16 Augustus 2015
Patensie
Vriende?
3 Johannes:1-15
Ons het vanoggend te doen met ‘n brief. Meer spesifiek is
dit ‘n brief wat Johannes geskryf het aan ‘n kerkleier wie se naam Gaius was,
hoofsaaklik om waardering te betuig vir sy hulp aan ander gelowiges en hom te
waarsku teen Diotrefes.
Vir baie van ons is ‘n brief deesdae maar ‘n skaars ding, en
is dit nie regtig iets wat ons mee veel te doen het seker nie. Die naaste wat
ons dalk aan ‘n brief sou kom is dalk ‘n rekening wat gepos word, of dalk iets
selfs meer onpersoonlik soos ‘n boodskap op facebook, twitter, of ‘n whatsapp
of sms. Dis min dat ons nog vir mekaar briewe sal skryf, wat nog te sê ‘n mooi
persoonlike brief te ontvang.
Hier het ons te doen vanoggend met ‘n persoonlike brief, van
een vriend na ‘n ander, en in die brief is daar sekere momente of punte wat ek
graag wil uitlig as deel van vanoggend se boodskap.
Die eerste ding wat my opgeval het toe ek hierdie brief
gelees het, was dat Johhannes in die eerste vers van Gaius praat as sy vriend vir
wie hy liefhet.... Dis darem ‘n mooi ding om vir jou vriend te kan sê. My
vriend , ek het jou lief. Onmiddelik dink ek dat sulke vriendskappe en liefdes
verklarings selfs nog yler gesaai is as die hele gedagte dat briewe deesdae so
skaars geword het. Sulke vriendskappe soos Johannes en Gaius is netso
skaars.
Die vraag is dus eintlik of jy wel so ‘n vriend het, wat so
iets oor jou sal sê? Of dalk anders gestel:
Het jy vriende oor wie jy so sal praat? Onthou as jy so vir iemand sê
dat jy daardie pesoon liefhet, dan is jy ook besorgd oor sy huidige welstand,
maar ook oor sy toekoms in verband met sy saak met die Here en veral ook die
ewige lewe. So dis nie sommerso om vir iemand te sê dat jy daardie persoon
liefhet nie.
Na my mening is daar regitg nie baie van my gemeentelede wat
sulke goeie vriende het nie, en wat ook nie sulke vriendskappe nastreef en
koester nie... dit is ‘n geweldige groot bron van kommer vir my. Daar is eerder
meer voorbeelde vanwaar mense mekaar ten a kom en slegsê as iets anders. Die
oppervlakkigheid van baie van ons mense se vriendskappe en verhoudings met
mekaar is vir my ‘n bitter pil om te sluk. Dis asof ons, soos so baie ander ongelowige
mense in die wêreld eerder sal wil kyk wat ek uit die ‘vriend’ kan kry as om
vir daardie mens regtig en innig lief te kry.
Soos ons aan lees, sien ons dat Johannes die wens uitspreek
dat dit met Gaius netso goed liggaamlik gaan as wat dit met hom geestelik gaan
(vers 2). Hoe gaan dit met jou vanoggend? Gaan dit met jou lyf netso goed as
wat dit met jou siel gaan? Is jy geestelik netso gesond soos wat jou liggaam
is? Dis nogal ‘n baie diep vraag om jouself vanoggend af te vra. Ek dink dat
dit met baie van ons eerder ‘n geval sal wees dat ons liggame gesond is, maar
ons siele, ons gees, is natuurlik ongelukkig ‘n heeltemal ander storie....
Die volgende vers was vir my netso ‘n treffende ding om oor
‘n vriend te kan sê: “ Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou
trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe...Niks verskaf my
groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe nie”.
Johannes sê eintlik
hier dat hy hoor dat Gaius in Jesus leef en dat daar ander mede gelowiges na
hom toe gekom het en vertel het hoe mooi Gaius in Jesus se voetspore loop. Onthou
dat ons mos nou al weet dat Jesus die waarheid is, daarom kan ons duidelik hier
sien dat dit is waarvan Johannes hier praat, naamlik Gaius se mooi lewe wat hy
in Jeses het.
Nou ontstaan daar natuurlik die vraag: As iemand oor jou
vanoggend iets moet sê, of as iemand van jou moet praat, of anders gestel as
iemand oor jou moet getuig.... wat sal hulle van jou kan sê? Sal jou vriende
ook so van jou kan praat? Dat jy in Jesus leef? Dat dit met jou geestelik netso
goed gaan as wat dit met jou liggaamlik gaan? Wat dink jy sal hulle van jou kan
sê?
Dis tog jammer dat
baie van ons vanoggend onseker is hieroor. Baie van ons is dalk bang op die
oomblik vir wat ander mense oor jou sal sê, veral hoe daardie dinge wat gesê
kan word op papier sal lyk...Dinge lyk mos maar baie keer nog erger as dit nog
op papier ook is.
Soos ware vriende dan ook doen, gaan Johannes voort met die
brief om ook vir sy maat te waarsku teen slegte mense en hulle moontlik slegte
invloed op hom. Johannes waarksu en praat van ‘n spesifieke persoon genaamd
Diotrefes.
Diotrefes was basies ‘n skynheilige skelm wat voorgee wat hy
nie waarlik was nie en wat vreeslike verskuilde agenda’s gehad het. Johannes
draai nie doekies om met sy waarskuwing nie en waarsku sy maat baie duidelik
teen Diotrefes. Op hierdie punt dink ek sal dit goed wees as elkeen van ons
bietjie kan nadink oor die moontlike slegte invloede van sekere mense op ons
eie lewens, en veral ook op ons geestelike lewens.
Is dit nie dalk die geval dat jy dalk gekies het om die
Diotrefese van hierdie wêreld te kies as jou vriend/e nie? Dis dalk hoekom jy
op die oomblik een is van baie in die vallei wat nie regtig ware
Christenvriende het nie. Dis dalk jou eie slegte keuses wat maak dat jou
vriende jou eerder aftrek as oplig, dat hulle jou eerder negatief stem en
beinvled as positief. Dis dalk ook die rede hoekom dit met jou so geestelik
sleg gaan op die oomblik: Jy het nie die regte viende nie! Of dalk nog erger:
Jy is dalk nie die regte Christenvriend vir jou maats nie. Jy is dalk die
Diotrefes in hulle lewe....
Die Here wil hê dat mense mooi goed oor jou kan sê. Hy wil
ook hê dat jy eerder meer mense as minder in jou lewe sal hê oor wie jy sulke
mooi dinge soos Johannes oor Gaius kon sê. Kies vanoggend om die Here te
gehoorsaam, en te luister as Hy jou aanspreek oor die vriende wat jy op die
oomblik kies om in jou vriendekring te wees. Spreuke sê so mooi: “Yster slyp
Yster, maar vriende vorm mekaar” en
“Vriende is vriende vir altyd, as die Here hulle Here is.”
Mag elkeen van ons die regte keuses maak...
Post a Comment