POSTED BY Steven Sass on 20:09 under
20 September Patensie doopdiens
·          
 Hoekom is jy gedoop? Wat beteken die feit dat jy gedoop is, vir jou vandag? Maak dit enige verskil in jou lewe? Is ’n bewys van jou doop nie maar net nodig sodat jy belydenis van geloof kan aflê nie? Is jou bewys van lidmaatskap nie baie belangriker nie?

Dis nie hoe Petrus oor die saak gedink het nie. Vir hom was die doop die saak wat sy lesers moes moed gee in ’n tyd waarin hulle baie swaar gekry het.

Wat hier in 1 Pet 3 oor die doop gesê word, is amper te ongelooflik om waar te wees. Hier staan immers dat die doop ons red! Dit is tog nie hoe ons oor die doop dink nie. Dit is immers nie die doop wat ons red nie, dit is tog die Here Jesus wat ons red deur sy kruisdood.

Maar om presies te verstaan waarom Petrus hierdie ongelooflike ding kan sê, moet ons gaan kyk wat die omstandighede was waarin hy hierdie brief geskryf het. Toe Petrus hierdie woorde geskryf het, was die gemeente in ’n geweldige moeilike situasie. Die gemeente is hewig vervolg, sodat ons met reg kan sê dat die geloof werklik vir hulle ’n saak van lewe en dood was. Dit gaan in hierdie gedeelte immers om lyding en vervolging, en dat die gemeente onregverdig beskinder word (vgl. vs.14). Daarby was die gelowiges, anders as vandag, verreweg in die minderheid, terwyl die oorgrote meerderheid van die destydse samelewing ongelowiges was wat meegedoen het aan hierdie vervolging.

Hierdie situasie, waarin die gemeente maar min was in vergelyking met die oormag van ongelowiges, laat vir Petrus dink aan die dae van Noag, toe sake ook min of meer so gestaan het. Ook Noag het feitlik man-alleen gestaan te midde van ’n wêreld van ongeloof. Daarby was hulle, hy en sy huis, net soos die gelowiges in die dae van Petrus, bespot en uitgelag. En in hierdie omstandighede bou Noag die ark en vertrou homself aan God toe. En wanneer die stormwaters kom, gaan Noag en sy gesin in die ark in en vertrou hulleself volledig aan God toe in die bede dat Hy hulle regop sal hou, sal laat uitkom, sal laat leef terwyl die woedende watermassa van God se oordeel die goddelose mense uitdelg.

En net so, sê Petrus, is dit vandag nog. Ons leef in ’n ontaarde wêreld, ’n wêreld wat hom nie steur aan God nie, ’n wêreld waarin soveel mense vir hulleself leef. Jesus het ook daarvan gepraat. Hy het gewaarsku dat dit so sal wees in die laaste dae, net soos in die dae van Noag: mense sal eet en drink en trou en met hulle lewe aangaan sonder om hulle aan God te steur (vgl Matt 24:37). Dís die wêreld waarin Noag geleef het, en dis die wêreld waarin ons vandag leef: omring deur mense wat nie glo nie.


Petrus sê: in só ’n wêreld het jy redding nodig, anders gaan jy onder. Noag het die redding van die ark gehad toe die toorn van God se oordeel die wêreld getref het, en ons het die redding van die doopwaters. Wie homself vrywillig daaraan toevertrou, saam met hulle wat aan hom behoort, soos Noag, en hom sodoende op God verlaat, sal ontdek dat hy of sy oorleef, en voor God en deur God staande gehou word.

Ons teksvers sê: “Die doop is ... ’n gebedsversoek tot God om ’n skoon gewete ...” In die doop vlug ’n mens as ’t ware na God toe, steek jy jou hand na God toe uit soos ’n drenkeling sy hand in die lug opsteek en skree: “Help!” Met die doop erken jy dat jy nie jouself kan red nie, en nie jouself wil red nie; dat jy God nodig het om in hierdie wêreld regop te kan bly staan.

Maar ons kan die woord
περώτημα (21) wat die BDV met “gebedsversoek” vertaal, ook vertaal met “plegtige onderneming” (NIV: a pledge). Dan lui die vers: “Die doop is ... ’n plegtige onderneming/belofte aan God dat jy rein sal lewe ...” Want met jou doop vlug jy nie net na God nie, maar belowe jy ook aan Hom dat jy vir Hom, en net vir Hom, sal leef.

Oor ons almal wat gedoop is, is só ’n belofte gemaak. Ons ouers het dit namens ons gedoen. En toe ons belydenis van geloof afgelê het, het ons hierdie belofte opgeneem en ons eie gemaak.

Jy sien, om gedoop te wees, beteken nie dat jy in ’n luilekkerland ingelyf word waar God alles vir jou doen en jy maar net kan saamry op die soustrein hemel toe nie. Om gedoop te wees, is om ingelyf te wees in die huisgesin van God waar jy al die troos en sorg van God ervaar en beleef, maar ook volgens ander waardes leef as die wêreld.  Waar jy uitstaan tussen mense omdat jy anders is. Waar ongelowiges jou eenkant toe kan skuif en selfs vervolg omdat jy nie inpas in hulle wêreld nie, soos die mense aan wie Petrus hierdie brief geskryf het, maar te goed geweet het.

In só ’n wêreld red die doop jou, want dit roep die bloed van Jesus oor jou lewe. Dit maak jou deel van dié volk vir wie Christus met sy lewe duur betaal het, vir wie Hy die dood oorwin het en opgestaan het.

Daarom wil Petrus ook vir ons kom sê dat dit nie sommer net mooi woorde is om te sê dat die doop red nie. Die doop is iets waaraan ons kan vashou in ons diepste nood, in ons grootste twyfel, in die ergste versoeking, wanneer almal om ons die rug op God draai en ons wil saamsleep – omdat God gedoopte mense vashou en bewaar en red.

Hulle vertel dat Maarten Luther by geleentheid, toe die duiwel met al sy versoekingslis vir hom kom pla het, in groot letters op sy lessenaar uitgekerf het: “EK IS GEDOOP!” Bedoelende daarmee – ek is God s’n. Ek leef vir Hom en skuil by Hom. Hý bewaar my.

Kan jy dit sê? En as jy dit sê, bedoel jy dit? Is die doop ’n anker in jou lewe? Troos die doop jou as jy aan jou kinders dink en die besorgdheid oor jou toeslaan? Is die doop jou laaste troos ook oor jouself ... die feit dat jy gedoop is, dat jou hele lewe ’n bede is tot Hom wat aan die regterhand van God is, dat Hy jou deur alles heen sal vashou en sal red?
0 Kommentaar: so far: