POSTED BY John Wait on 19:22 under , ,
Daniël 9:4-19 bevat een van die aangrypendste gebede in die hele Ou-Testament. Die gebed beklee dan ook die sentrale plek in die boek Daniël. Verder is dit die enigste hoofstuk in die boek waar die Verbondsnaam van die Here gebruik word. In die res van die boek word slegs die woord God gebruik.

Die gebed word voorafgegaan met die verwysing na die feit dat Daniël uit die boekrol van Jeremia gelees het. Hy lees dat Jerusalem sewentig jaar ‘n puinhoop sou wees. Dit wat hy gelees het, het hom diep aangegryp. Dit bring hom op sy knieë.

Hy wend hom tot die Here sy God in gebed en smeking: hy het gevas, rouklere aangetrek en as oor sy kop gegooi. Hy het hom dus deeglik voorberei vir hierdie gebed. Dis nie maar sommer so vinnige gebedjie nie. Die feit dat hy hom in gebed en smeking na God wend, dui daarop dat ons hier ‘n ernstige skuld en smeek gebed gaan vind. Hy trek hom aan soos iemand wat rou na die dood van ‘n geliefde. Dit was dan ook destyds die gebruik om so voor God te buig as jy jou skuld besef en dit bely.

Daniël begin sy gebed deur die grootheid van die Here te bely. Ag, Here, groot en ontsagwekkende God… Daniël spreek die Here op Sy verbondsnaam , Jahweh, aan. Ons weet nie presies wat die vorm van die woord Jahweh is nie, maar wel dat dit van die woordstam hajah afkomstig is wat is beteken.

Die naam dui dan op die Lewende. Die Here is die Lewende. Hy leef! In die Ou-Testament word die verbondsnaam Jahweh telkens in verband met die feit dat God die Lewende, die Handelende, is gebring. Hy leef, en dit het hulle geweet omdat Hy gepraat en gedoen het. In hierdie gebed is dit dan ook die kernbelydenis oor God. Die Here leef! Dit is trouens die sentrale tema wat soos ‘n goue draad dwarsdeur hierdie boek en die hele Bybel loop.

Wat bely Daniël hier verder oor die lewende Here? Hy spreek die Here aan: Here, groot en ontsagwekkende God. Hy is diep onder die indruk van die grootheid van God. Hy staan bo al die mense; bo die konings en magtige wêreldleiers wat almal maar nietig is en voete van klei het; wat soos die gras van die veld vandag daar is en more in die vuur gegooi word. Die grootheid van God is ontsagwekkend. Mens kan nie anders as om klein te voel by die besef van die grootheid van God nie.

Daniël bely verder: U handhaaf U verbond en trou teenoor die wat U liefhet en U gebooie gehoorsaam. Die lewende Here is die Verbondsgod. Hy staan in ‘n verbondsverhouding met die gelowiges.

Wat beteken dit? “n Ouer teorie was dat die verbond afgelei is van die vasaalverdrae. Dit was gesluit wanneer ‘n koning ‘n ander oorwin het en dan het die oorwinnaar ‘n ooreenkoms met die oorwonne koning gesluit en moes die oorwonne koning die pligte wat die oorwinnende koning daar gestel het, nakom.

Nie lank terug nie is dokumente ontdek waarin ‘n koning sy amp aanvaar. Hierin sê die koning wat hy vir sy onderdane gedoen het en sal doen, soos dat hy hulle sal bevry het van een of ander onderukking en sal beskerm. Hy stel ook hierin eise: as hulle sy koningskap aanvaar, moet hulle op ‘n bepaalde manier leef en sy wette gehoorsaam. Dit vertoon besondere paralelle met die verbondsgedagte wat hier en eintlik dwarsdeur die Ou-Testament aangetref word. Dit vorm ook die grondslag van die gebed van Daniël.

Dit is juis omdat die Here die Koning is, wat Sy volk uit Egipte gered het en by Sinai Sy wet en verbondswaardes aan hulle gegee het, dat Daniël hom tot die Here wend. Die Here is sy Koning. Die Een wat in beheer is. Wat bo al die konings en koninkryke staan. Daniël bely dat die Here Sy verbond hanhaaf. Hy bly altyd en onder alle omstandighede getrou. Hy breek nie sy verbond nie.

Die Here is regverdig. Hy is nie ‘n wispelturige despot nie. Nie magsbehep soos die koning nie. Soek nie sy eie voordeel nie en trek nie sommiges voor en tree onregverdig teenoor ander op nie. Hy is die regverdige regter. Maar Hy is ook barmhartig. Hy toon genade en het nie ‘n behae daarin om te straf en te vernietig nie. Sy liefde skyn in alles deur.

Daniël bely verder dat die Here vergewe. Hy hou nie die sonde en die kwaad altyd voor oë en soek nie altyd geleenthede om die mens te straf nie. Hy vergewe, Hy wis die sonde uit. En as Hy vergewe, dan doen Hy dit volkome. Dan dink Hy nie meer daaraan nie. As Hy vergewe, dan vee Hy die sonde uit sodat dit glad nie meer bestaan nie.

Die Here laat Sy woorde in vervulling gaan. Dit sluit beide Sy beloftes en Sy oordeelwoorde in. Sy woord keer nie leeg na Hom toe terug nie. Wat Hy sê, doen Hy. Op Sy woord kan mens peil trek.

Die Here, so bely Daniël verder, is ‘n Redder. Dis Hy wat Sy volk uit Egipte gered het. Toe hulle slawe was wat erg onderdruk was, het die Here hulle nood raakgesien en hulle gered. En daarna het Hy telkens Sy kinders gered uit al die gevare en nood en angs. Hy is die Redder en Verlosser.

So bely Daniël, Maar telkens bely hy ook sy skuld en die skuld van sy mense. Teenoor die Here, die troue verbondsgod, die regverdige, barmhartige, vergewende Redder, staan die sondige mens. In opregtheid, met smart, bely Daniël sy skuld. Hy gebruik baie verskillende woorde om sy skuld en sonde en die van sy mede volks- en geloofsgenote, uit te druk.

Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens U gebooie en bepalings nie. Ons het nie geluister na u dienaars, die profete nie. Dit alles lees ons in verse 5en 6. Geen wonder dat hy dan in die volgende vers tot die gevolgtrekking kom: Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het. Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het.

Bietjie later sê hy dat daar nog nooit op aarde so ‘n groot ellende was soos hierdie ellende wat hulle deur hulle sonde oor hulleself gebring het nie.

Later herhaal hy weer. Ons was opstandig teen U. Ons was nie gehoorsaam nie. Ons het nie volgens U wil geleef nie. Ons het afvallig geword. Ons het nie geluister nie. Ons het U wil oortree. Daar is by hom geen twyfel nie. Die skuld lê vierkantig op hulle eie skouers. Niemand en niks anders is verantwoordelik vir die ellende nie. Hier word niemand anders blameer nie. Die skuld word bely. Sonder omdraai van doekies. Sonder om dit met ‘n suikerlagie te bedek.

Teenoor die lewende Here staan die sondige mens. Teenoor die getroue God, die ontroue mens. Teenoor die barmhartige Here, die afvallige mens. Teenoor die regverdige  God, die onreg van die mens. Teenoor die vergewende Here die opstandige mens. Teenoor die Here wat Sy woorde in vervulling laat gaan staan die onbetroubare mens wat nie luister en leef na die wil van God nie.

Teenoor die Here staan ons. En dit is sonde. Want Hy is die Verbondsgod wat Sy verbondsvolk gemaak het en wil dat ons na Sy beeld as Sy skaduwee moet leef. In verbondenheid aan Hom en nie teenoor Hom nie. Met Hom en nie teen Hom nie. Op Hom gerig.

Wanneer Daniël so sy skuld bely en sy eie nietigheid en sondigheid stel teenoor die grootheid en heerlikheid van die Here, kan Hy nie anders as om sy gebed af te sluit met ‘n aangrypende pleidooi nie.

Ter wille van U self, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van U verwoeste heilgdom. Luister tog, my God! Sien tog ons verlatenheid raak, en die van die stad waaroor U Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van U groot barmhartigheid. Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God.

Hierdie wonderlike gebed is nie net die sentrale pun tin die boek van Daniël nie. Dit wil nie net vir ons beskryf wat iemand baie lank gelede in ‘n tyd van nood gedoen en hoe hy gebid het nie. Dit wil ons oproep om soos Daniël op te tree in tye van nood.
0 Kommentaar: so far: