in gedrang en dit kan lei tot die ondergang of vernietiging van die gesin. Moord raak ander, gewoonlik  iemand buite die gesin. Egbreuk word veroordeel omdat owerspel die eer van ‘n man ten diepste aanraak. Die vrou wat ontrou was aan haar man, het sy eer baie diep geskend. So kan ons voortgaan. Al die gebooie van die tweede tafel van die Wet, die gebooie wat ons verhouding met ander mense raak, kan teruggevoer word na eer. Positief sou ons dit in ‘n enkele woord kon saamvat: Eer jou naaste. Respekteer ander. Jesus het die gebooie mos saamgevat met die woorde: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Liefde is ‘n uitvloeisel van respek. Respek is ‘n voorvereiste vir liefde. Respek is ‘n voorvereiste vir ‘n stabiele en gelukkige samelewing, en dit is vandag nogsteeds so.

In Markus 7 het ons die interressante en aangrypende vertelling. Die Farisieers en sommige van die Skrifgeleerdes het heftig beswaar gemaak omdat die dissipels van Jesus nie hulle hande behoorlik gewas het voor hulle geëet het nie. Markus, wat hier nie vir die Jode skryf nie, verduidelik dit dan aan sy lesers, hy vertel dat die Jode die gebruik gehad het om hulle hande baie deeglik te was voordat hulle geëet het. Dit was ‘n baie ou gebruik wat van geslag tot geslag oorgelwer is en waaraan almal gehou het. Markus beklemtoon dan dat die Jode wanneer hulle van die dorp af gekom het, eers behoorlik gewas het het voor hulle geëet het.

Hy voeg dan sommer by dat die Jode nog baie ander oorgelewerde gebruike gehad het waaraan hulle vasgehou het soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was. Hulle was baie tradisie vas. So, en op geen ander manier nie, word dinge nou net eenvoudig eenmaal gedoen. Die rede vir die gebruik het niemand meer geken nie, maar tog hou hulle vas aan die gebruik. Dan word dit ‘n uiterlike ritueel sonder betekenis.

Jesus se dissipels hou hulle nie aan hierdie gebruik nie. Dit ontstel die godsdiesntige leiers en hulle  vereis ‘n verklaring vir hierdie ongehoorde gedrag.

Jesus antwoord hulle met ‘n aanhaling uit Jesaja: “Hierdie volk eer My met die mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie  van God voor te hou nie.” Dit was skerpsnydende woorde. Woorde waaraan ons ook gerus maar aandag kan skenk... Hoeveel gebruike is daar nie wat ons ook so verhef en waaraan ons vasklem asof die lewe en ons hele godsdiens daarvan afhang nie?

Jesus wys dan daarop dat hulle ‘n onbenulligheid tot die absolute verhef terwyl hulle hul basiese verantwoordelikheid ontduik. Hulle eis dat mense met gewaste hande moet eet, maar kom met allerlei slinkse planne vorendag as dit by die eer van ouers kom. “Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.

Hoekom het Jesus dit gesê? Hulle kritiseer die dissipels omdat hulle nie die handwas rituele uitgevoer het voor ete nie, maar keur allerlei praktyke wat mense in staat stel om die gebod op die eer van die ouers te ontkom, goed.

Die gebod: eer jou vader en jou moeder, het ook ingebou dat die kinders vir die bejaarde ouers moet sorg. Jy moes jou ouers met respek behandel. Reeds in die Ou-Testament is dit in ‘n baie ernstige lig gesien. Wie sy vader en moeder gevloek het, moes sekerlik doodgemaak word. Daar was net eenvoudig geen keuse nie, en die doodstraf was in sulke gevalle verpligtend, want wie so opgetree het, het absoluut geen respek vir sy ouers gehad nie. Miskien moet ons weer die erns  van heirdie gebod hoor. Is daar nog werklik respek vir ons ouers? Sorg kinders nog vir hulle bejaarde ouers? En daarmee bedoel ek nie dat jy nou jou bejaarde ouers in jou huis moet versorg nie, maar wel eerder dat ons na ons bejaarde ouers moet omsien op alle terreine, fisies, emosioneel, sosiaal en geestelik.

Die Jode het in die tyd van Jesus ‘n klompie slim planne uitgedink om uit hulle verpligtinge te kom. Een hiervan was dat hulle vir hulle ouers gesê het dat alles wat die ouers van hulle sou ontvang, ‘n offergawe van God af was. Dan het hulle alles aan God gewy en so niks vir hulle ouers gegee nie.

As iemand destyds iets as Korban verklaar het, het dit beteken dat die item bestem is om aan God geoffer te word. Dit hoef egter nie dadelik na die tempel gebring en geoffer word nie. Maar omdat jy dit as’t ware aan God beloof het, mag niemand anders dit aanraak nie. So sou jou skuldeiser nie sommer hierop beslag kon lê nie, want dan het hy mos dit wat aan God behoort, gevat. Die ouers sou ook nie daarop kon aanspraak maak nie. So kon hulle terselfdertyd ewe vroom wees en nie vir hulle ouers sorg nie.

Netso is daar heeltemal te veel mense wat ewe vroom in die kerk sit terwyl hulle glad nie hulle ouers respekteer nie. Daar is te veel kerklidmate wat vandag, netsoos die kerkmense in Jesus se tyd, hulle erfporsie gryp en dan hulle rug op die ouers draai.

Daar is te veel mense wat hulleself Christene noem, wat hulle ouers in een of ander tehuis sit en dan van hulle vergeet of hoogstens eenkeer per jaar darem ‘n ou draaitjie daar maak of so ‘n vinnige oproepie maak. En dan moet ons hoor hoe besig hulle is, of hoe swaar hulle kry of allerlei verskonings wat aangebied word maar glad nie oortuig nie. Netsoos die Jode.

Jesus spreek Hom baie skerp hieroor uit. Dit mag nie gebeur nie. Daar moet respek vir ouers wees. Dit is immers die hoeksteen, nie net van die gesinslewe nie, maar van die hele samelewing.

Dit hou natuurlik ook in dat ouers ‘n verantwoordelikheid het. Elke ouer moet so leef dat hulle die respek van hulle kinders en die res van die gemeenskap verdien. Respek moet verdien word. Dit hang nie noodwending saam met jou sosiale posisie nie. JY moet nie net geëer word bloot omdat jy ‘n ouer is nie, jy moet respek verdien deur jou lewenswyse.

Wedersydse respek is wat gevra word....
0 Kommentaar: so far: