POSTED BY John Wait on 05:43 under ,

Prediker 2:4-11, 12:13

As ons Prediker 2:4-10 lees, is die meeste van ons se reaksie seker: hoe wonderlik! Ons kan ons met hierdie man identifiseer. Ons sou ook graag so wou leef. Hoe wonderlik sou dit nie kon wees as ons so kon leef nie! Dit klink so idillies en heerlik. Ag, as my lewe maar soos hierdie man s’n kon wees.

Die man was ‘n ondernemende en uiters suksesvolle sakeman. Hy vertel self: “Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en allerlei vrugtebome daarin geplant. Ek het vir my damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. Ek het slawe en slavinne aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet. Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te staan gekom. Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het myself geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning” (Pred. 2:4-10).

Dit klink mos nou soos ‘n suksesverhaal. Die man het dit in hom gehad. Hy het ondernemingsgees gehad. Hy pak groot ondernemings aan. Hy deins nie terug vir uitdagings nie.

Hy wag nie dat dinge gebeur nie, maar laat dinge gebeur. Hy rol sy moue op en sit skouer aan die wiel. Hy bou huise. Hy bou ‘n groot boerdery op. Hy plant wingerde. Hy lê tuine aan. Nie sommer net ‘n klein tuintjie nie. Nee, dis parke wat hy aanlê. Hy plant boorde met alle moontlike vrugtebome. Hy bou ‘n groot kudde beeste en kleinvee op.

Daarby het hy vir sy tyd revolusionêre boerdery metodes gevolg. Hy bou besproeiingsdamme, wat destyds eintlik onbekend was. Hy het hard gewerk. Hy is ‘n toonbeeld van ‘n man met gediversifiseerde belange in onder andere eiendomme en gemengde boerderye. Hy was ‘n entrepreneur en sakeman van formaat.

Die meeste van ons steek maar sleg af teen hom. Ons sou trouens kon vra of die meeste van ons hom nie beny of as rolmodel sou kies nie. As ons en ons kinders maar sy dryfkrag en insig en werksvermoë gehad het.

Die man skaf ook vir hom baie slavinne an. Destyds was slawerny algemeen en die welvarendes het ‘n groot werkmag van slawe en slavinne gehad. In vandag se terme sou ons eerder kon sê dat die man ‘n groot arbeidsmag gehad het. Hy het baie mense in diens geneem. Hoe groter die personeel, hoe welvarender is die baas mos. Daar is baie om vir hom te werk en wat spring as hy net sy vingers klap. Hoe lekker sou dit nie gewees het as ons so ‘n klomp werkers kon gehad het nie. Dit kon dinge mos sommer lekker maklik gemaak het. So ‘n groot personeel wat vir ons ‘n heerlike gemaksone sou kon skep sodat ons nie so hoef af te sloof en alles self te doen nie.

Die man was ook ‘n belgger van formaat. Hy het silwer en goud opgegaar. Sy reserwes was besonder groot. Hy het nie ‘n kontantvloei probleem gehad nie en het nie op lenings staat gemaak nie. Wat ‘n ideale situasie.

Daar begin so ‘n skaduweetjie oor die man val as ons die volgende paar verse lees. Dit lyk of hy ‘n gekultiveerde mens was. Hy werf vir hom talle sangers en sangeresse. Maar ai tog, hy werf vir hom ook talle mooi meisies met wie hy die lewe kon geniet. En dan kry hy grootkop en word verwaand en arrogant as hy spog met die feit dat hy magtiger en ryker as almal voor hom in Jerusalem was. Hy spog ook met sy wysheid. Miskien was dit waar, maar om dit so uit te blaker klink nogal arrogant en nie na die woorde van ‘n wyse man nie.

Helaas is dit nog altyd dat oorvloed te veel mense laat vervlak. Daar is niks verkeerd met die genieting van goeie musiek nie. Inteendeel. Gekultiveerdheid en die genieting van musiek, kuns en kultuur is wonderlik en aanbeveelingswaardig. Die probleme begin kopuitsteek as mense vervlak en die lewe begin geniet met talle mooi meisies! Om dan nog te loop en spog met jou mag en jou rykdom en wysheid wat die van ander oorskrei, is darem net te erg.

Dit laat mens dink aan iemand wat aan niks gewoond is nie en skeilik net alles in die lewe kry. Maar is dit nie dikwels wat gebeur as mense hulle net toelê op die materiële nie? Is dit nie wat ons te dikwels sien en hoor nie? Mense word skatryk en vervlak in so baie opsigte. Dan word dit alles net klinkende simbale en holle lawaai.

Die man vertel dat hy homself alles veroorloof het. Hy het homself geen plesier ontsê nie. Sy leuse was skynbaar om hard te werk en hard te speel. Die belonging vir sy harde werk het vir hom in plesier gelê. Is dit dan nie ook die geval by so baie van ons nie? Kom ons erken dit maar: hierdie man is die tekening van wat die meeste van ons as droomman sien. Ons sou so graag so wou leef.
0 Kommentaar: so far: