POSTED BY Steven Sass on 13:10 under ,
21 Februarie 2010 Patensie
Maleagi 4:1-6
Wat van die oordeelsdag?
Hoofstuk 4 is nie net ‘n treffende afsluiting van die boek Maleagi nie, maar ook van die Ou-Testament. Dis ‘n eenheid wat nie onderbreek behoort te word nie, wat handel oor die dag van die Here.

So sluit hierdie boek, en die Ou-Testament met die oog gevestig op die komende dag van die Here. Die dag waarop hierdie bedeling tot ‘n einde sal kom en ‘n nuwe bedeling sal aanbreek.(2 ) Dit sluit af met ‘n besondere troosboodskap vir die gelowiges wat onder baie moeilike omstandighede geleef het.

Vir hulle wat selfs geworstel het met die vraag of dit enige sin het om nog die Here te dien, kom hierdie blye boodskap: die dag van die Here is op hande. Hierdie dag is nie verwag in die verre toekoms nie, maar as iets wat binnekort sou plaasvind. Sommer binnekort sal die dag van die Here aanbreek.

By talle van die profete vind ons verwagtings na die dag van die Here. Trouens, ons vind dit telkens wanneer die gelowiges in moeilike omstandighede verkeer het.

Die dag van die Here is gesien as die dag waarop die Here sal ingryp en ‘n einde maak aan die bedeling van onderdrukking en sonde. Dit sal die dag wees waarop die vyande vernietig en die gelowiges herstel sal word. Soms is die vyande gesien as die vyandelike magte wat Israel oorheers en onderdruk het, en soms was die vyande nie net buitelandse magte nie, maar het dit ook die ongelowiges uit Israel ingesluit.

Hiedie deel begin weer met ‘n stelling: “Die dag kom en hy brand soos ‘ oond” (Mal.4:1). Hierop volg nie ‘n vraag soos telkens voorheen nie. Die beeld van die vuur word voortgesit om die gevolge van die dag vir die ongelowiges aan te toon. Tot hiertoe het ons telkens gelees dat dit goed gaan met die goddeloses. Hulle het skynbaar geen teenspoed beleef nie, en alles het met hulle net voor die wind gegaan. Nou blyk dit dat die voorspoed maar van korte duur sal wees.

Die dag kom en dan sal die wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, die kaf wees waarmee die vuur sal brand. Die ongelowiges sal nie in die vuur vernietig word nie, hulle sal die vuurmaakgoed wees. Daar sal van hulle niks oorbly nie. Hulle sal heeltemal tot as verbrand word. “n Verskriklike en vernietegende einde wag op almal wat teen God in opstand is en verkeerde dinge doen.

Hierteenoor sal die dag van die Here vir die gelowiges ‘n dag van redding, genesing en vreugde wees. “Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vertgemaakte kalwers. Julle sal die goddelose vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige” (Mal. 4:2-3).

Die dag van die Here is die dag waarop hy ingryp. Hy neem die leiding. Hy tree op. Hy doen alles. Dis Sy dag. Op hierdie dag sal die son van redding skyn. Die son wat lig en lewe bied, bied redding en uitkoms. Die donker tyd is verby. Die tyd waarin hulle geleef het, was duister, soos die nag. Nou breek die son deur en die duisternis word verdring. Daar is redding! Die uitkoms is hier. God het gekom.

Dis opvallend dat die son so gebruik word. Die Here is die Heilige en die woord heilig hou ook verband met die son wat skyn. Soos die sonstrale skyn, so skyn die heiligheid van God. Soos mens nie na die son kan kyk sonder om blind te word nie, kan mens nie na God kyk nie: Hy is te heilig. Die son sal nie net redding bring nie, maar ook genesing deur sy strale.

Die gemeenskap was stukkend geslaan. Hulle was verwond deur al die slae en swaarkry. Op die dag van die (3 )Here sal daar vir al die stukkendes genesing kom. Hy sal al die wonde heel…

Daarom is die volgende beeld eintlik so voor die handliggend. Dit volg so logies. As God gered en genees het, is dit dan nie logies dat vreugde sal volg nie? Julle sal vry word en bokspring soos vet gemaakte kalwers.

Wat ‘n pragtige beeld om die vreugde van die gelowiges uit te druk. Almal wat al ‘n klompie goed versorgde kalwers, veral na ‘n verfrissende reënbui sien bokspring het, sal weet dat dit ‘n besondere beeld van uitbundige vreugde is. Die dag van die Here sal ‘n dag van groot vreugde vir Sy kinders wees.

Dit sal so ‘n bron van vreugde wees dat hulle sommer die goddeloses vertrap tot stof. Die beeld van die bokspringende kalwers word hier voortgesit. Dis nie uit wraak dat die gelowiges die goddeloses vertrap nie, maar die vreugde is so groot dat hulle die goddelose tot stof vertrap. So word hier twee beelde gebruik om die ondergang van die goddeloses uit te beeld. Hulle is die vuurmaakhout wat verbrand en hulle beland onder die voete van die bokspringende kalwers en word vertrap. Daar is geen uitkoms of toekoms vir die goddelose nie.

(4 )Die dag van die Here kom. Vir die wat glo, is dit iets om na uit te sien!

Die boek word dan afgesluit met ‘n oproep om gereed te wees vir die komende dag van die Here en met ‘n belofte oor die dag van die Here. Die oproep is duidelik: “Onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en bepalings wat Ek hom by Horeb gegee het vir die hele Israel”(Mal. 4:4).

Die komende dag van die Here noodsaak dit dat elkeen hom voorberei. Hoe kan ons dit anders doen as om die wet van Moses te ontou. Die woord wet, torah, beteken onderrig en word dikwels gebruik om die onderrig van ‘n ouer aan sy kind uit te druk. Die wet of torah is die onderrig van God aan Sy kinders. Hierin vertel Hy wat Hy van ons verlang. Trouens, die vorm warin die wet gegee is, onderstreep dit. By Horeb het God ‘n verbond met Sy volk gesluit en so het Israel die volk van God geword.

Die Tien Gebooie begin dan ook met die woorde: “Ek is die Here jou God wat jou uit die plek van slawerny, uit Egipte, bevry het..” Hiermee sê die Here wie Hy is en in watter verhouding Hy tot die volk staan. Dit kan in verband gebring word met die anvaarding van die koningskap van’n koning.

As die koning sy koningskap aanvaar, dan het hy vir die volk gesê wat hy vir hulle gedoen het. Daarna sê hy wat hy van hulle sal verwag. So volg die gebooie dan as dit wat ons moet doen om aan te toon dat ons die koningskap vanGod aanvaar. Of anders gestel, as ons die gebooie nie onderhou nie, dan gee ons daarmee te kenne dat ons Sy koningskap verwerp.

Die onthou van die wet is egter meer as net in herhinnering roep. Dit beteken dat ons dit moet uitleef in ons daagliske lewe.

Maleagi sluit op treffende wyse af met ‘n troosboodskap wat ook vir ons baie aktueel is. Die dag van die Here kom. Dit sal ‘n verskriklikke dag wees vir die wat nie glo nie. Vir die wat glo, sal dit ‘n groot vreugdedag wees. Wees daarom gereed vir die dag want dit kom binnekort.

Ook in ons tyd kan ons so ‘n dag verwag waarop die Here ‘n einde sal bring aan die onreg wat ons tyd kenmerk…
0 Kommentaar: so far: