POSTED BY Steven Sass on 20:07 under
1 Februarie 2015 Patensie
Matteus 13: 1-9
Die gelykenis van die saaier/grond
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit  ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het.  Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend.  Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai:

Op die pad, op klipbanke, tussen onkruid en in goeie grond.

Daar gebeur ook vier goed met die saad:

Die voëls pik die saad op die pad op. Die son verskroei die saad op die klipbanke dat dit verdroog. Die onkruid verstik die saad wat tussen dit val. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs.

Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier en die saad, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som die gelykenis op met Sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons  ‘n sleutel wat vir ons verklaar hoekom sommige op Sy boodskap reageer, soos die goeie grond, en ander nie, die slegte grond.

Die vraag is nou, hoekom is die grond ontvanklik?  Dit is na alles die gelykenis van die grond.Aan die eenkant het die ontvanklikheid te make met die voorbereiding van die goeie grond.  Dit is net voorbereide grond wat regtig ’n kans het om vrug te dra. Maar, dit het aan die ander kant ook met die beskerming teen ander invloede: teen die voëls wat pik, teen die klipbanke wat beperk, teen die onkruid wat verstrik, alles toestande wat ’n direkte impak op die draagbaarheid van die grond het. Dit is hoe Jesus dit dan ook vir sy dissipels uitlê. Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

Die grond van die pad: Dui op mense wat die Woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie.  Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.  Dit is wanneer ek nie moeite doen om by ’n beter begrip uit te kom wat die Woord van my vra nie, dat die saad verdwyn. 

Dit gebeur wanneer ek bv. tevrede is met eenvoudige verklarings van ingewikkelde en komplekse goed.  D.w.s. wanneer ek ’n “oppervlakkige Christen” is.  Die Bose roof die saad van die woord uit my hart wanneer ek nie die moeite wil doen om te reflekteer en te reageer op die Woord wat ek hoor nie.  Waar ek dus nie myself inspan om die Woord te verstaan nie, waar ek nie fokus op begrip en onderskeiding nie – en onthou dit is jou keuse, niemand anders gaan dit vir jou doen nie – verdwyn die Woord, neem die Bose dit weg uit jou lewe;  Is dit asof jy dit nooit gehoor het nie. 

Ek kan nie ernstig genoeg beklemtoon hoe ’n uiters groot gevaar dit is nie.  Dit kan met jou hier in die kerk, in die gemeenskap van die gelowiges gebeur.  ’n Lewe wat nie fokus op nadenke en refleksie nie, is ’n lewe wat onvrugbaar bly. 

Die Bose roof die saad van die woord van God uit jou hart uit, as jy nie daarop fokus om dit te verstaan en die waarde daarvan te omhels nie.  “Wie ore het, moet luister.”

Die grond op die klipbanke: Dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, die sogenaamde “mooiweer Christene”.  Hulle hou net  ‘n rukkie.  Belangrik, dit is niemand anders se skuld as hulle eie nie.  Want, die rede daarvoor, sê Jesus, is: “Hulle laat nie toe dat die Woord wortel skiet by hulle nie!

Hoe tragies!  Dit is wanneer jy sit in die kerk of by die huis met jou Bybel, en dit lees, selfs luister daarna, miskien selfs ’n kort gebed bid in reaksie op die boodskap wat jy hoor, maar nie doen wat die Bybel vir jou sê nie.  Dan skiet die Woord nie wortel in jou lewe nie.  Dit is immers hoe volwassenes leer – doen, dink, doen dink.  As jy nie doen wat jy gedink het nie, bly jou denke onvrugbaar.  As jy nie dink oor wat jy gedoen het nie, bly jou lewe eweneens onvrugbaar. 

En dit alles,  vererger as daar verdrukking of vervolging is, as jou gehoorsaamheid iets van jou gaan kos, wanneer jy jou ware Christen kleure moet wys, maar die prys net te groot is.  As die donker wolke saampak en jy die swaarweer van die lewe moet trotseer en aan die Here getrou bly, en jy het nie toegelaat dat die Woord wortel skiet in jou lewe nie, sal jy dit nie maak nie.  Sal jou lewe onvrugbaar bly.  “Wie ore het, moet luister.”

Die grond met die onkruid: Dui op mense wat die Woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, die sogenaamde “materiële Christene”.  Dié waarskuwing slaan na twee kante toe.  Dit raak die armes en die rykes, die sukkelaars en die suksesvolles, die ellendiges en die elite. 

Almal van ons kan potensieel hulleself bekommer oor allerlei dinge.  Almal van ons kan potensieel ons lewe om ons begeertes laat wentel.  Materialisme kom voor onder die rykes sowel as die armes.  Die sug na welstand en welvaart kan egter, sê Jesus, die Woord van God in jou uitdoof, uitkanselleer.  Waar jy nie in afhanklikheid van God werk met jou bekommernisse óf jou begeertes nie, raak die Woord stil;  Is jou lewe onvrugbaar.  “Wie ore het, moet luister.”


Die goeie grond:Dui op mense wat die Woord hoor en begryp en daarom vrug dra.  Hulle is die “vrugbare Christene”.  Hulle doen natuurlik alles wat die ander nie gedoen het nie.  Hulle reflekteer – hulle is nie net “oppervlakkige Christene” nie.  Hulle laat toe dat die Woord wortel skiet by hulle, al is dit vol uitdagings – hulle is nie net “mooiweer Christene” nie.  Hulle fokus nie op hulle bekommernisse nie, en ook nie op hulle begeerte na welvaart nie, maar op God.  Hulle is nie net “materiële Christene” nie. 

Maar, dieper nog as dit, hulle lewe afhanklik van God en vra van Hom dat Hy hulle sal voorberei, sal gereedmaak, sal skoonmaak, sodat hulle vrug kan dra.  Hulle lewe wentel om die bewuste teenwoordigheid van die Here.  “Wie ore het, moet luister.”



HOE KAN EK DUS SORG DAT EK GOEIE GROND IS?
0 Kommentaar: so far: