POSTED BY John Wait on 16:54 under

Psalm 19:8-15

Ons wil tog so graag hê dat ons kinders “volmaak” moet wees. Hoekom!? Dalk is dit, omdat ons self al agtergekom het dat ons nie self volmaak is nie...of het jy dit nog nie agtergekom nie?

Jy is vol foute en jy is vol tekortkominge...en jy gaan defenitief nie als sommer so eensklaps regmaak deur jou kinders en jou vrou of man dalk te probeer blinkpoets, aanmoedig, forseer, omkoop of ompraat nie. Jy kan nie omdat jy diep in jouself weet van als wat jy dalk anders wou gedoen of anders wou gehad het, jou kinders of jou geliefdes in die een of ander super wese verander nie.

Ons almal is maar net doodgewone mense met ons foute.... nie een van ons is volmaak nie....

Maar hoekom het ons dan hierdie dryf, hierdie strewe na volmaaktheid, na ‘n ere plek? Daar is soveel elemente in elkeen van ons se lewe wat skreeu van die soeke of begeerte na die een of ander vorm van volmaaktheid...hoekom? Ek dink die antwoord is baie makliker as wat ons dink.

Ons is mos gemaak, elkeen met ‘n doel op aarde. Elkeen met iets wat ons moet bereik. Nou wat is die heel belangrikste “iets” wat jy moet bereik? Is dit dalk om jou eie motor te besit, jou eie huis of strandhuis, jou eie stukkie grond?

Nee, dit het als te make met Hom wat ons gemaak het. Met God wat vir ons met hierdie een doel voor oë geskape het....naamlik om naby aan Hom te leef en deur ons lewe ons optrede en ons denke eer aan God te bring! Dis hoekom ons hierdie ingeboude strewe ook het na die goddelike, na die volmaakte. Ongelukkig mis baie van ons die punt en  “streef” na die verkeerde doelwit, naamlik selfverheerlikking, en erkenning. Jy wil darem ook gekên word, of hoe?

Nou wat is dan volmaak? En hoe kan ons dan iets van hierdie volmaaktheid deel van ons maak, of ons kinders of man of vrou maak? Die antwoord kom uit die gedeelte wat ons sopas gelees het, naamlik: “Die woord van die Here is volmaak”. En nog verder as dit: “...dit gee lewe”.

So eenvoudig kom God se Woord nou na jou toe. Sy woord is volmaak natuurlik! Want sy woord kom tog uit hom uit, dus...  moet dit volmaak wees. Dit is betroubaar, dit gee wysheid aan jou wat nog onervare is, dit gee vir ons die regte koers aan, dit bring blydskap, dit gee insig, dit is goed, en staan altyd vas, dit is reg en regverdig, dit is kosbaar.... Elke liewe eienskap is perfek. En hier is die groot geheim, elkeen van die eienskappe van die Woord van God, is juis die tipe eienskappe wat ons graag self wil wees, wat ons vir ons kinders wil hê! Nie waar nie?

Dus as jy al hierdie perfekte eienskappe, hierdie volmaaktheid wil hê, as jy elkeen van hierdie eienskappe aan jou kinders wil toedig, moet jy sorg dat jy ook vanuit God (want Sy woord wat volmaak is, kom mos uit Hom uit) moet leef, vanuit God moet wees!

Maar so baie keer voldoen ons nie eers naastenby aan ons lewensroeping nie. So baie keer verloor ons fokus, en dan forseer ons nog ons eie verwronge aspirasies af op ons kinders en ons geliefdes.

In Matteus 20 lees ons van 2 dissipels se moeder wat vir Jesus vra om haar seuns ‘n ereplek langs Hom in Sy koninkryk te gee. Sy is totaal ingestel op die “sukses” en beloning van haar kinders. Om haar idees van sukses en beloning dan af te dwing as’t ware selfs op die Here, ontsien sy ook niks en niemand nie. Sy is nie eers bewus van God se idée van sukses of beloning nie, en dit lyk nie eers of dit haar pla nie.

Soos baie ma’s is sy ook nie eers bekommerd of iemand anders in die proses seer kry of te na gekom word nie. Haar seuns was tien teen een nie eers self op soek na so ‘n ere plek nie, maar sy was baie seker oor die plek wat sy gedink het haar kinders verdien.

 Dit is so dat baie ma’s en pa’s tot die uiterstes sal gaan om te sorg dat hul kinders volmaak moet wees, selfs aan die regter en linker kant van God te moet sit!

Baie van ons ma’s en pa’s netsoos die ma van die twee dissipels vergeet dat hulle eintlike plig en roeping met hulle kinders is eintlik om te sorg dat hulle kinders in die hemel moet kom, en dat dit die heel belangrikste beloning  van ons lewens is....

Nou goed; dis duidelik dat ons as ouers se roeping dan moet wees om te verseker dat ons kinders hemel toe gaan, maar die vraag kom weer onmidddelik op: Hoe werk dit dan prakties? Hoe verseker ek my geliefdes se beloning by die Here?

Die eerste stap is om self seker te maak jou eie enigste doelwit in die lewe is om die Here te verheerlik en naby Hom te wees en om vanuit Hom te leef! Jy kan tog nie ‘n situasie hê waar ‘n ongeredde die evangelie en weg tot saligmaking verduidelik moet word aan iemand anders nie.

Maak jou eie saak onmiddelik reg. Ondersoek jouself en gaan op jou kniee en bid dat God jou genadig sal wees en dat hy jou sal gebruik soos wat Hy wil. Besef ook dat jy nooit jou roeping sal kan verwesenlik vanuit jou eie kragte nie. Jy kan baie keer sommer alreeds in jou kop of gedagtes al moed verloor.  Romeine 12:2 sê dit so duidelik: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Deur te lank net oor alles na te dink kan jy dalk nog tou opgooi nog voordat jy eers probeer het om te doen wat die Here vir jou gesê het om te doen. Dan raak jy depressief.

Ons moet anders dink, jy sal moet besef dat jyself kan nooit jou eie lewe verander nie, maar as jou gedagtes en denke met God s’n vereenselwig word, sal jy sukses en beloning in jou lewe ervaar. Hoe kan jy jou denke dan verander...? Deur dit elke dag met God se Denke, met Sy Woord te programmer....

Ek sluit af met die laaste gedeelte van Psalm 19: 12:... “wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.”
0 Kommentaar: so far: