POSTED BY Steven Sass on 06:24 under
25 Januarie 2015 Patensie
Eksodus 33 :7-23
“Hiers vir jou plek hier by My...”
Ek wou nog nooit eintlik hierdie storie vertel vir iemand nie.... ek was nog altyd selfbewus daaroor en eintlik heetemal te skaam om  enigisins vir iemand te vertel of selfs net daaraan eintlik te dink, wat nog te sê om daaroor te praat van die kansel af.

Die storie gaan oor my wedervaringe  en belewenisse toe ek DESTYDS (dit voel soos gister maar is eintlik al ‘n ewigheid) op Universiteit was, en ek dink sommer nou ook aan al die emosies wat baie van ons ouers op die oomblik het wie se kinders dalk nou op die oomblik ook daar is.

 Dit was seker die beste tyd van my lewe gewees. Ek het regtig die koshuis lewe geniet. Ek was natuurlik in die heel beste koshuis gewees en het elke aspek daarvan letterlik opgeslurp in elke sin van die woord. Dit was regtig een groot opgewondenheid en plesier gewees. Die lewe se realiteite was vêr weg van die Universiteitsgronde af gewees en die gemaklikheid van die studentelewe was ‘n geweldige aantreklike opsie wat ek met albei hande aangegryp het.

Tye wat ons bietjie swaar getrek het, het ons groep sommer see toe ge ‘hike’ op ‘n middag wanneer ons nie klas gehad het of dit ook dalk nie nodig geag het om daai spesifieke dag klas toe te gaan nie, om te gaan kreef en perlemoen duik sodat ons darem die koshuiskos kon aanvul met iets beters of selfs iets anders as ons van die perlemoentjies kon verkoop aan ‘n dosent of koshuisvader. Die studentelewe het my blootgestel aan ‘n verskeidenheid vriende en mense met wie ek tot vandag toe nog bevriend is.... lekker!

Maar omdat ons kursus so vreeslik lank is(ek was al baie dankbaar ook daarvoor en ek wens eintlik dit was selfs langer omdat daar soveel dinge is wat ek nogsteeds nie verstaan van die teologie nie), het dit veroorsaak dat baie van my maats al klaar was met hulle studies  terwyl ek nog moes aanswot aan my tweede en derde grade. Met die gevolg dat baie van my pêlle ook uitgetrek het uit Stellenbosch om met hulle loopbane elders te begin. Al hoe meer het ek begin agterkom dat my kring van goeie maats al hoe kleiner en kleiner word.

Saans was dit nie meer so ‘n grooot groep wat besluit het om allerhande dinge te gaan aanvang of net saam om ‘n vuurtjie in die koshuis se vierkant te sit en gesels en te kuier nie. In my vyfde jaar het dit my ongelooflik getref soos ‘n geweerskoot dat ek alleen was. So asof die partytjie nou verby was en die realiteite van die lewe nou begin inskop het... meeste van my teologiese klasmaats het oor die jare van kursus verander omdat hulle nie meer geroepe gevoel het om dominees te word nie, en ons was maar min wat op die ou end bedienning toe gegaan het. Die wat oor was het intussen getrou, en my Marina was nog ver in Pretoria gewees... ek het geweldig alleen gevoel....

 Die eensaamheid het my stadig bekruip maar vinnig gegryp. Allerhande vrae het natuurlik by my opgekom en ek het ‘n geweldige lewenskrisis beleef, net omdat ek so vreeslik alleen gevoel het. Baie van my klasmaats was ook ouer as ek gewees... en ek het gesukkel om met hulle te kliek. Ek moes uit die koshuis uit want dit het hopeloos te duur vir my pa geword en ek moes bo in die bo-dorp gaan loseer, in ‘n klein enkel kamertjie....ek was bitter alleen gewees, en ek het gesukkel om die alleenheid te aanvaar.
 Die woorde van die bekende liedboekliedjie het een aand by my opgekom ‘nog gebede, nog geween, kan my red Heer U alleen...” En net daar besef ek... ek is mos nie alleen nie! Die Here is by my! Hy het my nie verlaat nie, en Hy is mos my beste vriend, die Alomteenwoordige! Dis nie nodig om die alleenheid te moet aanspreek of te hanteer nie, want God was nog altyd net ‘n asemteug ver weg. Daarom ook dat hierdie woorde van die Here aan Moses ook vir my so baie beteken op hierdie oomblik vanoggend! “Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan”

Te heerlik! Daars plek vir my by die allerhoogste, en Hy nooi my uit om by Hom te kom staan!!! Hy nooi my in, Hy laat my welkom voel. Netso nooi Hy ook elkeen van ons vanoggend met dieselfde uitnodiging, uit Sy hart uit nooi die Ewige God jou ook vanoggend om jou plek, wat Hy net vir jou gereserveer het langs Hom te kom innneem! Wat ‘n wonderlike tema vir ons prediking ook hierdie kwartaal: Kom my kind, hiers plek vir jou hier by My!!!!

Wanneer jy ook dalk voel asof jy heeltemal alleen is, wie weet dalk is daar nogal taamlik mens ein die kerk vanoggend wat juis so voel, moet jy onthou: God sê: “hiers plek vir jou!” Waneer jy voel asof jy nie self die krag meer het vir iets of iemand of die een of ander ding waarmee jy dalk gekonfronteer word, moet jy onthou: “hiers plek vir jou”. Waneer jy dalk teleurgesteld word in iets of iemand en jy dalk voel asof almal teen jou gedraai het, kan jy maar onthou: “hiers plek vir jou”!

Dit is my opregte gebed vanoggend dat elkeen van ons netsoos Moses sal reageer op God se uitnodiging, en God sal gaan opsoek en reg langs Hom gaan staan.... Daar is dalk ook baie dinge wat jy al aan gedink het en aan beplan het wat jy dalk ook al wil doen of aanvang in 2015 (sommige mense praat van nuwejaarsvoormens), onthou dan net, om ook Moses se gesindheid te hê wat hy aan ons en God geopenbaar het in vers 15 : “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laaat wegtrek nie.”

 Voordat jy een tree verder vat in hierdie jaar in, moet jy jouself dit eerlik afvra: “Gaan die Here saam met my/ons?” Mag elkeen van ons  vanoggend vir God opneem op Sy wonderlike uitnodiging, maar mag ons netso ook vir God kan sê: “Here, hier in my lewe/ in my hart/in my huis/ in my drome is daar ook plek vir U!


0 Kommentaar: so far: