POSTED BY John Wait on 07:18 under

Genesis 24, 25:19-34,27

Van droomvrou tot rugsteker. Dit is die tema van die verhaal van Rebekka. Dit is helaas ook die verhaal van so baie sedertdien. Die verhaal word vir ons in die Bybel vertel as spieël waarin ons na onsself moet kyk. Die verhaal wat ons oproep tot selfondersoek en optrede. Gaan ons soos sy leef of wat gaan ons doen.

Die verhaal van Rebekka begin so romanties. Destyds was dit veral die pa se verantwoordelikheid om toe te sien dat sy kinders, en veral sy seuns, getroud kom. As mens onthou dat die lewensverwagting destyds maar gemiddeld om en by veertig was, kan mens maklik verstaan dat kinders baie jonk getrou het. Dan is dit nog meer verstaanbaar en aanvaarbaar dat die ouers die grootste sê in die keuse van ‘n huweliksmaat gehad het. Geen wonder dat die oorgrote meerderheid huwelike gesluit is na onderhandelinge tussen die ouers van die bruid en die bruidegom nie.

Getrou aan die gebruike is Abraham baie berkommerd dat hy sal sterf voor sy seun Isak getroud is. Hy laat sy oudste slaaf sweer dat hy vir Isak ‘n geskikte vrou uit sy stam sal soek. Die slaaf gehoorsaam. Hy maak die soeke na ‘n vrou vir sy baas se seun ‘n gebedsaak. Nou verwag mens mos dat sulke gelowige optrede geseën sal word. Wat gaan gebeur?

Nog voor hy klaar gebid het, sien hy ‘n pragtige jong meisie! ‘n Beeldskone maagd kom na hom toe aangestap. Mens kan nie anders as om die slaaf se mond te sien oopval nie. Die meisie is nie net beeldskoon nie, sy is boonop baie vriendelik.

As hy vra: “Laat my tog ‘n bietjie water drink uit jou kruik”, antwoord sy: “drink gerus meneer!” Sy doen meer as wat hy vra, sy bied ook aan om sy kamele te laat drink. Sy is hardwerkend, want ons lees dat sy nie net die kruik leegmaak in die krip sodat die kamele kan drink nie, maar dat sy heen en weer tussen die put en die krip hardloop om te sorg dat die kamele genoeg kry om te drink. En al drink die kamele nie elke dag nie, kan hulle baie drink. “n Pragtige gasvrye flukse meisie! “n Droomvrou. Geen wonder die slaaf het haar met kosbare geskenke oorlaai nie (Gen.24:22). Die meisie is boonop nog gasvry. As hy vra of hulle nie dalk slaapplek vir hom het nie, bied sy dadelik en sonder huiwering aan dat hy die aand by hulle kan oornag. Weer gaan sy verder as wat verwag kan word en bied sommer nog voer vir die kamele ook aan. Dit is opvallend. Sy gaan raadpleeg nie eers haar ouers en kry nie eers goedkeuring nie. Sy tree selfstandig op. Vir daardie tyd was dit nogals iets besonders…

Die slaaf se gebede is verhoor. Hy gaan sommer dadelik oor om te onderhandel oor ‘n huwelik. Hierdie droomvrou moet hy vir sy baas se seun kry! Beter kan dit nie. Die onderhandelinge loop nou goed af. Hy wil so gou moontlik terug gaan. Haar ouers wil dat hy nog ‘n dag of tien bly, maar hiervoor sien hy nie kans nie. Dan gebeur nog iets besonders, die ouers raadpleeg die dogter  en laat die finale sê aan haar oor. Sy besluit dat sy dadelik met die slaaf sal gaan. Sy aarsel nie en wil die voorgenome huwelik nie uitstel nie. Weereens tree sy selfstandig op.

Sy is nie net beeldskoon, hardwerkend, gasvry en vriendelik nie, maar ‘n vrou in eie reg wat self dink, self besluit en die daad by die woord voeg. Sy hink nie op twee gedagtes nie en vat nie ‘n ewigheid om tot ‘n besluit te kom nie. Inderdaad ‘n droomvrou.

Sou ons, en veral alle vroue, nie ons graag met hierdie droomvrou wou identifiseer nie? Inderdaad stel sy ‘n voorbeeld by uitnemendheid. Vriendelik, gasvry, hardwerkend. Iemand wat besluite kan neem en dit tot uitvoering bring.

“n Rukkie daarna, as sy oppad na haar voorgenome man en huwelik op ‘n dag ‘n man sien nader kom, en vra wie dit is, hoor sy dat dit haar bruidegom is. In ooreenstemming met die tradisies en gebruike, versluier sy haar gesig. Dit was die teken dat sy ‘n maagd en hubare meisie is. Haar toekomstige man moet nie verlief raak op haar uiterlike skoonheid nie. Hy moet darem ook bietjie dieper kyk.

Van die huweliksluiting lees ons niks, ook nie van die fees wat daarmee saamgaan nie. Is dit nie jammer nie? Ons lê mos so baie klem op sulke dinge, maar hier val die klem op die regte plek. Ons lees hier dat hulle getroud is en dat Isak haar liefgehad het (Gen. 24:67).

Al het hy haar nie self uitgekies en het romantiese liefde nie ‘n rol gespeel in die keuse van ‘n huweliksmaat nie, het ons baie duidelik ‘n liefdesverhaal. Isak het Rebekka liefgehad! Dit is die eerste keer in die Bybel dat ons so uitdruklik lees dat ‘n man sy vrou liefgehad het. Dit is so belangrik. Dit is die fondament. Liefde, respek, eerbied, agting. “n Droomvrou in ‘n droomhuwelik! En inderdaad sou almal van ons ook wou hê dat ons huwelike gekenmerk moet word deur liefde! My man het my lief! Ek het my vrou lief!

In die derde toneel word die ideale beeld voortgesit. Die droomvrou is onvrugbaar, en destyds was dit ook iets verskrikliks. Om kinders te kon hê was die hoogste prioriteit in die huwelik. Ons lees dat Isak tot die Here gebid het oor sy vrou, want sy was kinderloos (Gen.25:21). Isak bid vir sy vrou. Hulle probeer nie allerhande dinge nie, hy bid. Is dit nie nog ‘n aanduiding van ‘n wonderlike huwelik nie? Moet ons nie by hom leer en meer bid vir die onvervulde ideale van ons eggenotes nie?

Die Here verhoor Isak se gebed. Rebekka word swanger. Maar dinge loop nie al te lekker nie. Sy worstel selfs met die vraag hoekom sy so swaar moet kry met die swangerskap. Ook op die vraag kry sy ‘n antwoord. Dis omdat sy ‘n tweeling verwag. Boonop sal die tweeling twee volke word wat vir altyd in stryd met mekaar sal leef. “n Stryd wat tot vandag toe nog voortduur. Gebedsverhoring beteken nie altyd dat alles van daardie oomblik voor die wind sal gaan nie. Daar kan moeilike en baie swaar tye volg op die aanvankilke gebedsverhoring. Isak het gebid. Rebekka het swanger geword maar dit was die begin van ‘n lang en bitter stryd. “n Stryd wat nie net die twee seuns geraak het nie, maar die gesin geskeur het en van die droomvrou ‘n rugsteker gemaak het. “n Stryd wat na eeue nog steeds voortduur.

Die twee seuns het soos dag en nag verskil. Die verskille het hoe langer hoe duideliker na vore gekom. Dit het gelei tot spanning. Essau was ‘n man van die veld. Sy pa se droomseun. Geen wonder dat sy pa hom voor getrek het nie. Jakob weer was ‘n sagte en rustige kind wat by die huis gebly het. Hy was sy ma se oogappel.Sy het hom voor getrek. So het elke ouer ‘n witbroodjie gehad (Gen25:28). En dit werk nooit nie. Dit lei tot meer spanning en groter wedywering.

In die laaste toneel waarin Rebekka verskyn, het ons ‘n heel ander prentjie van die eens droomvrou. Nou is sy en haar man al oud. Hy vrees dat hy binnekort kan sterf. Hy roep sy geliefde oudste seun en vra hom om gereed te maak om sy seen te ontvang. Maar Rebekka het ander planne. Sy luister die gesprek af. Sy het nie respek vir Isak se privaatheid nie, en vertrou hom nie meer nie. Sy beraam ‘n slinkse plan om Isak, haar man wat haar liefhet, te dwarsboom. Sy beraam nie net die plan nie. Sy voer dit uit. Dis soos ‘n goed beplande misdaad – wat dit inderwaarheid ook was.

Dit was vir ons aan die begin maklik om met Rebekka te identifiseer. Maar nou? Die vraag is of ons nie baie keer netsoos sy optree nie. Ons vertrou mekaar nie meer nie. Ons skend ook mekaar se privaatheid. Ons maak ook ander planne. Ons belieg en bedrieg mekaar, net om ons eie sin te kry. Op die ou ent is ons ook maar net sulke rugstekers soos Rebekka. Al is dit nie ten opsigte van sulke skynbaar groot sake soos hier die geval was nie. Maar is daar nou groot sonde en klein sondetjies; goot rugstekery en klein rugstekerytjies?

Het Rebekka geslaag in haar doel? Skynbaar ja. Isak het wel vir Jakob geseën. Hy word nou die eersgeborene en ontvang ‘n dubbele erfdeel. Maar gou-gou hoor Rebekka ‘n ander gesprek.

Sy hoor dat Essau vir Jakob wil doodmaak. Weer beraam sy ‘n plan. Weer lieg sy vir haar man. Nou moet Jakob vlug. Die eersgeborene met die groot sosiale aansien en dubbele erfdeel, word ‘n vlugteling met niks het nie! Sy ma se rugstekery het hom duur te staan gekom!

Miskien moet dit vir ons ‘n les wees. Sonde slaag nooit nie. Dit bereik al te dikwels die teenoorgestelde van wat ‘n mens daarmee wil bereik. Dit raak die wat die naaste aan jou is en wat jy wil bevoordeel dikwels slegter as vir jou. Hierna verdwyn Rebekka van die toneel. Hoe tragies. Van droomvrou tot rugsteker… Hoe lyk dit met ons?

0 Kommentaar: so far: